Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mboweni, knip die SAL se vlerke

Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe. Só sê die Prediker. Ook in die politiek het jy vlieë wat maar eerder met ’n sterk insekdoder behoort gespuit te word.

Een van die staatsentiteite wat soos ’n zombie is, is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Die SAL verdien om van die radar af te verdwyn. Dis nou een semistaatsinstelling wat gulsig geld opslurp en wat jaarliks vet gevoer word met belastingbetalers se geld.

Die SAL het nou al hoeveel keer vir ’n reddingspakket gevra en elke keer word dit maar net toegestaan.

In die afgelope 24 maande het die SAL ’n reddingspakket van R10 miljard van die regering gekry – my en jou geld – maar dit lyk asof dit in ’n bodemlose put afgegooi word.

Kom ons loop ’n bietjie terug op die spoor van die SAL en kyk of dit regtig die moeite werd is om nog enigsins hierdie bankrot lugdiens in die lug te hou. Hier is die feite:

In die 2014-’15-boekjaar het die SAL ’n verlies van R5,6 miljard gely. In die 2015-’16-boekjaar was dit nog R5 miljard en verlede jaar se syfers wys dat hulle verder gebloei het en nog R5,7 miljard in die rooi was.

Volgens die SAL se eie berekeninge gaan hierdie boekjaar nog ’n verlies van miljarde wys. Trouens, die SAL gaan tot in die 2020-’21-boekjaar sukkel om uit die rooi te kom.

Die voorspelling is dat die belastingbetalers in die volgende drie jaar nog ’n verdere R21 miljard aan reddingspakkette aan die SAL sal moet gee. Deur hul onbeholpenheid en onbetroubare diens het hulle ook die dienskontrakte met twee lugdienste verloor, wat die kalf nog dieper in die put afstoot.

Tito Mboweni, minister van finansies, het hom die gramskap van die ANC-mandaryne op die hals gehaal toe hy by ’n beleggingskonferensie in Londen die vinger op die seerplek gelê het en voorgestel het dat die SAL sy deure moet sluit.

Dit is wat goeie maatskappybase doen met ondernemings wat jaar ná jaar maar aanploeter en net geld opslurp. Hulle sluit niewinsgewende filiale of verkoop dit.

Maar die ANC sien nog die SAL as ’n ontwikkelende besigheid. Goeie aarde!

Dis mos nie asof die SAL 22 jaar gelede op die been gebring is nie.

Hul diens is vrot en hulle kan nie meer met die voorste lugdienste in die wêreld saamgesels as dit by korporatiewe bestuur kom nie.

Die SAL is lankal nie meer die voorste lugdiens nie. Hul diens is vrot en hulle kan nie meer met die voorste lugdienste in die wêreld saamgesels as dit by korporatiewe bestuur kom nie.

Die SAL was soos ander semistaatsinstellings ook in die visier van die staatskapers.

Dink maar hoe ’n Zuma-sikofant soos Dudu Myeni probeer het om die Guptas tegemoet te kom met internasionale vlugroetes. Sy het eiehandig die SAL verder uitgekalwe deur obsene salarisse aan die SAL se uitvoerende hoofde te betaal.

Waar het jy al ooit gehoor ’n instelling sukkel om kop bo water te hou, maar betaal sy finansiële hoof R900 000 per maand! Ja, per maand. En sy werk is om die SAL weer finansieel op sy voete te kry.

Het dit gebeur? Nee. So wat doen jy as jy sien jy gaan misluk? Jy kom maar weer met die bedelbakkie na die staande komitee oor openbare rekeninge en vertel die ou afgesaagde storie dat as jy soveel miljard weer kan leen, sal jy wins wys teen so en so ’n tydperk. Kom daardie ooreengekome tydperk, het jy allerhande verskonings en bedel weer van vooraf.

  • Dis tyd dat die SAL geprivatiseer word, want daar is kundiges wat hierdie lugdiens weer winsgewend kan maak. Maar hou dit asseblief weg van die gulsige hande van die kaders. Maarman is die eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Sal  |  Rubriek  |  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.