Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met die wysheid van nawete . . .
Leopold Scholtz

Een van die grootste ondienste wat die regering van oudpres. PW Botha die nie-swart bevolking bewys het, was om mense onkundig oor die ANC in ballingskap te hou.

As ek in 1990 oor die ANC geweet het wat ek later met my navorsing vasgestel het, sou ek die oorgang ietwat anders beoordeel het.

Let wel, ek betwis nie oudpres. FW de Klerk se besluit om apartheid af te skaf en die ANC te ontban nie. Die politieke, ekonomiese en demografiese werklikhede was soos rotse waarop die apartheidskip hom te pletter geloop het. Nee, dít kon werklik nie anders nie.

Maar deur ons kollektiewe onkunde oor die ANC, en in die lig van die verbrokkeling van die kommunisme as globale magsfaktor, het ons – ek – te geredelik aanvaar dat die ANC ’n “normale” demokratiese party sou word met wie ’n mens sake kon doen.

Die ANC-leiers wat daarna teruggekeer het, was vir die meeste van ons byna onbeskrewe blaaie omdat ons hul agtergrond in ballingskap nie geken het nie.

Agterna (en toegegee, nawete bring wysheid) was dit ’n fout. Die ANC is in ballingskap deur vyf elemente gekenmerk wat die geskiedenis sedertdien ingrypend beïnvloed het. Ten eerste, ’n rigiede Marxisties-Leninistiese ideologie. Dis waar, die globale ineenstorting van die kommunisme het die ideologiese mat onder die ANC se voete uitgepluk, maar belangrike elemente in die party hou selfs vandag nog daaraan vas.

Dié Marxisme-Leninisme word tweedens vermeng met ’n Afrikanistiese benadering. Destyds het die twee rigtings kwaai met mekaar gewedywer, maar veral sedert Thabo Mbeki se bewindsoorname in 1999 het hulle mekaar gevind en versterk.

Die derde is ’n drastiese onbekwaamheid. Reeds in ballingskap het die ANC (en die stert wat die ANC-hond geswaai het, die SAKP) indrukwekkende planne en pragtige verslae en memorandums opgestel, maar toe al is bitter min daarvan in die praktyk verwesenlik.

Die vierde element is ’n fundamentele gebrek aan verdraagsaamheid teenoor andersdenkendes in eie geledere. Die ANC het op ’n tipies Stalinistiese wyse teenoor dissidente opgetree, hulle in konsentrasiekampe (onder meer die berugte Quatro) toegesluit en ernstig mishandel of selfs gemartel. ’n Ope gesprek in eie geledere is nooit regtig geduld nie. Die leiers se woord was wet.

Ten slotte is al dié bestanddele vermeng met erge korrupsie. Reeds in die 1980’s het ANC-leiers ontdek dat die diktatoriale politieke kultuur in die organisasie ’n ondeurdringbare miswolk meebring waaragter hulle hul op talle verskillende vlakke ongestraf kon bevoordeel en verryk.

Saam het dié vyf elemente ’n toksiese brousel geskep wat nie skielik op 2 Februarie 1990 geëindig het nie. Die ANC-leiers wat daarna teruggekeer het, was vir die meeste van ons byna onbeskrewe blaaie omdat ons hul agtergrond in ballingskap nie geken het nie.

As ons dit wel geken het, sou ons dalk anders na sekere aspekte van die onderhandelinge gekyk het. Dan sou ons minder staat gemaak het op formele ooreenkomste, al was hulle die resultaat van onderhandelinge en behoorlik gedokumenteer.

Sommige aspekte, soos die posisie van Afrikaans, regstellende aksie en die onteiening van vaste eiendom, is in die Grondwet voldoende vaag bewoord dat ’n regbank soos ons s’n, wat die ANC-ideologie deel, dit volgens ANC-riglyne kan uitlê.

Dit sou ook gehelp het as De Klerk destyds beter onderhandelaars as die naïewe Roelf Meyer ingespan het.

Maar goed, ons is waar ons is. Pres. Cyril Ramaphosa is nie Thabo Mbeki of Jacob Zuma nie, maar ook hy is in sekere opsigte ’n gevangene van die ANC.

Wat oorbly, is Solidariteit se plan om Afrikaanse groeipunte te vestig. Dis ’n langtermyn-opsie, maar daar is helaas geen werkbare idee op kort termyn nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Korrupsie  |  Anc  |  Konsentrasiekampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.