Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met vlieënde paddas het ’n vonk ontstaan
Madré Marais
Madré Marais

In die een of ander stadium van hoërskool sit ons teen eksamentyd in ’n klaskamer en berei ons op die volgende dag se vraestel voor. Die onderwyser wat toesig hou, het ’n boek saamgebring waaruit hy tussendeur vir ons voorlees om die tyd te verwyl.

Wat die titel van die boek is, sal ek waarskynlik nooit weet nie. Hoekom Meneer juis op dié een besluit het, sou ek nie kon raai nie. Dit maak buitendien nie saak nie, want dis die strekking van die vertellings wat met ’n bliksemstraal die lewe in ’n ideeskepsel in my kop laat vonk het.

Miskien was dit aangebied as verslae, eerder as vertellings. Verskeie daarvan berigte oor vreemde dinge wat, oor die wêreld heen, al uit die lug geval het. Voorwerpe wat neergereën het, om presies te wees. Visse. Paddas. Klippe.

Tik ek vandag “fish rain” in op Google, word daar saam met video’s en berigte deur verbysterde ooggetuies verskeie nugter beredeneerde verklarings deur kundiges gegee. Sommige benoem dit selfs as weerverskynsel. Hiervoor word dieselfde verklaring as vir iets soos paddareën gegee. ’n Besonder sterk werwelwind wat oor water beweeg, suig ligte voorwerpe op en verloor dan op land spoed, sodat dit wat geweldig hoog die lug in geslinger is, grond toe val.

Dalk misgis ek my heeltemal en was daar in dié boek iets oor visse en paddas, maar het my verbeelding die klippe versin. Dit sou egter net bewys hoe sterk daardie skepsel se hart nog al die jare klop.

Vir baie jare het ek gemeen dat dit een van die kosbaarste dinge is wat ’n onderwyser ’n mens kan gee: Die besef dat die wêreld groter is as dit wat jy elke dag te sien kry.

Vir baie jare het ek gemeen dat dit een van die kosbaarste dinge is wat ’n onderwyser ’n mens kan gee: Die besef dat die wêreld groter is as dit wat jy elke dag te sien kry. Wyer as dit waarvan jy uit handboeke geleer word. Dat jy eindelik meer kan word en jou met meer kan gaan besig hou en eindelik ander verwagtinge van jouself kan koester, as die voor die hand liggende.

Ek was verkeerd. Dit het niks daarmee te doen dat ’n onderwyser vir ’n kind leer dat soveel ander moontlikhede bestaan nie. Dit kom juis daarop neer dat jy bewus word van die onmoontlike. Van dit wat onmoontlik sal bly.

Vir die magdom kinders wat vanjaar in onsekerheid moes deurworstel, moet die boodskap dalk nie wees dat die onmoontlike moontlik is nie. Soveel wat van spesifieke verwagtings ontneem is, hoef bloot te verstaan dat sekere dinge onmoontlik is. En dit beteken nie noodwendig dat jy van jouself behoort te verwag dat jy die onmoontlike sal vermag nie. Dit kan nie visse reën nie. Hulle word opgesuig en uitgespoeg.

Dis die onbereikbaar onmoontlike, die ondenkbaar onwaarskynlike, wat ’n besonderse soort uithouvermoë kweek. Dit wat wel bereik kan word, sal ons buitendien nooit tevrede kan stel nie. Die mens is van onvergenoegdheid aanmekaargesit, en dis goed so, en reg. Die wete dat daar altyd iets sal wees wat nie kán wees nie, hou ons genadiglik onversadigbaar.

Dankie, Meneer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.