Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Méér as ’n Gupta-projek

Staatskaping is ’n projek wat nie tot die Gupta-familie beperk is nie, maar eintlik lank reeds vervat is in die ANC se amptelike beleid, skryf Leon Schreiber.

Oudpres. Jacob Zuma het oor die jare die gesig geword van staatskaping, maar staatskaping is eintlik toe te skryf aan ANC-beleid en nie net die gevolg van individue se dade nie, argumenteer die skrywer. Foto: Foto24

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het oor die afgelope paar weke begin om die dieper waarhede oor staatskaping in Suid-Afrika bloot te lê.

Die realiteit wat ons nou by die kommissie sien afspeel, is eenvoudig: staatskaping was nooit ’n projek wat deur die Gupta-familie en ’n paar skurke in die regering uitgevoer is nie. Die getuienis voor regter Zondo bewys dat staatskaping inderwaarheid die leidende ideologie is van die politieke party wat Suid-Afrika reeds vir die afgelope 27 jaar wanbestuur.

Die twee mees vername beleide wat uitvoering gee aan die ANC se ideologie van staatskaping is kaderontplooiing en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Hierdie twee beleide is die “goue draad” wat al die getuienis saambind wat oor die afgelope twee en ’n half jaar voor adjunkhoofregter Raymond Zondo gelewer is.

Al die misdrywe wat tot dusver deur die kommissie blootgelê is – van die manipulasie van die Staatsveiligheidsagentskap om joernaliste om te koop en die DA-regeerde Wes-Kaap te destabiliseer, tot die neutralisering van die parlement om die ANC te beskerm en die aanstelling van ANC-lojaliste in alle senior posisies in die staat en by staatsbeheerde entiteite – het gebeur omdat die ANC se beleid van kaderontplooiing die Grondwet omseil deur aan die party die mag te gee om aanstellings te maak.

Geen skeiding tussen party en staat

Staatskaping, insluitend die beweerde misdade wat deur die Gupta-familie gepleeg is, sou nooit moontlik gewees het as die ANC nie die mag gehad het om lojaliste in magsposisies aan te stel nie.

Die enigste rede waarom Brian Molefe, Matshela Koko, Hlaudi Motsoeneng en Tom Moyane beheer kon neem van die land se belangrikste staatsinstellings, is omdat die ANC se kaderontplooiingskomitee die mag het om amptenare aan te stel op grond van hul lojaliteit aan die ANC, eerder as op grond van meriete.

Paragraaf 197 (3) van die Grondwet maak dit duidelik dat “geen werknemer van die staatsdiens . . . begunstig of benadeel [mag] word slegs omdat die persoon ’n bepaalde politieke party of saak steun nie”.

Kaderontplooiing het nie net die lyn laat vervaag wat veronderstel is om die party van die staat te skei nie. Dit het die lyn uitgevee.

Tog is dit presies wat kaderontplooiing reeds vir meer as twee dekades lank bewerkstellig. Die beleid is uitdruklik ontwerp om mense te begunstig wat lojaal is aan die ANC, deur hulle aan te stel in magsposisies.

Op hul beurt word daar van hierdie lojale kaders verwag om hul mag te misbruik om die ANC se belange te beskerm en te bevorder.

Kaderontplooiing het nie net die lyn laat vervaag wat veronderstel is om die party van die staat te skei nie. Dit het die lyn uitgevee.

’n Bose kringloop

Maar dit is wanneer kaderontplooiing met SEB saamgevoeg word dat die volle verwoestende uitwerking van die ANC se ideologie van staatskaping duidelik word.

Nadat ’n lojale kader in ’n posisie ontplooi is, maak hulle gebruik van die meganisme van SEB om te verseker dat staatskontrakte toegeken word aan sogenaamde “bemagtigingsvennote”.

Die kaders gebruik dan die opbrengste van hierdie tenders, die waarde waarvan dikwels doelbewus opgeblaas is, om geld terug te kanaliseer na die party wat hulle aangestel het – terwyl hulle natuurlik ook van die buit hou om hulself te verryk.

Die gevolg is ’n bose kringloop wat besig is om Suid-Afrika te vernietig.

Dienslewering stort ineen omdat kaders eerder as bekwame en professionele amptenare aangestel en bevorder word. Dienslewering verswak verder en korrupsie skiet die hoogte in omdat staatskontrakte opgeblaas word en toegeken word aan SEB-“vennote” wat die geld kanaliseer na die politieke elite en nie die dienste lewer waarvoor hulle gekontrakteer word nie.

