Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mense is nie gemaak vir dié afsondering nie

Taal in sy historiese verloop is dikwels ’n argief van mense se omgang met die werklikheid; soms ook die bedreigende aard daarvan. Immers, om iets te benoem, is om dit tasbaar en hanteerbaar te maak. Om die vrees hok te slaan.

Daarom dalk is ’n treffende en kort benaming vir die inperking “hoktyd”: gehok soos kwajongens destyds; beskerm agter mure, maar met gaandeweg ’n groeiende onwennigheid en die gevoel van ingehoktheid agter tralies.

Een van die bekendste gedigte van die groot Ierse digter William Butler Yeats, “The Lake Isle of Innisfree”, handel oor hunkering na afson-dering en eenwording met die natuur: Ek sal opstaan, alles agterlaat en gaan na Innisfree /Daar sal ek ’n hut bou, gemaak van latte en van klei / Nege rye boontjies plant; ’n korf vir elke heuningby / In ooptes en bygezoem, sal ek daar bly, alleen en vry.

Maar êrens voel dit vir die leser of hierdie droom in ons moderne era nooit in vervulling sal tree nie. En al-gaande voel mense wêreldwyd dat aan afsondering ook ’n einde moet kom. Nie net om kwynende ekonomieë weer op dreef te kry en mense so van ’n hongerdood te red nie. Ook omdat mense ’n natuurlike behoefte het aan gemeensame omgang met ander.

Mense verwerk inperking verskillend. Party mediteer, lees, skryf, knutsel op hul eie. Ander bedink krea-tiewe maniere om met ander te kommunikeer; op Teams, Zoom, Skype en WhatsApp.

Volgens baie vroue is hulle die groot slagoffers. Veral van hulle mans se ongebreidelde kreatiwiteit en eksperimenteringsdrange.

Volgens baie vroue is hulle die groot slagoffers. Veral van hulle mans se ongebreidelde kreatiwiteit en eksperimenteringsdrange. Ook in die kombuis. Braai raak gou vervelig, veral as die dop én die dam opdroog en daar geen vrien-de is om jou grappies te waardeer nie.

Dan word bredies aangedurf, brood, pasteie en selfs gebakte nageregte. Vriendin T laat weet dat sy nou keelvol is van hand-in-die-sy-pasteie, nageregte wat nie eens in die vrieskas stol nie en veral vir grys vleis in ’n yl sousie. Sy voel sommer opnuut verwantskap met die digter wat oor sy grys verblyf geskryf het.

Die 17de-eeuse Engelse digter John Donne se bekende aanhaling (uit sy meditasies) “No man is an island, / entire of itself” is ’n verwoording van sy opvatting dat alle mense verenig is met God en dat niemand alleen (behoort te) ly nie; bewuswording van ander se pyn, maak ons ook sterker.

Ook die mistikus Thomas Merton se werk No Man Is an Island laat blyk dat eensaamheid en afsondering in ons era vir min beskore is. Een-wording met God spruit vir hom uit ons selflose omgang met ander mense.

Dalk verdien die kreatiewe mans waaroor ek vaneffe geskryf het meer erkenning: Deur hul kosmaak bewys hulle immers hul behoefte om uit te reik na ander.

Saam eet is uitdrukking van gemeenskaplik-heid én spieël die eerste nagmaal in die bovertrek.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Afrikaans  |  Vrees  |  Inperking  |  Kook  |  Afsondering  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.