Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meet CR aan sy balansstaat

Suid-Afrikaners hou daarvan om in debatte van uiterstes te verval.

Eers was pres. Cyril Ramaphosa die Ramaforia-held, gemeet aan ’n lysie aangepaste DA-planne net regs van die sentrum, wat kommentators sommer self as sy beleid uitgedink het.

Barnard Beukman
Barnard Beukman

Tans word hy deur vele voorgehou as die groot politieke teleurstelling van die huidige eeu en reeds tot politieke mislukking verklaar. Dan is daar ook die pleitbesorgers vir sy paaibeleid jeens die politieke misdadiger Jacob Zuma en die bende misdaadverdagtes wat agter hom aan kruip. ’n Desperate poging om eenheid te handhaaf in ’n organisasie wat funksioneel uitmekaarval.

Ook hier is onlangs gepleit dat hy tog uit sy hoek moet kom en nodige dinge begin doen voordat sy politieke kapitaal wegkwyn.

Maar tussen die kwasi-ontleders, Fox News-hittesoekers – wat net wil hoor waarvan hulle hou – en diegene wat vasklou aan ’n vervlietende pre-2020-oomblik dat ’n sterk ANC Suid-Afrika se redding is, behoort ons Ramaphosa aan die werklikheid van sy politieke balansstaat te meet. Negatief en positief.

Uiteraard moet hy as die persoon in die hoogste amp verantwoordelikheid neem vir die donkerste twee weke sedert 1994 met die onlangse onrus-aanslag. Hy sit immers al sedert 2018 en broei op die aanbeveling dat hy bepaalde ingrypings by die intelligensiedienste moet doen. Nou, mosterd ná die maal, skuif hy dit na sy kantoor – om een voorbeeld te noem. Die afgelope tyd is heelwat geskryf oor die lys voorbeelde wat vir sy rekening is, maar kom ons hersien net weer die positiewe inskrywings.

Onlangs wys Mcebisi Jonas, voormalige ANC-politikus, daarop dat Ramaphosa homself tekort gedoen het voor die Zondo-kommissie. Hy vertel hoe Ramaphosa die staatskapers se grootste en finale projek – die Russiese kernprogram – ontspoor het. Dit deur van die betrokkenes aan te moedig om dit te vertraag en uit te stel totdat dit vasval.

Klink dit nie bekend as ’n mens na die ANC se Nasrec-kongres se besluit kyk, dat grond sonder vergoeding onteien moet kan word nie? En waar is die art. 25-proses nou? Toe die ANC-koukus onlangs saam met die EFF daaroor in die bed wou spring, was dit Ramaphosa wat hulle in die openbaar gerepudieer het. Ook toe die einste koukus traag was om ’n DA-mosie van wantroue in die openbare beskermer te ondersteun, het hy die sweep geklap.

Oor die Nasrec-besluit dat die Reserwebank genasionaliseer moet word, het hy ’n kort “nee” gegee. Drie kritieke kwessies.

Lesetja Kganyago, wat die pro-nasionaliseerders “barbare” genoem het en die regering takel oor sy ekonomiese planne, is vir nog ’n termyn aangestel. Ook aanstellings by die nasionale vervolgingsgesag het meegebring dat hooggeplaastes sonder skroom voor die hof gedaag word. Ramaphosa het selfs openlik by sy bondgenoot Gwede Mantashe se portefeulje gaan inmeng toe dié nie vinniger wou beweeg oor die privatisering van alternatiewe kragbronne nie.

Feit is, Ace Magashule is geskors – dis ’n kwessie van tyd voor hy en andere Carl Niehaus se paadjie loop. En belangrike feit is, Zuma is tronk toe (paroolintriges en al).

Dis steeds stormagtig, veral in die KwaZulu-Natalse vleuel van die organisasie, maar hy het ’n al hoe gemakliker werkende meerderheid in die organisasie se topstrukture. Soveel so dat die kanse al hoe skraler lyk dat hy om die ANC-presidentskap vir sy tweede termyn uitgedaag gaan word. Die geveg skuif vinnig na die adjunkpresidentskap.

En ver van ideaal, maar ook in ag genome die beperkende werklikhede, het hy meer van die CR17-trawante in die kabinet kon aanstel of bevorder, insluitend dr. Joe Phaahla, Thandi Modise, Mondli Gungubele en Enoch Godongwana.

Hoeveel sittende staatshoofde het hulle al aan vrywillige ondervraging deur ’n regterlike kommissie gaan onderwerp? Of in ’n brief aan ondersteuners gesê hul party is “beskuldigde nommer een” wanneer dit by korrupsie kom?

Dit realpolitiek is dat Rama­phosa tans die beste is wat ons kan kry – ook vir sy tweede termyn. Oppas in wie se hande gespeel word deur so graag sy einde te bepleit.

Tog word hier verskil met die vasklou aan die mantra “maak CR sterk deur die ANC sterk te maak”. Dit werk duidelik nie.

Oorweeg eerder om CR te versterk deur die korrupte ANC te verswak. Dalk moet hy ná die volgende algemene verkiesing ’n koalisie lei as leier van ’n 39%- of 44%-party? Maar dit is 2024 se besluite.

Ramaphosa staan nie vir die stadsraad nie, so intussen kan Suid-Afrikaners die ANC in vanjaar se plaaslike verkiesings straf. En sy strewe na goeie regering versterk met bekwame raadslede van buite die ANC.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.