Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Merkel-koalisie dalk van die sterfbed gered

Dit lyk of die Duitse regerende koalisie van ’n voortydige dood gered is. Die Bondskanselier Angela Merkel sal dus waarskynlik haar termyn tot 2021 kan voltooi.

Die koalisie bevat drie partye. Hulle is Merkel se Christen-Demokratiese Unie (CDU), wat in die federale parlement in een koukus sit met sy Beierse susterparty, die Christen-Sosiale Unie (CSU). Hulle word gewoonlik gesamentlik aangedui as die Christen-Demokrate of die Unie. Die derde is die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD).

Normaalweg is daar geen liefde tussen die Unie en die Sosiaal-Demokrate nie. Eersgenoemdes is gematig-konserwatief; laasgenoemdes gematig-links, met die gevolg dat hulle almal stemme in en rondom die politieke sentrum jaag. Dit maak hulle mededingers.

Tog het dit al herhaaldelik gebeur dat die verkiesingsuitslag hulle geen ander keuse gelaat het as om saam in die regering te sit nie. Elke keer gebeur dit by wyse van spreke met gekners van tande, maar uiteindelik verdra hulle mekaar, bloot omdat daar geen ander alternatief is nie.

Sedert die laaste verkiesing in 2017 het die politieke toneel egter begin verander. Die Unie het luidens peilings effens steun verloor (van 32,9% in 2017 tot 26-29% nou), maar die Sosiaal-Demokrate het in ’n afgrond gestort (van 20,5% tot 13-15% tans). Daarteenoor het die regspopulistiese Alternativ für Deutsch­land effens gegroei, van 12,6% in 2017 tot 14% nou. Maar die eintlike verandering is by die Groenes te sien, wie se steun skouspelagtig toegeneem het, van 8,9% tot 20-23%.

Deel van die probleem is dat wie ook al in ’n koalisie saam met Merkel regeer, leeg gesuig word.

’n Deel van die probleem is dat wie ook al in ’n koalisie saam met Merkel regeer, leeg gesuig word. Dit het twee keer met die SPD gebeur, en ook met die kleiner liberale Vrye Demokratiese Party (FDP). In die SPD het dit tot groot kommer gelei. En dus het die party onlangs van sy gematig-linkse leier, Olaf Scholz (minister van finansies) ontslae geraak en twee linkse politici, Saskia Esken en Norbert Walter-Borjans, in sy plek aangewys.

Dié twee het luidkeels geëis dat die SPD padgee uit die koalisie, tensy Merkel allerlei linkse stokperdjies oorneem. Hulle skryf die party se agteruitgang toe aan die feit dat hy sy linkse tradisie die rug toegekeer het.

Die SPD hou nou sy kongres in Berlyn, maar dit lyk of Esken en Walter-Borjans kleinkoppie trek. Intern is die twee daarop gewys dat ’n voortydige verkiesing rampspoedig vir die party se getalle in die parlement sal wees.

Nietemin, in die Unie word openlik gegis dat die Groenes vorentoe ’n koalisiegenoot kan word. Dit sal nogal ’n beduidende omwenteling wees, aangesien die Groenes oorspronklik uit die jeugdige opstand van 1968 voortspruit.

Intussen het die liberale demokrasie die destydse rebelle ingesluk en mak gemaak. ’n Koalisie tussen die Groenes en die relatief konserwatiewe Unie sal interessant wees.

Meer oor:  Wêreldburger  |  Koalisie  |  Red
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.