Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Meneer was 'n meneer van 'n meneer

Hy het my my eerste whisky máák drink. Nie dat ek hom later jare kwalik geneem het nie want dié ou Skotse versterkwatertjies het later vir my vrek lekker geword.

Voor daardie dag was ek ’n bierman. Dié gewraakte eerste whisky is genuttig op ’n Aerolíneas Argentinas-vlug na Suid-Amerika. Ek ’n 26-jarige grootoog-aspirantspioentjie en hy vir my die “bejaarde” 46-jarige minister van buitelandse sake.

Blouwillem

Ek is sy nuwe lyfwag en daar om die groot man met die growwe stem op te pas: nie ’n maklike ou takie nie, want hy het hom nie eens deur John Vorster of die duiwel laat voorskryf nie.

Dis 1978 en dis my eerste oorsese vlug, maar hy mag dit nie weet nie. Ons vlieg eersteklas en die meeste goed op die vergulde spyskaart is vir my onverstaanbaar.

Die mooi, vriendelike Evitatjies kom verby met drankies. Ek bestel koeldrank.

Hy sê nee, dis nog nege uur se vlieg, bring vir dié señortjie ’n whisky.

“Nee, minister, ek mag nie, ek moet u oppas,” protesteer ek verbouereerd.

Hy grom terug: “Nonsies man, lyk hierdie mooi Spanjooltjie vir jou miskien soos Mata Hari met ’n lang mes? Water of soda?”

Die eerste whisky was vrek sleg, maar toe raak dit beter en gelukkig het Mata Hari nie vir ons gekom met die mes nie, want ek was uitgeboul.

Hy kon ’n bietjie ontspan want ons was op pad na Paraguay (in daardie jare saam met Israel, Taiwan en Malawi ons enigste vriende) vir ou pres. Alfredo Stroessner se soveelste inhuldiging as staatshoof.

In ’n land vol ou motors kom ons laat by die paartie en kry ’n 1958-Opel Kapitan en begeleiding deur twee skewe 50 cc-motorfietsies. So met ’n stappery deur die strate van Asunción ontdek hy in ’n platewinkel ’n mooi Spaanse liedjie en koop daardie week elke plaat met ’n weergawe van dié lied. Elke keer so drie vir homself en een vir my.

Later tye was daar Parys, New York, die Withuis en Londen, maar dis Paraguay en Stroessner se Colorado-trompoppies wat ons onthou het. En die plate.

So ’n paar jaar gelede kuier ek by hom daar by sy plek ná ’n sleg tyd in die hospitaal.

So ’n paar jaar gelede kuier ek by hom daar by sy plek ná ’n sleg tyd in die hospitaal.

Hy het nog die pleisters van die drup aan sy arm, maar teug lustig aan sy sigretjie en vra: “Het jy nog daai plate van ons?” “Ja, meneer, natuurlik!” maar ek bieg toe maar nie dat dit nooit heeltemal in my smaak geval het nie en of ek dit dalk kan ruil vir ’n paar van Jack Hammer nie.

In Augustus 1990 luister ek daar in die tuin van die Presidensie hoe hy vir Slovo spot oor sy gebrekkige Latynse kennis en vir oom Joe sy gunsteling-aanhaling op die antieke sonwyser lees: “Die ure wat verby is, was nie tevergeefs nie, dis in berekening gebring.”

Inderdaad! Meneer, meneer was ’n meneer van ’n meneer.

’n Meneer van ’n mensch.

Meer oor:  Blouwillem  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.