Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meer nodig as ‘objektiwiteit’
Johannes Froneman

Ek lees nou die dag hoe ’n joernalis na homself verwys as “hierdie skrywer” wat ’n middag in ’n kuns­tenaar se ateljee deurgebring het.

Dit verleen groter geloofwaardigheid aan sy grafskrif oor haar; hy was immers by geleentheid daar by haar. Maar waarom die gebruik van die derde persoon? Daardie skim wat nie ’n ek is nie. Amper soos Jacob Zuma wat na homself as “Zuma” verwys.

Dit is ’n kwaal wat lank, lank gelede in die joernalistiek ingesyfer het. Dalk in reaksie op die oordrewe subjektiwiteit 100 jaar of wat gelede. Toe word “objektiwiteit”, op spoor van ’n akademiese nuk, aangegryp as die antwoord. Sodoende verloor die joernalistiek toe ’n klomp menslikheid.

“Objektiwiteit” word toe die bepalende norm van “goeie” joernalistiek. Hoe die idee so algemeen geword het, weet ek nie. Maar wanneer ek eerstejaarstudente meermale gepols het oor wat “goeie” joernalistiek dan sou wees, het hulle dikwels geantwoord: “Objektiwiteit”. Amper asof dit met moedersmelk ingekry is. Op skool is mediastudie steeds nie ’n verpligte vak waar dié wanopvatting reggestel kan word nie.

Dit is waarom gebruikers van die digitale media so verward is. Hulle het nooit die nuanses van die media geleer nie en word nou gekonfronteer deur ’n massa inhoud wat uit verskillende bronne oor hulle spoel.

Want as objektiwiteit beteken neutraliteit, is dit ’n valse strewe wat regte mense nie kan bereik nie.

Die mees katastrofale reaksies is die klakkelose aanvaarding van álles wat daar verskyn. ’n Tweede, ewe gevaarlike, reaksie is om alles as “fopnuus” af te maak. Dan word die hoofstroommedia sommer oor dieselfde kam geskeer as die werklike fopnuus en subjektiewe gebrabbel op Facebook en Twitter.

Teen hierdie agtergrond word teruggegryp na die ou staatmaker, “objektiwiteit”, maar dit bied geen oplossing nie. Want as objektiwiteit beteken neutraliteit, is dit ’n valse strewe wat regte mense nie kan bereik nie. Terme soos akkuraatheid, gebalanseerdheid en onafhanklikheid klink vir my soveel duideliker, hoewel dit ook nie maklik is om te bereik nie.

Dit ontken ten minste nie die inherente subjektiwiteit van die joernalistiek nie. Trouens, deur jou subjektiwiteit te erken, kan jy dit beter bestuur, na gelang van die genre waarin jy skryf. So kan niemand ontken dat ’n nuusberig gestroop moet word van die joernalis se persoonlike mening oor die saak nie. Jou subjektiwiteit moet met opset teengewerk word. Dit doen jy deur verskillende perspektiewe in ’n berig op te neem. Watter feite jy eerste plaas of die meeste prominensie aan gee, bly egter ’n subjektiewe saak wat bepaal sal word deur die betrokke publikasie se voorkeure.

Die berig moet in geheel akkuraat wees, maar dan ook kontekstueel akkuraat. Daarmee word bloot bedoel dat feite glad nie onskuldige, neutrale gegewens is nie. Hul betekenis word grootliks deur die situasie bepaal. Kortom, waar en wanneer iets gebeur, is nie ’n neutrale ruimte nie. ’n Goeie berig neem dit alles in ag.

Maar nou is die joernalistiek veel meer as die skryf van nuusberigte. Die talle tipes of genres sluit ook artikels of rubrieke in wat perspektiewe op sake gee. Die basis moet steeds goeie feite wees, maar die skrywer interpreteer die feite, plaas dit in groter konteks en bied dit as ’n persoonlike perspektief aan. Dit oriënteer (hopelik) die leser in ’n verwarrende wêreld.

Hou ons dit in ag, kan ons die media met groter onderskeidingsvermoë gebruik. En dit sluit vanselfsprekend die sosiale media in. Ons lewe immers in en deur die media – deesdae ook die sosiale media, wat in jou handpalm gestalte kry en ontsluit moet word.

Meer oor:  Johannes Froneman  |  Joernalis  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.