Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met elke nies en hoes háát ek dié winter

Ek haat hierdie winter! Met my hele oorgewerkte hart en my siedende siel. Met elke nies en elke hoes. Met elke snuif en lopende neus verpes ek vanjaar dié seisoen.

Ek was nog altyd ’n pompom-meisie vir winter. Ek het daarna uitgesien soos ’n kind na kleuterskool. Winter was vir my ’n tyd waar ek myself met allerhande lappe kon drapeer, nes ’n Pretoria-Oos-tannie se sitkamer.

Piet Matipa

Ek het in die verlede poncho’s in die vrouegedeelte van winkels aangeskaf. Rooies, maroenes, bloues, swartes . . . die lys is so lank soos ’n eerstejaarsklas. Winter was soos ’n modevertoning. Dit was heerlik om belap tussen die droogte te paradeer.

Hierdie winter kry seker die toekenning vir swakste seisoen in 2018. Herfs was tot dusver onoorwonne – oor herfs nie eintlik weet hoe dit moet wees nie. Nes een wat nie weet wat om te doen ná matriek nie. Winter vat vanjaar die gevriesde koek.

Kan hierdie seisoen nie asseblief sielkundige hulp ontvang nie? Dit ly aan meervoudige persoonlikheidsindroom.

Dán is dit warm deur die dag. Dán weer yskoud in die nag. Dán raak dit vrieskoud in die dag. Dit sou baie bedagsaam wees as die winter vir die grootste deel een persoonlikheid kon kies.

Óf jy’s krimpkoud óf lou óf warm. Jy kan nie al drie wees in een dag nie. Is jy verspot?

Die ergste is ons liggaam. ’n Mens sal dink dat die liggaam bekend is met die versteurde Afrika-weer. Dat dit sal aanpas elke keer as die seisoene ’n granaat in sy rigting gooi. Nee. Dié is elke keer verbaas met die persoonlikheidskywe van elke seisoen. Daarom raak ons almal siek, want die liggaam het ’n korttermyngeheue.

Ek het lanklaas vir iets die dood toegewens soos dié winter . . . tot die volgende hittegolf.

Die siekte het dié winter soos ’n heruitsending van ’n fliek op betaaltelevisie die heeltyd verskyn. Dan dink jy jou beurt van siek word het gekom en gegaan, net om nog ’n verrassing te kry. Dit verg net ’n kyk van iemand anders wat ’n verkoue het, dan is jy weer hoeserig. Sulke broos, onstabiele en onbetroubare liggame.

Om vitamine te drink, is slegs ’n stokperdjie – geen vrug word gepluk nie.

Die siekte gryp jou aan die keel soos ’n kaper. Dit laat gaan nie totdat al jou energie weg is nie. Ons is dié winter beroof deur siekte.

Die dokters is ook so konserwatief. Hulle gee ’n mens medikasie asof jy ’n baba is. Die verkoue lag vir die pilletjies wat hulle voorskryf. Die hoesstroop is net ’n bron van alkohol. Verder vertrap daai kuggie die stroop . . . Nes ons sokkerspan wat teen die internasionale spanne wil bal skop.

Medikasie moet siektes ’n PK (peperklap) gee. Ek gee nie om of ek vir drie dae bewusteloos is nie. As ek wakker word, moet daar nie ’n snuif wees nie.

Ek gee nog minder om vir natuurlike goed wat my eers in volgende jaar se winter gaan laat beter voel. Bring daai chemikalieë. Val hierdie siekte aan asof dit die Derde Wêreldoorlog is.

Ek het lanklaas vir iets die dood toegewens soos dié winter . . . tot die volgende hittegolf.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Sielsgoed  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.