Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Met vonkelwyn en stomp mes die nuwe jaar in
Annemarie van der Walt

Nou gaan ek hier op Oujaar alleen van my stoel af moet spring, want om dit teen 21:00 al te doen voordat die handvol buurgaste die straat moet afsluip, gaan soos kroek voel.

Waar die gespringery vandaan kom? Dis ’n Oujaarstradisie in Denemarke wat my jongste ’n paar jaar gelede met groot oorgawe ná ’n rugsakreis in Viëtnam hier aangedra het (die wêreld is die jonges se ontmoetingsplek), en dit het sommer net sin gemaak om kaplaks! met albei voete in die nuwe jaar te land en die ou jaar se dinge as’t ware te ont-spring.

Toe ons verlede jaar so baldadig gespring het twenty-plenty in, het ons nooit kon raai wát daardie plenty gaan wees nie . . .

Al moet ons die feestyd met droë kele vier, kan ons seker nog die gawes van die druif geniet, korrel vir korrel, soos in Spanje. Wanneer die klok om middernag slaan, word die afgetelde 12 korrels een-een geëet en die 12 maande wat voorlê bedink.

Mag daar in daardie nuwe maande tog weer verre horisonne wees. Ek wou hoeka vir ’n kennis vra waarom stuur hy dan nou een van daardie Facebook-video’s met al die reis- en ander hoogtepunte van 2019, maar dit is ’n simpel vraag.

Meer huiwerig is ek om enige wense vir 2021 neer te skryf, want dit neig na voortvarendheid.

Die droewe reisdroogte van 2020 gaan ek dus besweer soos die Costa Ricaners vanaand: met my reistas om die straatblok hardloop en al die plekname op my wenslys uitroep.

In onse bergdorp met sy grondstrate, moedswillige wildeperde wat doodstil in die donkerte staan en slaap en nuuskierige witkwasjakkalse wat jou terstond in tale laat praat, klink dit na ’n gawe uitdaging.

Meer huiwerig is ek om enige wense vir 2021 neer te skryf, want dit neig na voortvarendheid.

Maar as ’n mens dit soos die Russe verbrand en die assies in vonkelwyn strooi, klink dit meer aanvaarbaar. Ek sal die wegsteekbottel loop soek en sabrage, nek-af slaat met die stomp kant van ’n broodmes by gebrek aan ’n sabel, want dis my paartie-truuk en ek kan nie onthou wanneer laas daar ’n feestelike kans was om dit te doen nie. Met die glas gelig na alle windrigtings waar die twee dogters is, sal ek my gereelde oorgebruik van die oortreffende trap gedenk: verste, verlangste, beangste, blyste.

Daar is sommer ’n handvol Ou- en Nuwejaarstradisies in Ierland: wanneer ’n mens by iemand gaan kuier, gaan jy in by die voordeur, maar vertrek deur die agterdeur. Voorts word enige nare gedagtes of negatiewe energie in die huis verdryf deur ’n spesiaal gebakte brood teen die mure te slaan (dit is ’n ope vraag of ’n Sunbake-brood dieselfde effek sal hê . . .).

En dan dié een, wat my so effe van die ritteltits gee: die identiteit van die eerste persoon wat op Nuwejaarsdag aan jou voordeur klop, is bepalend van hoe die komende jaar gaan verloop. Ek weet presies wie om vadersnaam nie moet kom klop nie.

Vir wie wil jý die voordeur ná 2021 oopmaak?

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Vonkelwyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.