Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met glase en flesse gaan ons na die hemel

Mense wat lang jare aktiwiteite deel wat vir hulle belangrik is, raak dikwels hartvriende. Vriende met wie intieme besonderhede, vrese, versugtinge én vreugdes gedeel word.

Soms sit jy geen voet in van hul huise nie, maar rondom dit wat bind, is daar intimiteit.

Hennie van Coller

Dit kan ’n gereelde potjie gholf wees, wedvlugduiwe, houtwerk, koeksisters bak of lappieswerk.

In my geval is dit wynmaak.

Ons groep het onlangs bymekaargekom om afskeid te neem van een van ons lede wat saam met sy beste kus toe verhuis. Om glo te gaan kreef eet, skuins te lê, na die see te kyk en skulpe op te tel.

Oor smaak is nie te kibbel nie, het die Romeine al geweet. Maar een ding weet ek seker. Die Bybel is vol verwysings na wyn.

En oor hierdie vog is byna meer gedigte geskryf as oor die liefde.

Wys my een gedig oor draaibanke, kwiltwerk of gholf!

Óns wynmakers is ’n krimpende bende. Mense het verhuis; heelwat van hulle na ’n permanente oord waar daar glo geen wyn is nie.

In Jan van Melle se bekende kortverhaal “Oom Karel neem sy geweer saam” is die hoofkarakter ’n oudstryder uit die Anglo-Boereoorlog, ontstemd oor sy naderende dood want wat op aarde gaan hy – die ewige woelgees en vegter – in die hemel doen?

Die Bybel is vol verwysings na wyn. En oor hierdie vog is byna meer ge-digte geskryf as oor die liefde.

Daarom voel hy nutteloos, soos ’n ou hond of perd waarvoor mense goed is, maar wat nie veel meer beteken nie.

Versigtig vis hy daarom uit by die dominee of daar darem ook bosveld en bosse in die hemel sal wees, en dalkies ook wild.

Daarop antwoord die predikant versigtig-bevestigend, maar sê beslis dat daar géén gewere sal wees nie, want in die hemel heers immers vrede. In die Bybel staan daar: “De wolf en de lam zullen tesamen nederliggen en de leeuw zal stro eten gelijk de os.”

Die vroeëre krygsman en jagter is diep teleurgesteld en besef dat die hemel ’n plek is waaraan jy gewoond sal moet raak – veral as leeus strooi eet, kan die leser amper aflei.

Maar dan besef hy dat die stryd teen Satan nog nie uitgeveg is nie.

Kort voor sy dood sien hy in sy geestesoog hoe hy en sy ou maats die stryd opneem teen die goddelose magte.

Weer pak die opwinding hom en só sterf hy ’n mooi ou man, kalm, vredig, met iets wat na blydskap lyk op sy gesig.

Sy geweer gaan saam!

As die depressie toeslaan ná ’n wynvriend se dood, sien ek in my verbeelding hoe A. sy glas lig op “nog ’n harde dag in Afrika”, hoe S. sy wyn van alle kante bekyk en besnuffel en hoe E. vertel waarom eendpaté volmaak pas by die desertwyn.

Oom Karel was reg, maar in plaas van ’n geweer gaan ons glase en flesse saam.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Vriende  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.