Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met geloof kan 2020 maar kom
Dr. Isak Burger

Terwyl daar by sommige maat­skaplike, politieke en finansiële ontleders ’n sprankie hoop vir 2020 is, is die meer algemene verwag­tinge vir die jaar taamlik gedemp – indien nie oorweldigend negatief nie.

Dit geld veral die gewone mense op straat.

Die redes vir hierdie gedempte verwag­tinge en negatiwiteit lê voor die hand.

Te midde hiervan, en met die nuwe jaar wat afgeskop het, het die belang­rikheid van geloof in God – veral in tye soos hierdie, en vir my as Christen – opnuut en duidelik in my hart kom lê.

Dit was te midde van sy eie grootste benoudheid – die aand van sy inhegtenisneming en onregverdige verhoor voor sy kruisiging – dat Jesus aan sy dissipels in Johannes 14:1 gesê het: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”

Geloof in God het nog altyd sterker na vore gekom in tye wanneer die mens op sy broosste en weerloosste is.

Baie mense ignoreer of ontken God totdat hulle sélf in ’n situasie kom waar daar geen hulp buite God is nie.

Ek het dit só dikwels in my lewe al teëgekom.

Dit was oor die jare opmerklik dat dit juis in die lande was (en steeds is) waar omstandighede die moeilikste en daar dikwels vervolging is, dat die kerk die suiwerste is en die mees dinamiese groei toon.

Teëspoed en swaarkry laat meer mense na God soek as voorspoed en gemak.

Teëspoed en swaarkry laat meer mense na God soek as voorspoed en gemak.

In ons eie land is ek die afgelope jaar telkens diep geraak deur die verhale van mense wat te midde van krisisse en smart hul geloof in God bely het.

Hier dink ek aan onder andere ons boere in die gebiede wat die ergste onder die droogte deurloop.

Baie mense het die afgelope vakansie weer die geleentheid gehad om tyd by die see deur te bring.

Ek het al dikwels gekyk hoe die branders met wisselende geweld teen die rotse slaan en my dan verwonder dat die skulpies en mossels aan die rotse die een gevaarlike brander ná die ander oorleef.

Die swak, eenvoudige skulpdiertjies se behoud lê natuurlik nie in hul eie groot krag nie, maar in die feit dat hulle aan ’n rots vaskleef wat die golwe reeds eeue lank weerstaan.

Dít is presies die grondbetekenis van die woord “geloof” in die Bybel – om te vertrou, om staat te maak op die betroubaarheid, vastigheid en onfeilbaarheid van Iets of Iemand.

Geloof beteken om aan hierdie Rots geanker te wees.

Dit is die Rots wat die toets van die tyd deurstaan het.

Dit is steeds elkeen se keuse en reg om in God as Verlosser te glo of nie.

Vir dié wat gekies het om te glo, kan 2020 met al sy uitdagings en probleme maar kom.

Ons het die geloofsversekering dat niks – selfs nie die dood nie – ons van sy liefde sal kan skei nie!

  • Burger is ’n voormalige kerkleier, skrywer en prediker.
Meer oor:  Isak Burger  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.