Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Menings moet op feite berus
Amanda Gouws

Joe Biden se inhuldiging as president van die VSA het die einde van die destruktiewe regering van Donald Trump aangekondig en die wêreld het ’n kollektiewe sug van verligting geslaak. Dit was ’n roerende seremonie wat spreek van medemenslikheid en eenheid te midde van verdeeldheid.

Die inval in die kongresgebou, wat deur die Amerikaanse regering as binnelandse terreur beskryf word, toon presies hoe kwesbaar politieke instellings is en hoe vinnig reëls wat as vanselfsprekend beskou word ongedaan gemaak kan word.

Wat die Amerikaanse politieke stelsel tot op dié punt gebring het was vals nuus, versinde feite en naakte leuens, baie daarvan gegenereer op Twitter deur Trump en sy volgelinge. Sosiale media was integraal in die versinsels en verspreiding van valshede.

Dit is om hierdie rede dat Twitter Trump se rekening toegemaak het. Die skade is nie net beperk tot die VSA nie, maar het ’n globale impak op internasionale betrekkinge en vertroue tussen state. Die gevare van leuens wat deur leiers se volgelinge geglo word is groot, soos die inval in Washington gewys het.

Nuusmedia wat dus die gesondheid van demokrasie op die hart dra sal nie inkoop in die verspreiding van ooglopende valshede, versinde feite en samesweringsteorieë nie. Dit vervreem burgers van ’n politieke konteks en dit is baie moeilik om die optrede van mense wat hierdie soort nuus glo, te voorspel.

Hoekom is dit dus vir Maroela Media belangrik om ooglopende onwaarhede oor die Amerikaanse verkiesing en die feit dat Trump verloor het by monde van Rhoda Kadalie te versprei?

Hoekom is dit dus vir Maroela Media, wat spesifiek op Afrikaanse lesers gemik is belangrik om ooglopende onwaarhede oor die Amerikaanse verkiesing en die feit dat Trump verloor het by monde van Rhoda Kadalie te versprei? Kadalie skryf gereeld meningsartikels in Maroela Media waarvan die mees onlangse met die titel “Capitol Hill – uit ’n ander hoek” absolute onwaarhede verkondig, waaronder:

“Trump het sy ondersteuners na die Save America-saamtrek genooi waar hy die omvang van die bedrog [die ‘gesteelde’ verkiesing] sou openbaar. Dit was ’n vreedsame skare van ongeveer 300 000 mense en die saamtrek was vol vreugde en respek, soortgelyk aan alle Trump-saamtrekke”.

Die inval en die geweld word gesien as ’n komplot waarvoor, onder andere, Antifa (’n linkse anti-fascistiese beweging) verantwoordelik is en waarvan Trump en sy volgelinge slagoffers was.

So beskou sy die toekoms van die VSA: “Die skrikbewind het aangebreek. Die aanslag op burgerlike vryhede is ongekend. Robespierre draai waarskynlik verheug om in sy graf omdat die linkses sy gees opgewek het. As ’n mens dink China het ’n staatsbeheerde media; Amerika het ’n mediabeheerde staat. […] Die Demokrate beheer nou die Withuis, die huis en die senaat en sal binnekort die hooggeregshof beheer. Om PW Botha aan te haal: ‘The future is too ghastly to contemplate.’ ”

Kadalie is geregtig op haar standpunt. Dis wel moeilik om te verstaan dat iemand wat haarself vir die bevryding van vroue en spesifiek swart vroue beywer het, Kamala Harris die Demokrate se “aanvalshond” wat bereid is om haar siel te verkoop, noem, of verregse standpunte ondersteun.

Maroela Media sê op sy webwerf: “[Dit is] ’n mediahuis wat met integriteit, objektiwiteit en deursigtigheid optree” om “nuus van hoë gehalte aan die Afrikaanse publiek te lewer”, gebaseer op die etiese beginsels van deeglikheid en balans. Waar is die deeglikheid en balans? Deeglikheid sou tog beteken dat feite ondersoek word en balans dat Kadalie met ander standpunte in gesprek geplaas word. Menings moet op feite gebaseer wees. Of is Afrikaanse lesers net versinsels waardig?

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.