Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meeste Afrikaners omarm SA lankal én doen hul deel

Dat Nick Koornhof, ANC-parlementslid, na die Afrikaner draai vir “die volgende ronde van bevryding in Suid-Afrika”, laat ’n mens in jou koffie stik.

Retha Fick, adjunkredakteur

Die Afrikaner moet Suid-Afrika sonder voorbehoud omarm en ’n meer kollektiewe rol saam met hul mede-Suid-Afrikaners speel, het hy Dinsdag in die Nasionale Vergadering gesê.

Koornhof brei sy pleidooi uit met ’n versoek dat ons in die komende verkiesing vir pres. Cyril Ramaphosa moet stem en sluit die toespraak af met die woorde: “So ’n gebaar sal Afrikaners se Mandela-oomblik wees.”

Genugtig.

’n Mens wil amper vra waar wás Koornhof die laaste paar dekades?

Weet hy dan nie van die duisende Afrikaners wat daagliks in die raadsale, klaskamers en staatsdepartemente van hierdie land getrou en moedig hul deel doen nie?

Konsekwent lewer hulle ’n bydrae, soms onder baie moeilike omstandighede en met die etiket van onderdrukker en mense­regteskender loodswaar op hul skouers.

’n Mens wil amper vra waar wás Koornhof die laaste paar dekades?

Weet Koornhof nie dat die meeste Afrikaners steeds getrou belasting betaal nie, al word korrupsieskandale van sý party, waarin mense se swaar verdiende geld eenvoudig gesteel is, daagliks oopgekrap?

Ken hy die Afrikaner wat elke plantseisoen maar wéér die lande omploeg, al vreet die belaglik hoë insetkoste sy wins weg soos ’n sprinkaanplaag ’n koringland en hang die swaard van onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding oor sy kop?

Sien hy die werk van burgerregteorganisasies om die verval in dorpe te probeer keer – ’n produk van mislukte munisipaliteite onder sý party se leiding?

Het hy al somme gemaak van hoeveel geld na liefdadigheids­organisasies vloei vanuit vry­willige skenkers se sakke, baie van hulle Afrikaners – omdat hulle weet die ANC-regering het die armes en die hulpbehoewendes in hierdie land in die steek gelaat?

Die werklikheid is dat niemand van ons vir Ramaphosa kan stem as ons nie vir die ANC stem nie – ’n party wat sy lede en die mense van Suid-Afrika op elke moontlike manier in die steek gelaat het. Sy versoek is soos om ’n meisietjie wat mishandel en misbruik is te vra om tog maar op die slegte oom se skoot te gaan sit en hom ’n drukkie en ’n soentjie te gee.

Die ANC moet by homself begin en die inherente verrotting en verfoeilike narsisme uitroei voordat hy uit die hoogte vra dat ons vir die party moet stem.

Die meeste Afrikaners het Suid-Afrika lankal sonder voorbehoud omarm, mnr. Koornhof. Ons wil nêrens anders wees nie. Ons wil die regte ding doen. Ons wil help waar ons kan. Ons wil hê die land moet werk – vir álmal – on­geag watter party aan die bewind is, solank hy die belang van die land bó die belang van die party stel.

  • Fick is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Afrikaner  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.