Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mej. Heelal: Net te veel het teen Natasha getel

Vir baie van haar ondersteuners is dit ’n teleurstelling dat Natasha Joubert nie in die Mej. Heelal-kompetisie goed gevaar het nie. Maar daar was net te veel wat teen haar getel het, skryf Ané van Zyl.

natasha
Natasha Joubert in haar aandrok in die Mej. Heelal-kompetisie. Foto: Instagram/Natasha Joubert

Suid-Afrika se Natasha Joubert het toe nie die top-21 in die Mej. Heelal-kompetisie, wat deur Mexiko se Andrea Meza gewen is, gehaal nie.

As jy dit vroeër vir my gesê het, het ek jou beslis uitgelag. Sy is dan vanweë haar unieke storie, haar entrepreneurskap, natuurlike skoonheid en ervaring as ’n moontlike wenner beskou!

Helaas. Ek en duisende aanhangers, onder wie bekende skoonheidskoninginne en -kenners, moes Maandagoggend die werklikheid aanvaar – sy is uit.

As Joubert onder die toptwee geëindig het, sou dit beteken het dat Suid-Afrika die kompetisie in die afgelope vier jaar oorheers.

Joubert se ervaring in skoonheidskompetisies sedert 11-jarige ouderdom, die afgeronde persona wat sy en haar span geskep het, die goed bewoorde sosialemediaplasings, die diepteonderhoude, die modeparade wat sy self ten bate van Suid-Afrikaanse ontwerpers gereël het, die roerende stories agter byna elke uitrusting wat sy gedra het en selfs die buitengewone aandrok op die eerste aand was nie genoeg nie.

Dié dinge, en nog meer, het Joubert ongetwyfeld die kroon waardig gemaak, maar daar was net te veel dinge wat teen haar getel het.

Suid-Afrika het onlangs te gereeld gewen

Natasha Joubert Foto: Instagram

As Joubert onder die toptwee geëindig het, sou dit beteken het dat Suid-Afrika die kompetisie in die afgelope vier jaar oorheers.

In 2017 het Demi-Leigh Nel-Peters gewen, in 2018 was Tamaryn Green tweede en in 2019 het Zozibini Tunzi met die kroon weggestap.

Ek dink die Mej. Heelal-organisasie het besluit om ander lande ook ’n kans te gee en hom nie ernstige kritiek op die hals te haal nie.

Gerugte wil dit hê dat dit peperduur is vir ’n land om franchise-regte te bekom om ’n verteenwoordiger na dié glansryke kompetisie te stuur.

Daar is dus die moontlikheid dat sommige lande eerder daardie geld ter voorbereiding van die Mej. Wêreld-kompetisie sal aanwend as hulle dink dat ’n ander land in die Mej. Heelal-kompetisie voorgetrek word.

Ons Suid-Afrikaners besef nie altyd hoe magtig die skoonheidskompetisiekultuur in lande soos die Filippyne, Brasilië en Puerto Rico is nie. Skoonheidskoninginne word verafgod en gekruisig as hulle nie wen nie.

Natasha is boonop ook vergelyk met voormalige Suid-Afrikaanse titelhouers en die druk om twee jaar agtereenvolgens namens Suid-Afrika te wen was geweldig groot.

Sy was nie Mej. SA nie

Dit is moontlik dat die beoordelaars Joubert minder ernstig opgeneem het omdat sy nie die titelhouer in haar land is nie. Dié punt is gemaak deur Renier Havenga, bekend as The Pageant Prince, en ek stem heelhartig saam.

Die Mej. SA-organisasie stuur vanjaar die topdrie in die nasionale kompetisie na die drie grootste skoonheidskompetisies: Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal.

Nel-Peters, Green en Tunzi het die Mej. SA-kroon gedra, maar Joubert het derde geëindig. Dit kon die beoordelaars in haar laat twyfel het.

Hulle het hulself waarskynlik afgevra as Suid-Afrika nie eens genoeg vertroue in haar gehad het om haar as Mej. SA aan te wys nie, hoekom is sy Mej. Heelal-materiaal?

Die formaat het verander

Ané van Zyl Foto: Jaco Marais

Daar is nie soos voorheen vyf semifinaliste uit elke wêreldstreek of vasteland aangewys nie. In die verlede het vyf semifinaliste uit die Amerikas, vyf uit Europa, vyf uit Afrika en die gebied van die Asiatiese Stille-Oseaan en vyf uit enige van dié groepe tot die eindronde deurgedring.

Dié formaat sou Suid-Afrika van ’n plek verseker het en dit sou Joubert die geleentheid gegee het om haarself in die swemkostuum-ronde te bewys.

Maar omdat dié formaat vanjaar weggelaat is, het nie ’n enkele Afrikaland ’n verteenwoordiger in die top-21 gehad nie. Die 21 semifinaliste het uit 12 van die Amerikas, twee uit Europa en die res uit Asië en die gebied van die Asiatiese Stille-Oseaan bestaan.

Dit is waarskynlik verander weens ontevredenheid dat Europese lande, wat in die onlangse verlede nie baie sterk mededinging gebied het nie, bo verteenwoordigers van lande in die Karibiese See plekke in die eindronde gekry het.

Die beoordelaars se land van herkoms

Die beoordelaars se land van herkoms kon ook ’n rol in hul besluite gespeel het en dit is moontlik dat vooroordele die oorhand gekry het. Van die agt beoordelaars, almal vroue, was vyf van Amerika en een elk van Kanada, Colombia en Puerto Rico. 

Die Spaanse TV-reus Telemundo, wat die Spaans-Amerikaanse mark oorheers, het die uitsaairegte vir Mej. Heelal en het via sy digitale platforms spesiale klem gelê op die dekking van die Latyns-Amerikaanse verteenwoordigers.

Van Zyl is ’n verslaggewer van Netwerk24 in Kaapstad. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.