
Jana Luther
‘Tee”, “kaal koffie”, “koffie sonder ketel”, “Bolandse kookwater” . . . Betekenisontwarring by die eerste bring my by ons “nasionale sopie”: “die ruggraat van die wynbedryf”; die karperd wat glo menigmaal die wa deur die drif trek, van deftige klubs tot gewone huise; die bar in De Aar tot die sjebien op die hoek.
Die kuns van brandewyn stook – eers as medisyne – kry Europa van die Arabiere, die Arabiere van die Egiptenare. Van Latyn se “aqua vitae”; Frans se “eau-de-vie”; Afrikaans se “akwaviet”, “akkawieta” en “akkamadiewie” tot Duits se “Lebenswasser” blyk die medisinale waarde van dié “lewenswater”. Van die Duitsers se “Branntwein”, in Engeland as “brand wine” en in Frankryk as “brandevin” verkoop, het “Brannt-” oorspronklik die gegiste vrugte- of groentesap aangedui wat gebrand, gedistilleer of gestook is, asook letterlik die smaak daarvan.
Dat brandewyn, van wyn gestook, verouder kan word, is in die 17de eeu ontdek: Toe matrose die Franse stadjie Cognac se akwaviet versmaai, bly die stooksel van niewatwonderse druiwe op ’n keer lank in eikevate lê. Toe dit getap word, het die helder vloeistof tot amber verkleur en is die brandsmaak wonderbaarlik sag op die tong.
In 1672 word op ’n Hollandse skip in Tafelbaai die eerste brandewyn van Kaapse druiwe gedistilleer. Toe die Voortrekkers die pad binneland toe vat, dra elke wa sy vaatjie saam, want van ons grootjies se boererate is brandewyn die hart: met tiemie getrek vir aambeie, met eierwit vir bedsere, met heuning vir brongitis . . .
Van Suid-Afrikaners se voorliefde vir brandewyn getuig die WAT in 15 boekdele. Hoe lyk dit met ’n alsie, anysie of boegoetjie?
Van Suid-Afrikaners se voorliefde vir brandewyn getuig die WAT in 15 boekdele. Hoe lyk dit met ’n alsie, anysie of boegoetjie? Dalk ’n doppie – of ’n nippie (kwartbotteltjie) – bloekom-, gemmer-, kaneel-, kanfer- of naeltjiebrandewyn? Van Nederland kom “boeremeisies”, brandewyn met appelkose of amandels, en “boerejongens”, met rosyntjies. “Kaapse jongens”, korrelbrandewyn, kry ryp hanepoot en suiker.
Onder die benamings vir brandewyn tel “blouperd”, “brandvoetjie”, “domkrag”, “doringdraad”, “hardehout”, “kieliewater”, “kragwater”, “kromhoutsap”, “kwaaiwater”, “lawaaiwater”, “tiermelk”, “vuurwater”, ’n “afsakkertjie” of “aposteltjie”.
Troetelname is “Klippies” of “Wekkertjie”, vir die bottel met ’n prent van ’n horlosie daarop, of “Moses-in-die-mandjie” vir een met ’n rafia-omhulsel.
Vandag word “brandewyn” in Suid-Afrika in potketels gedistilleer (in kolomdistillasie elders) en vir minstens drie jaar, dikwels langer, in eikehoutvate verouder. Vir ander, kleurlose jong stooksels van vrugte of groente word “blits” – “witblits”, “wittetjies”, “boerblits”, “boerboel”, “hakiesdraad”, “kettingblits” – en “mampoer” gebruik. Witblits word tipies van druiwedoppe gestook, mampoer van veldvrugte, soos maroelas, mispels of moepels, of van perskes of lemoene.
Lewenswater? Duiwelsdrank? Brandewyn is veel interessanter as net brannas en Coke.
- Luther werk mee aan die WAT.