In gevalle waar hierdie korrupsie wel ontbloot word, word enige poging om verantwoordbaarheid mee te bring deur ANC-kaders in die parlement gekortwiek, sodat die bose kringloop nie onderbreek word nie.

Leon Schreiber
Verwoestende klimaks

Die waarheid is dat die ANC nooit hul verbintenis tot staatskaping weggesteek het nie. So lank gelede as 1997 het Joel Netshitenzhe die magnum opus gepubliseer wat die ideologiese fondament gelê het vir die vernietiging van Suid-Afrika se staat en ekonomie.

In ’n artikel wat gepubliseer is in die ANC-joernaal Umrabulo, het Netshitenzhe verklaar dat die ANC van plan was om “alle hefbome van mag onder die beheer van die nasionale bevrydingsbeweging te bring: die weermag, die polisie, die burokrasie, intelligensieagentskappe, die howe, staatsinstellings en agentskappe soos regulatoriese instellings, die openbare uitsaaier, die sentrale bank, ensovoorts”.

Met hierdie paragraaf het Netshitenzhe die ANC se visie vir Suid-Afrika geartikuleer as ’n land waar alle mag gekaap sou word deur ’n dominante politieke elite.

Die hele ANC het hierdie plan entoesiasties as amptelike beleid aanvaar by die 1997-Mafikeng-konferensie.

Tydens die daaropvolgende dekades het die ANC Netshitenzhe se visie meedoënloos uitgevoer. Maar die kombinasie van kaderontplooiing en SEB sou eers vanaf 2013 ’n verwoestende klimaks bereik toe die ANC ’n nuwe voorsitter vir die kaderontplooiingskomitee aangestel het: Cyril Ramaphosa.

Ramaphosa se rol

Tussen 2013 en 2017 het Ramaphosa persoonlik die proses bestuur wat vulgêre kriminele dwarsdeur die staat ontplooi het.

As die voorsitter van die kaderontplooiingskomitee was dit Ramaphosa wat die staat aangesê het om almal van Molefe tot Motsoeneng aan te stel om sodoende die ANC se houvas op die staat te verstewig.

Behalwe vir die sentrale rol wat hy gespeel het in die ontplooiing van diewe om die staat te kaap, is Ramaphosa ook ’n argitek van die korrupsie en agteruitgang wat deur SEB veroorsaak is.

Alhoewel dit dalk ongemaklik mag wees vir sekere mense om te erken, sou Jacob Zuma en die Gupta-familie nooit hul misdrywe kon pleeg sonder Ramaphosa se aktiewe hulp as hoof van kaderontplooiing nie.

Behalwe vir die sentrale rol wat hy gespeel het in die ontplooiing van diewe om die staat te kaap, is Ramaphosa ook ’n argitek van die korrupsie en agteruitgang wat deur SEB veroorsaak is.

As ’n SEB-miljardêr wat sy politieke konneksies gebruik het om skatryk te word, is hy nie net ’n vername begunstigde van die beleid nie.

Ramaphosa is ook ’n uitgesproke aktivis daarvoor om SEB selfs verder te verskerp, soos weer eens bewys word deur sy onlangse aandrang daarop dat ondernemings in die toerismesektor slegs gehelp sou word as die eienaar die “korrekte” velkleur het.

Hou maar dop hoe daar nou skielik hordes “toerismeondernemings” opduik wat toevallig in besit is van ANC-kaders.

Geen ongeluk nie

Indien ons werklik ernstig daaroor is om staatskaping met wortel en tak uit te roei, is dit hoog tyd om te erken dat die ANC se beleide van kaderontplooiing en SEB die fundamentele oorsaak is van Suid-Afrika se agteruitgang.

Ons moet erken dat die Guptas net een deel uitmaak van ’n veel groter staatskapingsprojek en dat geen van hul misdrywe moontlik sou wees sonder kaderontplooiing en SEB nie.

En ons moet wegdoen met die idee dat ’n paar geïsoleerde skurke bloot opgedaag het en sommer net so R1,5 duisend miljard by Suid-Afrika se mense gesteel het.

Staatskaping was nie ’n ongeluk nie. Staatskaping was nog altyd die doel van die ANC. Hoe gouer ons erken dat die ANC en sy verrotte ideologie die probleem is, hoe gouer kan ons almal – Zuma tot Ramaphosa – aanspreeklik hou vir die aanvullende rolle wat hulle gespeel het in staatskaping.

En hoe gouer kan ons die harde werk begin om die staat te bevry van hul giftige tentakels.

  • Dr. Schreiber is ’n DA-LP en die party se woordvoerder vir staatsdiens en administrasie.
Meer oor:  Staatskaping  |  Menings  |  Cyril Ramaphosa  |  Stemme  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.