Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meester van die verbeelding

In ’n wêreld waar magshebbers wil bepaal watter stories vertel moet word, is verbeelding nodiger as ooit. Die soort verbeelding waarvan Karel Schoeman ’n meester was, skryf Andries Bezuidenhout.

Andries Bezuidenhout

Een van Suid-Afrika se beste skrywers – een met ’n verstommende verbeelding – is verlede week dood. Op ’n sekere vlak deel suksesvolle wetenskaplikes en skrywers ’n belangrike eienskap – ’n uitstekende verbeelding.

Karel Schoeman se verbeelding was só ontwikkeld dat hy ewe oortuigend oor die verlede as oor die toekoms kon skryf.

Nie almal vind Schoeman se romans ewe goed nie. Sy boeke handel oor situasies, eerder as stories. Daar is min handeling, maar baie tekstuur; min drama, baie atmosfeer. Dis stadige boeke wat jy stadig moet lees – romans met ’n ouwêreldse sjarme.

Afrikaanse lesers het gewoonlik sterk menings oor sy romans. Jy is ’n aanhanger, of jy háát dit.

Schoeman is verder ’n merkwaardige skrywer omdat hy, benewens sy romans, ook ’n historikus van formaat was.

Daar is waarskynlik nie ’n tydvak in Suid-Afrika se geskiedenis wat nie in een van Schoeman se romans gedek word nie – van die vroeë koloniale tydperk in Verkenning tot die Anglo-Boereoorlog in Verliesfontein, van Johannesburg in die 70’s in Spiraal tot ’n toekomstige Suid-Afrika in Afskeid en vertrek en Na die geliefde land.

Dan is daar ’n hele aantal boeke wat grootliks in die buiteland afspeel, soos Op ’n eiland en Die hemeltuin.

Deursettingsvermoë van ’n verbete speurder

Wat niefiksie betref, is sy reeks boeke oor die vroeë koloniale tydperk besonder treffend. Dit vertel die storie van die interaksies tussen Nederlandse koloniste en die inheemse bevolking as ’n verhaal wat nie net in Suid-Afrika afspeel nie, maar as een wat deur seevaart aan Suid-Amerika en die Ooste verbind is.

Die verhaal van die Khoi-Khoi-leier Doman in die boek Kinders van die Kompanjie en dié se reise na die huidige Indonesië sou met groot sukses in ’n fliek omskep kon word.

Schoeman se mees onlangse boek, Imperiale somer, vertel die storie van Suid-Afrika tussen die Anglo-Boereoorlog en Uniewording – steeds ’n merkwaardige studie, al kan ’n mens reeds sy frustrasie met die feit dat hy sy energie van vroeër verloor in die teks bespeur – hy sou graag ’n beter en meer volledige boek wou skryf.

’n Mens kan Schoeman se misnoeë met oudword waardeer as jy daaraan dink dat die deursettingsvermoë van ’n verbete speurder waarskynlik een van die eienskappe is wat van iemand ’n goeie historikus maak.

Goeie geskiedkundiges kan ook gewoonlik met meer insig oor die toekoms skryf, omdat hulle hulself bemoei met pogings om die verlede te verbeel – ’n tydperk waartoe ons net toegang kan kry deur afleidings te maak uit ander mense se geskrifte.

Verstaan van die verlede nie maklik.

Hierdie soeke na insig oor die verlede het natuurlik ’n aantal uitdagings.

Eerstens het ons geen beheer oor watter geskrifte bewaar word nie. Sommige argiewe word doelbewus opgebou en bewaarders maak keuses oor wat belangrik is en wat snippermandjie toe gaan, partykeer arbitrêr, maar by tye ook op grond van sekere waardestelsels en aannames oor geskrifte.

Tweedens is dit gewoonlik mense met toegang tot mag en hulpbronne wat skryf. Papier is soms skaars en ink is duur. In sommige vroeë Afrikaanse boeregemeenskappe, byvoorbeeld, is meisies nie skool toe gestuur nie – Schoeman ontgin hierdie onderwerp in sy fenomenale roman Hierdie lewe.

Derdens is wat neergeskryf word somtyds bedoel om te bedrieg, die skrywer self of die lesers, eerder as om ’n getroue weergawe van gebeure neer te pen.

Die ernstige geskiedskrywer moet beskikbare dokumente met deursettingsvermoë, durf en ontelbare knippies sout aandurf om op die een of ander wyse die verlede te verstaan.

Romansier en geskiedkundige kom bymekaar

Waar daar stiltes is – in die verlede, wat (soos) ’n ander land is – moet die verbeelding instaan en kan daar baie versigtig bespiegel word oor wat waarskynlik kon gebeur het.

