Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meerderheid Suid-Afrikaners is immigrante

Die veelseggende titel van Martin Luther King jr. se boek Where Do We Go from Here: Chaos or Community? spook by my.

Nadat Suid-Afrika in 2008 geruk is deur xenofobiese aanvalle, wou ’n mens hoop dat ons aanbeweeg en beter verdraagsaamheid ontwikkel het. Maar helaas.

Die redes vir die nuwe uitbarsting van geweld teen vreemdelinge is die afgelope tyd herbesoek en stofgetrap.

Waarom is dit so moeilik vir Suid-Afrikaners, gegewe ubuntu, om vreemdelinge in ons midde te verwelkom? Om dié vraag te beantwoord moet ons eers ’n stappie terug gee.

Die Afrika van vandag het ’n hartseergeskiedenis. Neem maar sy grense as voorbeeld. In 1885 het Otto von Bismarck diplomate van 16 Westerse lande genooi om in Berlyn byeen te kom om Afrika te verdeel. Die grense wat toe oor ses maande getrek is, dikwels kunsmatig, lyk deesdae grootliks nog so. Mense wat saam hoort, is verdeel, en mense wat op etniese gronde dalk beter in verskillende lande sou pas, is saamgevoeg. In Suid-Afrika het tydens apartheid ’n verdere kunsmatige verdeling tussen ons en die res van Afrika ontstaan.

Terwyl die pleidooi vir ’n verenigde Afrika baie sin maak, is derduisende Afrikane in ’n oorlewingstryd vasgevang.

Baie Afrika-lande het die vryheidstryd ondersteun, maar die regering het seker gemaak dat ’n deeglike skeiding tussen ons en die res van Afrika gehandhaaf word. Afrikane (wit en swart) is oor dekades só van mekaar vervreem.

Terwyl die pleidooi vir ’n verenigde Afrika baie sin maak, is derduisende Afrikane in ’n oorlewingstryd vasgevang. ’n Gebroke verlede en hede maak dinge nie makliker nie.

Die volgende kan ons dalk nader aan ’n oplossing bring: In Deuteronomium 10 is die opdrag aan Israel om die vreemdelinge in hul nuwe land te versorg, omdat hulle self ook maar vreemdelinge en immigrante was. Ons moet onthou dat, afgesien van die eerste inwoners, die meerderheid Suid-Afrikaners eintlik almal maar “immigrante” en “vreemdelinge” is.

Geen land wat ekonomies wil groei, kan sonder die kundigheid en vaardighede van immigrante nie. Anders gestel: Iemand wat uit hag­like omstandighede die reis na Suid-Afrika suksesvol aflê, toon reeds ’n vorm van moed, entrepreneurskap en deursettingsvermoë. Ons het meer sulke mense nodig.

Afgesien van ons Christelike roeping om die vreemdeling te verwelkom, moet ons die konkrete vraag vra oor hoe ons dit in Suid-Afrika gaan regkry om ’n veelvoud van kulture in een land in harmonie te laat saamwoon.

Ons benodig waardegedrewe leiers wat nie een kultuur op almal probeer afdwing nie, maar een gemeenskaplike waardestelsel vestig.

In Handelinge 2 vind ons nog ’n antwoord met die uitstorting van die Heilige Gees – die vroeë kerk kon te midde van diversiteit hul eenheid in Christus vier!

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Migrasie  |  Immigrante  |  Immigrasie  |  Xenofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.