Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meer as net alma mater
Grafika: ISTOCK

Dis moeilik om jonk te wees. Dit klink dalk na ’n teenstrydigheid, maar in dié tyd van die wêreldgeskiedenis is dit uiters uitdagend om as ’n jong mens op die punt te staan om ’n loopbaan te betree.

Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is op ’n historiese hoogtepunt en die groep wat die ergste getref word, is jong werksoekers, by wie die werkloosheidsyfer op 63,3% staan.

Daar is ook toenemende bewyse dat dié groep swaar getref is deur Covid-19 en dat dit hulle angstiger en meer gestres en depressief laat as enige ander ouderdomsgroep. Een rede hiervoor – en dis in verskeie internasionale studies bewys – is die spanning wat veroorsaak word deur afstandsonderrig en die afwesigheid van persoonlike kontak.

Maar die kern van jong mense se angs en vrese lê baie dieper. Volgens navorsers van die Stanford-Universiteit verskil die jeug se doelwitte en verhoudings omdat hulle tyd anders ervaar as ouer mense.

As die persepsie bestaan dat daar baie tyd voorlê, is mense geneig om op langtermyndoelwitte te fokus, soos om jou vir ’n loopbaan te kwalifiseer. Dis doelwitte wat emosioneel uitputtend kan wees. Ouer mense beskou hul tyd dikwels as beperk en fokus daarom op doelwitte wat positiewe uitkomste kan hê en aktiwiteite wat hulle goed laat voel.

In die huidige tydsgewrig word jong mense se doelwitte deurlopend verwring omdat onderrig kort-kort onderbreek of ontwrig word en werksekerheid verskraal. Boonop het jong mense ’n groter behoefte aan sosiale interaksie, wat moeiliker raak te midde van ’n pandemie.

Universiteite het daarom ’n belangrike rol te speel om jong werksoekers te ondersteun – iets wat in ’n pandemie-omgewing baie uitdagend is. Dit sluit in om uit te reik na eerstejaars.

Seremonies en rituele

Dis menslik om waarde en betekenis te heg aan seremonies en rituele. Ons wil spesifieke mylpale en oorgange in ons lewe beleef, maar die pandemie het ons ongelukkig van talle van dié geleenthede beroof.

Dink veral aan die matrieks van 2020, wat so baie van die rituele en seremonies in hul finale skooljaar moes opoffer. Vir baie van hulle is hul eerste jaar op universiteit nét so ’n antiklimaks, met tradisionele en gewilde massa-aktiwiteite wat weens die inperkings gekanselleer of aanlyn verskuif is.

Die oriëntering van eerstejaarstudente bly ’n kritieke aspek van die oorgang na tersiêre studie en as dit doeltreffend gedoen word, lê dit ’n stewige grondslag vir leer, ontwikkeling en sukses. Dis veral toepaslik in Suid-Afrika, waar sowat 70% van studente die eerste in hul familie is wat aan ’n hoëronderwysinstelling studeer.

Eerstegenerasie-studente is gewoonlik minder betrokke by die kampuslewe en het minder sosiale en finansiële ondersteuning.

Die pandemie het ’n konteks geskep wat onvoorspelbaar, ingewikkeld en onseker is en wat dit vir studente uiters uitdagend maak om aan die kampus-aktiwiteite deel te neem.

By die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ons oriëntering aangepas by die nuwe omgewing, maar ons skep ook geleenthede vir holistiese ontwikkeling, soos eweknie-ondersteuning om isolasie die hoof te bied. Dit neem talle vorme aan –virtueel, maar interaktief.

Aanlyn leer gaan ’n groot en belangrike deel van ons onderrigmodel bly, selfs ná die pandemie. Maar dit kan nooit kontakonderrig vervang nie.

Die digitale toekoms benadruk die belangrikheid van vaardighede wat nooit deur masjiene vervang kan word nie, soos leierskap, empatie, kritiese denke en kreatiwiteit. Maar om dié “menslike vaardighede” te ontwikkel, het jy menslike interaksie nodig.

Lewenslange leer

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) het vroeër vanjaar ’n verslag uitgereik waarin ’n beroep op regerings, ondernemings en opvoedkundige instellings gedoen word om te belê in die opleiding van die bestaande werkmag. In die verslag word uitgewys dat daar ’n groot verskil is tussen die bestaande vaardighede van mense in die werkplek teenoor die vaardighede wat nodig gaan wees om in die volgende dekade werk te skep.

Wat vereis word, is die verkryging van relevante kennis vir nuwe beroepe – spesifiek digitale vaardighede, kritiese denke en kreatiwiteit. Dit is dikwels sulke vaardighede wat mense veelsydiger, meer aanpasbaar en veerkragtiger maak.

Prof. Francis Petersen, UV-rektor. Foto: Deon Raath

Universiteite het hierin ’n rol te speel deur nie net ’n tydelike stilhouplek vir studente te wees in hul voorbereiding vir ’n loopbaan nie, maar ’n instelling waar jy kan inskakel vir lewenslange leer.

Dit verg samewerking met bedryfsorganisasies om seker te maak daar word in opleidingsbehoeftes voorsien. Dit sal nie noodwendig heeltydse studie wees nie, maar kort kursusse wat aanlyn of deur kontakonderrig gedoen kan word deur mense wat in verskillende stadiums van hul loopbaan is en teen hul eie pas kan leer.

By die UV het ons die inperking gebruik om ons aanbod van kort kursusse uit te brei met presies dié doelwit in gedagte. Ons het ook bedryfsadviesrade op die been gebring om op die hoogte te bly van veranderinge in sektore om kursusse deurlopend aan te pas sodat dit relevant kan bly.

Dit is duidelik dat universiteite se verhoudings met studente beduidend gaan verander in ’n lewenslange verbintenis. Universiteite kan nie meer net ’n “alma mater” wees wat tot iemand se verlede behoort nie, maar word eerder ’n deurlopende reisgenoot op die pad na sukses.

  • Prof. Petersen is die rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Wef  |  Francis Petersen  |  Matrieks  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.