Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mense van SA moet nie net na ras kyk

Die stryd om ’n nierassige samelewing kan verryk word deur dit nie net tot ’n gesprek oor ras en etnisiteit te beperk nie, maar deur ook na kwessies soos klas en gender te kyk, skryf Nico Botha.

Nico Botha

Dat ’n opmerking in die parlement dat wit mense toegelaat moet word om te praat tot fisieke geweld kan lei, is ’n ernstige simptoom van die toestand van ons parlement.

’n Eenvoudige antwoord op die stelling sou kon wees: Maar hulle praat in elk geval. Wie wil praat, kan praat, ongeag of hul bydraes ’n wesenlike verskil maak aan sake in die land waar groter misverstande tussen mense en groter verdeeldheid aan die orde van die dag is.

Alhoewel ons in die verlede al baie lekker gelag het oor die koddige manier waarop parlementariërs in ander lande met mekaar slaags raak, is ons in Suid-Afrika so na aan die kruitvat – indien dit nou nie as ’n te siniese en selfs paranoïese perspektief beskou word nie – dat voorvalle soos dié in die parlement ernstige gevolge kan hê.

Dit kan beteken dat Suid-Afrikaners begin aanvaar ons kan ons verskille en geskille slegs met die vuis of die geweer besleg. As Christene moet ons nou meer as ooit tevore die vaandel van geweldloosheid in die Naam van die Vredevors dra.

Ek wil graag fokus op die pogings van pres. Cyril Ramaphosa om kalmte in die parlement te bring.

Hy maak ’n aantal baie belangrike punte, wat indien dit konsekwent in die praktyk van die Suid-Afrikaanse samelewing toegepas word, dalk tot blywende vrede kan lei.

’n Nierassige demokrasie kan slegs gedy waar mense se reg om dieselfde te wees én hul reg om anders te wees, gerespekteer word.

Hy verwys byvoorbeeld na Suid-Afrika as ’n nierassige demokrasie. Dis baie mooi. Die probleem met politici is dat hulle allerhande mooi goed raaksien wat ander mense óf miskyk óf sukkel om raak te sien, omdat dié dinge slegs in die vrugbare verbeelding van die politici bestaan.

As hy dit anders sou stel deur te sê dit is ’n ideaal, ’n strewe, ’n lang gekoesterde droom wat ons progressief moet nastreef, sal hy verbaas wees oor hoeveel mense dalk in die “thuma mina” (“stuur my”)-bataljon begin marsjeer. Daarby is ’n mate van selfondersoek nodig oor die uitlatings van politici gedurende verkiesingsveldtogte dat swart mense vir die regerende party moet stem anders neem die wit mense weer oor.

’n Nierassige demokrasie kan slegs gedy waar mense se reg om dieselfde te wees én hul reg om anders te wees, gerespekteer word as deel van die boustene vir ’n radikaal nuwe samelewing wat in wese radikaal anders is as wat ons tot dusver gehad het.

Christene in die land behoort eintlik met groot vreugde hieraan mee te werk omdat hulle beter behoort te verstaan dat ons uit een saad gebore is, maar dat God ook ’n wonderlike humorsin geopenbaar het deur die diversiteit wat Hy geskep het.

Vat hande vir groter ekonomiese geregtigheid

Hierdie stryd om ’n nierassige samelewing kan verryk word deur dit nie net tot ’n gesprek oor ras en etnisiteit te beperk nie, maar deur ook na kwessies soos klas en gender te kyk.

In ’n gesprek met die vakbondleier Karl Cloete, van die Afrikaanssprekende gemeenskap van Atlantis in die Kaap, wys hy op die gevolge van gesprekke met mense in gebiede waar die afgelope tyd ernstige opstande was.

Eerstens dat mense ongeag menings in die media minder klem op hul rasse- of etniese identiteit lê en veel meer op hul identiteit as lede van die werkersklas ingestel is.

Dit maak dit dus onbetwisbaar duidelik dat die opstande nie deur ’n soort etniese gevoel nie, maar meer deur ’n gevoel van sosio-ekonomiese verwaarlosing en agtergelatenheid gemotiveer word.

Ná ’n kwarteeu aan die bewind, laat die ANC-regering mense nog steeds in godskreiende armoede leef en gooi die party baiemaal olie op die vure van misverstand.

En daarom sal die kerk in Suid-Afrika slegs ’n noemenswaardige bydrae kan lewer tot ’n nierassige demokrasie as hy nie sy skeidings op grond van ras en etnisiteit op die samelewing probeer oordra nie. Hy moet eerder hande vat met alle mense wat hulle beywer vir groter ekonomiese geregtigheid wat deur God se genade dalk tot groter vrede in die land kan lei.

Die ander kwessie waarop Cloete my in die gesprek baie uitdruklik op gewys het, is die gebrek aan fokus op die posisie van vroue in die gebiede waar onrus heers.

’n Mens sou dit in eenvoudige terme soos volg kon stel: Dis daai vrou, daai moeder se seun wat in die geweld gesterf het, dit is daai vrou se dogter wat verkrag word en daai moeder se kind wat in die kruisvuur tussen die polisie en die inwoners of tussen bendes gesterf het. Dis daai ma wat ondanks haar eie werkloosheid of haar eie karige salaris die pot aan die kook moet hou.

En waar is die kerk?

Stil, grafstil. Deur die week afwesig en Sondae onverstaanbaar. Daarom is die president reg as hy in die parlement sê dat ons nog steeds leef met die pyn van apartheid, maar hy laat na om dan by te voeg: Ná ’n kwarteeu aan die bewind, laat die ANC-regering mense nog steeds in godskreiende armoede leef en gooi die party baiemaal olie op die vure van misverstand en verdeeldheid eerder as om dit te blus.

Maar sy boodskap dat ons saam die skeiding tussen ons moet oorkom en moet verenig in ons diversiteit is positief. Solank die regerende party die voorbeeld stel. Of is dit die godsdienstige en geloofsgemeenskappe wat die voortou moet neem?

* Botha is professor in teologie aan Unisa.

Meer oor:  Nico Botha  |  Cyril Ramaphosa  |  Karl Cloete  |  Demokrasie  |  Klas  |  Ras  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.