Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met Boris, Don en Vlad word ‘1984’ waar

Hokaai, stop daardie taxi van jou na Mars, Elon Musk!

Hier is ’n ou uit die Vrystaat wat wil opklim.

Charles Smith

Ek gryp net my tas met boeke, CD’s, drie brakke en ’n mak vark genaamd The Don en ons is daar! Maar vlieg wil ek vlieg. Eenrigtingkaartjies, ja.

Want op dié planeet met soveel skurke, kroeks, boereverraaiers, narsiste, ANC-tipes en ander bullebakke bly ek nie ’n maand langer nie, my bra.

Ná “Boris The Bullshitter Johnson” se beëdiging as Britse premier het ek genoeg gehad. Ek gooi sommer duim na die naaste planeet.

Met die sleazy cowboy Donald Trump, sy boesemtjom Kim Jong-oen van Noord-Korea en die diktator Vladimir Poetin met bloed aan sy hande, is dié vier egomaniakke, narsiste en grootbekke totaal in beheer van Moeder Aarde.

Al wat tussen die beskawing en totale oorname deur dié skoolboelies is, is ’n bewende Angela Merkel, ’n Franse skoolseun, ’n Kanadese poster boy en ’n super-diktator van China wat in net een ding belangstel: China se oppergesag.

As dit jou nie bang maak nie, sal niks nie. Dan is jy vir seker ’n Trump-hamster. Hardloop net in die wieletjie wat hy aldag spin. Om en om en om. Elke stukkie rassisme, elke infame leuen en elke homp laster wat hy pleeg, word klakkeloos herhaal.

En nou het jy ’n mini-Trump in Downing-straat 10. Die Oranje Nar het nou ’n klein clown wat hom napraat in leuens en beleid. Selfs die haarstyl van die twee bere is dieselfde.

Dis die een wat die vertroue inboesem van ’n laaitie wat agterstevoor op ’n Shetland-ponie ry voordat hy affoeter. Boris die Dappere wat al jakkalsjagte in Londen wou wettig nadat ’n vos sy kat gevang het.

Al waarvoor ek R1 miljoen sal opdok naas die kaartjies na Mars, is om by te wees as Poetin die eerste vergadering lei van die Die Gifappeltjies as die vier bymekaar kom.

“Vlad, Vlad, Vlad ...! Kan ek groot asseblief Frankryk aanval? Of Duitsland! Hulle boelie ons in die Europese Unie,” skreeu Boris.

“Stil jy, jy’s net ’n laaitie,” grom Kim. “Ek sal julle wys hoe ’n groot hond blaf . . .” En net daar blaas hy ’n minister met ’n lugafweerkanon in stukkies.

“Bwahah-ha-ha!” bars Donald uit van die lag en gee Kim ’n harde klap met sy klein handjie op die rug. “Wat het ek jou gesê, Vlad. Die twee snotkoppe is baie koel, of hoe?! Bwaha-ha!”

Die ergste is waarvoor dié ouens staan.

’n Nuwe Koue Oorlog wink – dié keer Amerika en Rusland en Brittanje vs. Europa.

En almal ontken klimaatsverandering.

Wat het met die Weste gebeur ná Reagan, Thatcher, Merkel en Obama?

George Orwell se 1984 het waar geword.

En dít, mense, móét jou laat ril.

Meer oor:  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.