Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Melville: Waar was tegnologie?

In die laat 1930’s het Ascher Fellig, onder die skuilnaam “Weegee the Famous”, snags die strate van Manhattan se Lower East Side bekruip. As gesoute vryskutfotograaf met konneksies in die polisie en die nooddienste was hy dikwels heel eerste op ’n moordtoneel.

Sy bynaam was deels aan sy gewaande heldersiendheid te danke. Hy was die slaaplose stad se eie lewende ouija- (uitspraak: weegee) bord. Sy reusekamera sou dán ’n lyk – flits – soos ’n slapende heilige laat lyk, die saambondelende toekykers soos die grootoog-gadeslaners van ’n wonderwerk.

Die moordenaar met bloed op sy hande sou teen daardie tyd lank reeds vort wees, besig om in die stilligheid van sy binnekamer die moord te verreken.

In ’n tyd toe privaatheid iets anders beteken het as vandag en toe New York se poniekoerante baie riksdaalders vir die smerigste brekende nuus (in woord en beeld) begin betaal het, was Weegee se maatstaf weinig iets anders as nuuswaardigheid – of nuuskierigheid.

Sonder skroom sou hy die twee vroue wat op die toneel gesterf het gekiek het.

As Weegee op Oujaarsaand in die Goudstad sy brood verdien het, was hy stellig kort ná die donker viertrekmotor se vertrek uit Melville se Sewende Straat self op die sypaadjie voor die Poppy’s-kuierplek. Sonder skroom sou hy die twee vroue wat op die toneel gesterf het gekiek het. Ook die bebloedes en die geskokte skare gesigte wie se groot aand terstond waarlik onvergeetlik gemaak is. Die poniekoerante sou mekaar uit die weg du om die foto’s te bekom.

Moontlik had Weegee boonop vroeër al snuf in die neus en het hy tydens die Oujaar se komkommerure op dié besige straat by ’n straatkafee stelling ingeneem om sy kans te waag. Dalk het hy sy kamera op die verbyspiedende motor gerig en net-net die registrasienommer (vervals?) op film afgeëts gekry.

Byna ’n eeu het sedert Weegee se hoogty verloop. Tog is Suid-Afrikaners soos toeka se New Yorkers uitgelewer aan misdaad – en al hoe meer vernuftige en waaghalsige misdadigers.

Waar die Indiese regering tans wyd onder skoot kom vir die aanwend van gesigherkenningsagteware om betogers uit te ken, staan ’n mens verstom dat al waarmee besorgde Melvilliete sit vae en onduidelike sekerheidsopnames is.

Húlle toon uit twee hoeke ’n swart voertuig met doeselvensters wat geen taal of tyding oor die insittendes te vertelle het nie. Byna drie dae ná die skokkende voorval, wat een van Johannesburg se vriendelikste buurte tot stilte geruk het, wil dit voorkom asof daar van arrestasies nog min sprake is.

Die gevare wat moderne bespiedingstegnologie vir privaatheid inhou is natuurlik legio.

Dié skynbare traagheid word deur hoeveel ander wydgerapporteerde misdade geëggo – waar ’n vreemd uitgerekte stilte van owerheidsweë gevolg het.

’n Frappante voorbeeld is die moord presies ses maande terug op die Stellenbosse wynboer Stefan Smit.

Die gevare wat moderne bespiedingstegnologie vir privaatheid inhou is natuurlik legio, veral in die hande van diegene wat nie te vertrou is nie.

Tog sou die Poppy’s-partytjiegangers waarskynlik soos een mens toestem dat hul reg op privaatheid ingeperk word as meer presiese fotografiese opnames die aand se tafereel binne en rondom die kuierplek netjies sou weergegee het.

Die versugting na die herinstel van die doodstraf wat telkens opnuut vlamvat verloor meesal uit die oog dat die werklike knelpunt die stiptelike en effektiewe uitken en inhegtenisneming van misdadigers en hul vervolging is.

As skavuit en sy maat onder die indruk is dat hulle nooit vasgetrek gaan word nie, is die skavot in ieder geval geen afskrikmiddel nie.

Ons sal spoedig ’n werkbare middeweg moet vind om moderne opneemtegnologie effektief en binne gepaste perke vir misdaadbestryding aan te wend.

Anders is sterrewiggelary en ouija-borde dalk ons voorland.

  • Meiring is ’n regsgeleerde.
Meer oor:  Jean Meiring  |  Media  |  Tegnologie  |  Joernaliste  |  Melville-Skietery  |  Fotografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.