Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mboweni bewus van taksbesware

Sowat 140 jaar gelede, skaars drie jaar nadat Sir Theophilus Shepstone Pretoria met ’n paar polisiebeamptes te perd binnegery en die ou Transvaal (Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en ’n deel van Noordwes) geannekseer het, het die Britse bevelhebbers maniere gesoek om hul besetting van die binneland te finansier.

Willie Spies

Hulle het benewens die gewone inkomstebelasting, ’n addisionele heffing op ossewaens ingestel en gevorder. Oor die ou Transvaal heen het ’n belasting­rebellie ontwikkel en het boere geweier om die bykomende heffings – of dan tolgeld – op hul ossewaens te betaal.

Piet Bezuidenhout, ’n boer uit die noordweste, het ook besluit genoeg is genoeg en het geweier om die addisionele belasting te betaal. Die Britse bevelhebbers het op sy ossewa beslag gelê en landdros Goetz van Potchefstroom sou dit op 11 November 1880 opveil ter delging van die agterstallige belastingheffing.

Op die dag van die veiling het Piet Cronjé met sowat 100 man uit die distrik opgeruk, die veiling ontwrig, die wa weggesleep en dit aan Bezuidenhout terugbesorg. Britse soldate is na Potchefstroom gestuur om die situasie in bedwang te bring, maar die rebelle het hulle ore aangesit.

’n Maand later het die informele regering wat deur die Boere byeengeroep is ’n proklamasie uitgevaardig waarin hulle hulself verklaar het tot die wettige owerheid van die ou Transvaal. Die proklamasie moes in Potchefstroom gedruk word en die eerste skote van wat later as die Eerste Vryheidsoorlog bekend sou staan, is daar geskiet.

Ná twee maande van sporadiese gevegte en veldslae sou die oorlog sy hoogtepunt bereik op Majuba, ’n bergspits op die grens tussen die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Soos die geskiedenis gewys het, verg dit uiteindelik een omgekrapte “Piet Bezuidenhout” om die spreekwoordelike appelkar om te gooi.

’n Britse mag onder genl. George Pomeroy Colley was ingegrawe op die berg, wat hulle as ’n veilige vesting beskou het, maar in die nag van 26 Fe­bruarie en die vroeë oggendure van 27 Februarie 1881 het die Boerekrygers die bergpiek bestyg, die Britse soldate verras en vernietigend verslaan. Colley en 91 van sy soldate het gesterf.

Die Slag van Majuba, wat vandag 139 jaar gelede plaasgevind het, was ’n vernederende nederlaag vir die Britse bewind in Suider-Afrika.

’n Maand later sou ’n vredesverdrag by O’Neill’s Cottage geteken word en in die maande wat gevolg het, sou Transvalers hul selfbestuur terugkry. ’n Status wat behoue sou bly tot met die vernietigende Tweede Vryheidsoorlog, waarin duisende Britse soldate en Boere-mans, -vroue en -kinders twee dekades later sou omkom.

Woensdag het Tito Mboweni, minister van finansies, sy jaarlikse begrotingsrede in die parlement gelewer. Te midde van ’n stagnante ekonomie en immer ontwykende groei, ervaar die belastinggaarder toenemend dat belasting wat wel gevorder word telkens minder is as wat begroot word of voor gehoop word.

’n Informele opstand teen immer stygende belastings was dus reeds sigbaar uit dalende invorderings van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Daarom kan Mboweni se begrotingsrede, waarin hy weggestuur het van verdere belastingverhogings en die gordel van staats­besteding stywer vasgetrek het met daadwerklike besnoeiings, met waardering verwelkom word.

Soos die geskiedenis gewys het, verg dit uiteindelik een omgekrapte “Piet Bezuidenhout” om die spreekwoordelike appelkar om te gooi.

Die begroting, waarin die minister van finansies van ’n sosialistiese regering die ongewone ding (vir ’n sosialistiese staat) gedoen het om te bespaar eerder as om verder te belas, wys dat Mboweni deeglik daarvan bewus is.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Willie Spies  |  Taks  |  Begrotingsrede2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.