Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Michael le Cordeur: Só moet Jeugdag gevier word
In Oktober verlede jaar het meer as 10 000 studente na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om te betoog teen studentegelde. Foto: Deon Raath

Franklin D. Roosevelt het gesê: “We cannot always build the future for our youth, but we can build our youth for the future.” Die vraag wat ons môre op 16 Junie 2016 onsself moet afvra, is hoe lyk daardie toekoms?

’n Groot deel van die jeug van 2016 is werkloos en sonder enige heenkome of hoop. Baie is desperaat. Vir hulle is ’n plek aan ’n universiteit hul enigste kans op oorlewing. ’n Beurs is ’n geleentheid om kos op die tafel te sit.

Dis die rede waarom studente mekaar vertrap tydens registrasie.

Hierdie feit het ek reeds verlede jaar op ’n kongres van die SA Akademie uitgewys in een van my lesings.

Lesers sal ook onthou dat ek reeds verlede jaar in ’n artikel wat op 16 April in Die Burger verskyn het, gemaan het dat een van die lesse van die verlede is dat alle universiteite voortaan so wyd as moontlik moet konsulteer.

Dit, het ek gesê, sluit die studente in, want die jeug gaan toenemend betrokke wil wees en soms gaan hulle selfs die pas wil aangee. Wat in Oktober 2015 gebeur het, is vandag geskiedenis.

Intussen het baie water in die see geloop en baie is gedoen om transformasie op kulturele, linguistiese en kulturele vlakke aan te spreek. Daarvoor is ons dankbaar, maar dis ’n nimmereindigende proses. Ons durf nie op ons louere rus en vergeet dat waardes soos nasiebou en versoening voortdurend herbesoek moet word nie.

Afrikaans moet nooit weer opgedwing word aan ander nie.
Michael Le Cordeur

Wat Jeugdag betref, behoort universiteite en skole verpligte programme te begin op dié dag.

In 1976 was Afrikaans die taal van die verdrukker. Vandag word Afrikaans gepraat deur sewe miljoen wit, bruin, Indiër en swart mense en het die taal hom reeds bewys as brugbouer en versoeningsmeganisme.

Ons moet Jeugdag benut deur ons kinders in te lig oor die verlede, en die moontlike gevolge van ’n onverskillige omgaan met landgenote se taal.

Wat ek vir Afrikaans verlang, moet ek ook vir ons ander inheemse tale gun.

Hopelik sal politieke leiers nie Jeugdag misbruik om hul eie politieke aspirasies te bevorder nie, maar eerder ’n gesindheidsverandering teenoor ander tale bevorder deur in die openbaar te wys op die waarde van ons inheemse tale.

Ons toesprake moet fokus op die belangrikheid van meertaligheid. Dat suksesvolle interaksie met ander landgenote vereis dat ons soms die gemaksone van Afrikaans moet verlaat en in ander tale kommunikeer.

Dit vra vir ’n nuwe soort opoffering.

Wat ons dus op 16 Junie behoort te vier, is die vermoë van taal om ons land en sy mense, eens so verdeeld, te verenig. Die belangrikste is dat Afrikaans nooit weer aan mede-Suid-Afrikaners opgedwing moet word nie: nie op skool nie, en ook nie aan tersiêre instellings nie.

  • Op dié manier word die herdenking van Jeugdag belangrik en relevant vir alle jongmense in ons land. Michael le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy dien ook in die direksies van die ATKV en die SBA. Lees môre sy herinneringe van 16 Junie 1976.

Meer oor:  Jeugdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.