Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mense wil nie meer verhale oor swaarkry lees nie

Mense vra my dikwels raad oor hoe om hul lewensverhale te boekstaaf. Dis nie dat ek onwillig is om raad te gee nie, maar uit dure ondervinding weet ek dat nie almal gebore skrywers is nie, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

“Jy sien, Meneer, ek het baie swaar grootgeword. Veral my kinderjare was moeilik. Ek wil graag hê my kinders moet kan sien dat ons dit nooit maklik gehad het nie.”

Kyk, ek stry nie, maar hoeveel van dáárdie soort verhale is nie al gepubliseer nie? En dat daar mense in ons land is wat moeilik grootgeword het, daaroor sal ek nie stry nie. Dis net dat mense nie graag verhale oor swaarkry wil lees nie, want dit maak ook in hulle ’n warboel van emosies wakker. Emosies wat hulle dikwels as negatief ervaar en waarvan hulle eerder wil wegskram.

Dit is dan wanneer die gevaarligte in my kop begin flikker.

Verstaan my mooi. Ek sien myself nie as die bewaker op Sionsmure wat die letterkunde teen swak skrywers moet beskerm nie. Allermins. Wat ek tot elke prys wil verhoed is dat iemand met sterre in die oë wreed ontnugter gaan word nadat ’n skryfpoging deur uitgewers afgekeur word.

Toe ’n skrywersmentor van my, prof. Hans du Plessis, tóé nog hoof van die ATKV se Skryfskool in Potchefstroom, op ’n keer oor die skryfkuns uitgevra is, was sy antwoord: “Skryf kan harde werk wees en daar is geen kortpaaie na roem nie. En natuurlik is dit ’n eensame werk! Maar ook natuurlik baie terapeuties.”

Baie beroemde skrywers het gou besef dat die pad na roem nie ’n maklike een is nie.

Theodor Seuss Geisel (skrywersnaam van Dr. Seuss) se eerste boek And to Think I Saw It on Mulberry Street, is 27 keer deur uitgewers afgekeur voordat dit die jawoord gekry het. Dié Amerikaanse skrywer en illustreerder het met groot sukses 40 boeke in sy leeftyd die lig laat sien.

William Golding se Lord of the Flies is al beskryf as ’n absurde en oninteressante fantasie en is 20 keer deur uitgewers afgekeur.

'Meneer, miskien kan hulle sommer ’n fliek van my boek ook maak!'

Vra ook vir Stephen King, Agatha Christie of selfs JK Rowling van Harry Potter-faam oor afjakke wat hulle van uitgewers gekry het.

Margaret Mitchell se Gone with the Wind (1936) is 38 keer afgekeur voordat ’n uitgewer, met genoeg waagmoed, die manuskrip aanvaar het. Mitchell het nooit weer ’n ander boek geskryf nie. Maar die inkomste uit haar epogmakende werk het haar ’n ikoon in die skrywerswêreld gemaak. In 1937 het sy selfs die gesogte Pulitzer-prys vir fiksie gewen.

In 1939 is ’n rolprent daarvan gemaak en dit het kultusstatus bereik. Die aantreklike Clark Gable as Rhett Butler en Vivien Leigh as Scarlett O’Hara het die hoofrolle gespeel.

Diegene wat my nader en met Gone with the Wind se sukses bekend is, sê soms: “Meneer, miskien kan hulle sommer ’n fliek van my boek ook maak!”

Helaas, nie alle boeke word rolprente en nie alle rolprente word boeke nie.

Sommiges gryp die pen uit God se hand

Hans Christian Andersen, die meester-sprokieskrywer, het op ’n keer gesê: “Die mens se lewe is ’n sprokie deur God se hand geskryf.”

Kyk ’n mens egter na party mense se lewensverhale, veral dié wat so skeef geloop het, dan lyk dit asof hulle sommer die pen uit God se hand gegryp en self aan hul verhale begin skryf het.

In daardie eie geskrewe verhale is daar soveel intriges, kinkels en hartseer.

As jy werklik met ’n uitsonderlike storie in jou binneste rondloop, dan het ek die volgende raad.

Die Pontius Pilatus-houding van “wat ek geskryf het, het ek geskryf” moet jy vroeg-vroeg afleer. Vergeet ook van die feit dat “God die storie aan jou in ’n droom gegee het” of dat die verhaal ’n Goddelike ingreep was en dat jy nie daaraan mag verander nie.

Stel ’n spesifieke tyd vir jou skryfpoging vas, een wanneer jou huis stil is en hou dan by jou skryfroetine.

Stel ’n raamwerk op en skryf hoofstuk vir hoofstuk – en vier elke voltooide hoofstuk! Onthou net dat skryf harde, eensame werk is. So gaan sit dus op jou sitvlak en begin jou skryfpoging.

Gee daardie voltooide manuskrip eers net vir iemand wie se mening jy hoop op prys stel en respekteer; verkieslik nie vir ’n goeie vriend of ’n nabye familielid nie. Hulle sal nie graag jou gevoelens wil seermaak nie en sal jou gevolglik gelukwens: “Dis nogal mooi geskryf!”

Dit bring jou net mooi nêrens nie. Jou beste roep is om iemand neutraal te kry, of wie se kritiek jy ten minste ernstig ter harte sal neem. As jong skrywer sal jy moet leer om kritiek te kan vat en te verwerk.

Die Pontius Pilatus-houding van “wat ek geskryf het, het ek geskryf” moet jy vroeg-vroeg afleer. Vergeet ook van die feit dat “God die storie aan jou in ’n droom gegee het” of dat die verhaal ’n Goddelike ingreep was en dat jy nie daaraan mag verander nie. Enige stuk kreatiewe skryfwerk behoort behoorlik geredigeer te word voor publikasie.

Daar is onweerlegbaar bewys dat slegs 2% van voorgelegde manuskripte uiteindelik die volledige pad na publikasie voltooi.

“Elkeen het ’n boek in hom/haar en meesal is dit presies wáár dit moet bly,” het Christopher Hitchens, ’n Engels/Amerikaanse-skrywer op ’n keer gesê.

En as jou werk volgende keer wéér deur ’n uitgewer afgekeur word, moenie moed verloor nie. Versterk jouself deur dan te antwoord soos Clark Gable in Gone with the Wind: “Frankly my dear, I don’t give a damn!”

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Letterkunde  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.