Dis hiér waar die historikus en die romansier bymekaar uitkom – in die geval van Schoeman in die kop en geesteslewe van een mens. Hy het immers ’n groot deel van sy lewe in biblioteke en argiewe gewerk.

Sommige boeke wat in die toekoms afspeel, verouder nie goed nie. Ander, soos George Orwell se 1984, verkry sulke kontemporêre relevansie dat dit as profeties beskou word. Iemand het onlangs spottenderwys ’n kennisgewing teen ’n Amerikaanse boekwinkel se muur geplak: “Post-apocalyptic fiction has been moved to our current affairs section.”

Soos genoem, het Schoeman twee boeke geskryf wat in die toekoms afspeel.

Die eerste, Na die geliefde land, is reeds in 1972 gepubliseer. Dit handel oor ’n toekomstige Suid-Afrika waar die wit regering deur ’n swart meerderheidsregering vervang is.

Reeds in 1972 kon hy 'n toekomstige SA verbeel.

Dit speel op ’n plaas af, waar die polisie in die aand klopjagte op ’n ondergrondse versetbeweging uitvoer.

Schoeman kon in 1972 reeds verbeel hoe ’n toekomstige Suid-Afrika, waarin Afrikaners mag verloor het, moontlik kon lyk.

Die tweede, Afskeid en vertrek, is tydens die angs van die 80’s geskryf en in die 90’s gepubliseer.

Dit speel in Kaapstad af, tydens ’n burgeroorlog wat toenemend die lewens in die Afrikaner se kunstenaars- en joernalistieke sirkels ontwrig.

Baie emigreer, ander probeer om te midde van grusame en sporadiese geweld en onderdrukking met hul lewens aan te gaan.

Van diegene wat agterbly, ontwikkel ’n amper outistiese belangstelling in die stand van die Afrikaanse letterkunde en kultuur, ter uitsluiting van ’n groter werklikheid.

Vraagstukke wat mense in onsekere tye konfronteer.

Daardie oorlog het nooit uitgebreek nie – altans nie soos Schoeman dit verbeel het nie – maar die situasie en atmosfeer wat in Afskeid en vertrek beskryf word, voel soms op onthutsende wyse vir my baie werklik.

Na die geliefde land en Afskeid en vertrek ontgin die vraagstukke waarmee mense in onseker tye gekonfronteer word en die morele keuses wat beskikbaar is.

Alhoewel albei romans in die toekoms afspeel, is die tipe vrae wat dit vra universeel van aard. Geen klinkklare antwoorde op hierdie vrae word aangebied nie.

Of dalk is die romans meer van toepassing op die spesifieke tekstuur van Suid-Afrika se onsekerhede en die sekerhede wat kunsmatig opgestel word om die onvoorspelbaarheid tydelik te beheer – slawelosies, kommando’s, aparte woonbuurte, paswette, diefwering, alarms, gewapende reaksie.

Wat gebeur as die ideologiese en fisieke skanse tussen die pogings om Europa in Afrika te vestig en die “kontinent waar ons boer” verweer en afgebreek word? Hoe is daardie skanse in die eerste plek opgerig?

Schoeman sou dit nooit só skel stel nie – daarvoor was hy te subtiel.

Verbeelding meer nodig as ooit tevore

’n Derde van alle Amerikaners lees nooit weer ’n boek ná hulle die skool verlaat nie. ’n Ontstellende 42% van Amerikaners met tersiêre opleiding lees nooit weer ’n boek nadat hulle graad gevang het nie.

Slegs een uit elke vier Amerikaanse huishoudings koop jaarliks boeke. ’n Verdere 70% van die Amerikaanse bevolking was minstens vyf jaar nog nooit weer in ’n boekwinkel nie.

In Suid-Afrika lees slegs 5% van ouers vir hul kinders stories. Slegs 14% van ons bevolking is aktiewe boeklesers.

Verbeeldinglose leiers wat nie in volsinne kan praat nie.

Soos hongersnood en armoede is ons wêreld se leesarmoede ’n uitdaging – een vir ouers, onderwysers, eintlik alle opvoeders en meningsvormers.

Ons het die verbeelding wat die wetenskap en die roman onderlê nou meer as ooit tevore nodig, veral in tye van verbeeldinglose leiers wat nie in volsinne kan praat nie en wat sukkel om groot getalle korrek van ’n voorbereide toespraak af te lees.

Dis nie net die wetenskap wat tans onder skoot is nie – in Suid-Afrika (“clever blacks”) en elders – maar ook ons vermoë om te verbeel en stories te vertel wat nie lekker by die magshebbers s’n inpas nie.

Stadige stories, stories met tekstuur, stories wat die binnelewe van karakters met ’n breër wêreld en tydvak verbind – die toekoms is ’n ander land.

* Prof. Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.