Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meneer Lesufi, droom ek nou die onmoontlike?

Vandag weet sy “mamma” is die mooiste woord in Afrikaans. Maar durf sy daaroor droom om haar seun eendag in sy moedertaal skool toe te stuur? vra Willemien Brümmer.

Willemien Brümmer en haar seun, Matthias (2). Foto: Pierre Barkhuizen

My tweejarige seun praat die mooiste Afrikaans. Hy weet al stories begin met “lank, lank gelede” en dat dit eindig met “fluit-fluit my storie is uit”.

Wanneer hy snags nie wil slaap nie, vertel hy vir my die verhaal van Sneeuwitjie uit sy kop en hy onthou die meeste van die sewe dwergies se name: Rasie, Stankie, Laggie, Kwaaitjie, Snuifie, Bossie en Vraatjie.

Hy weet dat die Bose Koningin die towerspieël in duisende stukkies breek en hy is mal oor Liewe Heksie en haar sterretjieskombuis. Hy ken al woorde soos “gevaarlik”, “moersleutel”, “naelstring” en “gereedskap” en hy’s bang vir die grondmonster en die kabouterspook.

Hoekom vertel ek dit? Ja, dalk wíl ek spog met my slim kind (fyn brêg, het ons dit in die tyd voor Facebook genoem), maar eintlik het dit met ’n veel meer wesenlike, veel ingewikkelder besluit te doen.

En nou bevind ek my op wankelrige terrein, want ek wou nog nooit regtig by die taaldebat betrokke raak nie omdat die meeste taalstryders my koud laat. (Noem my maar ’n leftover-lefty met ’n oordrewe skuldgevoel. Ek is nie skaam daaroor nie; dis deel van my DNS.)

Ek het besef ek kan nie in Engels vir my skoolmaats vertel van Towerkop in Ladismith nie.

Aan die ander kant het ek in ’n huis grootgeword waar stories – in Afrikaans – deel van my geboortereg was.

Toe ek in Toledo, Ohio, skoolgegaan het in gr. 8, het ek pouses alleen my toebroodjies in die badkamer geëet omdat my skoolmaats gedink het Van der Merwe is ’n Russiese van en Afrika is ’n land.

Ek het gedroom my hart lê iewers onder in ’n vrieskas en ek het besef ek kan nie in Engels vir my skoolmaats vertel van Towerkop in Ladismith nie. Hulle sou nooit kon verstaan hoe eindeloos blou die Karoo se lug is nie, of dat die waterkloof by Hoekoe vir my soos kerk is nie.

Wanneer ek in die sneeu huis toe geloop het, het ek besef die hol gevoel in my maag kon nie met die woordjie “loneliness” beskryf word nie.

Die mooiste woord in Afrikaans

Vandag weet ek “mamma” is die mooiste woord in Afrikaans en dat my taal – sy moedertaal – die grootste geskenk is wat ek vir my seun kan gee. Ek wil nie die wêreld vir hom verduidelik in enige ander taal nie en die woordjie “love” sal mos nou nooit dieselfde beteken as liefde nie.

Ek weet hoe skaam ek in my gr. 1-jaar in Kanada was omdat ek in ’n taal moes leer wat soos lood op my tong gevoel het. En ek onthou die brief in sy moerske koevert wat ek terug in Suid-Afrika van juffrou Newsome en my klasmaats ontvang het waarvan elke letter so groot soos een van my vingers was. Dalk is dít wat hulle gedink het. Dat ek net sou kon verstaan as alles so groot en brutaal soos Noord-Amerika is.

Brolloks en Bittergal

Volgende jaar gaan my seun vir die eerste keer skool toe en dié kwartaal moet ons doen wat ons eintlik al by geboorte moes gedoen het: Ons moet besluit na watter skool ons vir Matthias wil stuur.

Toe ek klein was, het ons GP bloot gesê “all schools are bad, send your child to the nearest”, maar ek’s bevrees dis nie meer so eenvoudig nie. Indien Matthias in Afrikaans skoolgaan, is daar net een skool waarheen ons hom kan stuur – behalwe as ons wil trek na agter die Boereworsgordyn. Dié skool is weens die stad se demografie lelieblank en hulle volg die nasionale kurrikulum. Ek weet nie wat dié betrokke skool se benadering is nie, maar ek weet in dié kurrikulum word oorspronklike denke allermins voorop gestel en dit gaan grotendeels oor onthou eerder as dink.

As ons hom na ’n Engelse skool stuur kan hy na ’n Waldorf gaan waar hy smiddae saam met sy maats kan boomhuise bou – of in sy gr. 3-jaar kan hy koring plant, oes, maal en daarvan brood bak.

Maar ek wil nog steeds woon in ’n land waar ons (en hy) die reg het om te kies en heimlik te hoop.

Ons kan hom na die private skool om die hoek stuur waar emosionele intelligensie as dié skool se belangrikste waarde bemark word; of na Reddam om die draai van my werk waar hy eendag sy A levels kan kry.

Vir nou gaan ons waarskynlik maar die mog’t troffe benadering volg: Ons skryf hom oral in (selfs al kan ons dit nie bekostig nie) en kyk waar hy aanvaar word.

Maar ek wil nog steeds woon in ’n land waar ons (en hy) die reg het om te kies en heimlik te hoop.

Waar ons die vryheid het om ons eie foute te maak.

Nie waar jy outomaties ’n “rassis” is omdat jy wil hê jou kind moet eendag Brolloks en Bittergal lees nie.

Nie waar jou kind dalk deur ’n rubberkoeël getref kan word omdat hy leer in die taal waarin hy leef nie.

Of droom ek dalk nou die onmoontlike, meneer Lesufi?

* Brümmer is 'n artikelskrywer van Netwerk24.

Meer oor:  Panyaza Lesufi  |  Willemien Brümmer  |  Afrikaans  |  Engels  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.