Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Menings perk in, maar stories maak ons vry

Saterdagoggend ry ek van Calvinia af die Boesmanland in. By my in die bakkie het ek my permit en my masker. ’n Mens wil weet wat die virus aan ons doen.

Verby die afdraai na Sakrivier-stasie. Noord. Met stemme oor die radio. Op Brandvlei stap oral mense sonder maskers rond. Ek hou voor die hotel stil wat al hoe lank toe is.

Dana Snyman

’n Ouerige man kom aangestap.Verslete baadjie. André Beukes. Ons groet mekaar op ’n veilige afstand en begin gesels oor die belaglike prys van gesmokkelde sigarette en die gebrek aan werkgeleenthede op die dorp.

In die laat 1800’s nog het hier baie Boesmans in hierdie omtes gewoon. Naas hul eie taal het hulle ’n vroeë vorm van Afrikaans gepraat. Baie van hulle se stories is deur onder andere die skrywer G.R. von Wielligh opgeteken.

“Dis my voormense daai,” sê André. Ken hy die stories van Jakkals en Wolf, vra ek. Die Jakkals en Wolf-stories wat ook oom Dana Niehaus oor die radio vertel het toe ek ’n kind was.

“Ja.” André glimlag met skrefiesoë. “Ja. Ja. Ja.” Ons gaan sit op ’n randsteen en André begin vertel: “Een dag wil Jakkals vir Wolf ’n streep trek. Ooeee, daai Jakkals is ’n skelm wetter. Skelm en lui. Hy bedel orals. Hy en Wolf stap, en hulle stap. Dis winter. Dis Juniemaand, man. Later is hulle honger.

“ ‘Kom ons loop kry vir ons ’n skaap by Boer,’ sê Wolf. ‘Nee wat, ou Wolf,’ sê Jakkals. ‘Jou planne werk nooit nie. Kom ons gaan vang liewerster vis in Boer se dam’.”

André het die storie by sy oupa gehoor.

“Hulle gaan sit langs Boer se dam en Jakkals steek sy stert in die water,” vertel André. “Gou trek Jakkals ’n vis met sy stert uit die water. ‘Nou’s dit jou beurt,’ sê hy vir Wolf.”

Stories kom van ver af, het die ou Boesmans geglo. Stories dryf op die wind na ons toe aan.

Die son skyn helder, maar dit kon net sowel laatnag rondom ’n vuurtjie onder die sterre gewees het, meer as honderd jaar gelede. Die Boesmans het ook Jakkals en Wolf-stories vertel.

Stories ken nie tyd nie. Stories word van mond na oor aangegee, oor geslagte en grense heen. Oorlede oom Dana Niehaus se Jakkals en Wolf-stories het lank-lank gelede al hier geleef.

“Wolf draai om en steek sy stert in die water.” André lag. “Wolf is dom, man. ‘Byt vissie, byt,’ sê hy. En dis koud, onthou. En Jakkals sê vir Wolf: ‘Wag net, Wolf. Die vissie sal nou byt’.

“Wolf wag nog so, toe ys sy stert in die water vas. Toe loop roep Jakkals vir Boer, en sê vir Boer: ‘Hier’s die man wat jou skape so vang.’ ”

Ons sit nou naby mekaar op die randsteen, ek en André. Hopeloos te naby. Dis dalk ook iets wat die virus doen, dink ek toe ek van hom af wegry. Dit steel ons stories en laat ons agter net met menings. Ons bombardeer mekaar met ons menings eerder as om ons stories vir mekaar te vertel. Menings perk in. Stories maak vry.

Met die radio afgeskakel begin ek in Loeriesfontein se rigting ry.

Stories kom van ver af, het die ou Boesmans geglo. Stories dryf op die wind na ons toe aan.

Meer oor:  Menings  |  Stories  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.