Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Michael Morris: Gevoel agter die mening is nie te ignoreer nie . . .

Een van die ongemaklikste – en, het ek later besef, mees onbesonne – meningsverskille wat ek nog gehad het was met ’n bejaarde vrou in ’n museum, omtrent ’n dekade gelede.

Sy het ’n tatoeëermerk op haar arm gehad. Dit was nie sommer enige tatoeëring nie, en dit was ook nie sommer enige museum nie: Yad Vashem het my, met daardie 2011-besoek, met ’n indruk van byna ontstemmende kalmte gelaat, terwyl ’n briesie deur die bome aan die westelike hang van Jerusalem se Herzlgebergte ’n mate van verligting van die hitte verskaf het. Binne was dit koeler, en baie stil. Maar daar is niks kalmerends omtrent hierdie gedenkstuk aan dié katastrofe wat die historikus Max Hastings as die “grootste menslike ramp in die geskiedenis” beskryf het nie.

’n Besoek aan dié uitnemende monument oor die massamoord op die Jode is ’n uiters ontstellende ervaring. Sonder om te dink, het ek dit reggekry om dit meer so te maak deur met ons gids, die vrou met die tatoeëring op haar arm, in ’n meningsverskil betrokke te raak.

Die tatoeëring was natuurlik ’n nommer. Wanneer ek nou daaraan dink, weet ek dat ek my mond moes gehou het toe ek die eerste keer die tatoeëermerk gesien het terwyl sy haar dun arm opgelig het om na ’n foto van Duitse soldate te wys, na ons besoekers omgedraai het en – verstaanbaar, miskien selfs geregverdig – verklaar het: “Hulle was diere!’

“Nee,” het ek uitgeroep, “hulle was mense. Is dit nie juis waaroor dit gaan nie? Hulle was mense, soos ons.”

Maar almal was, op die een of ander wyse, spelers in ’n episode van afgryse.

Op daardie oomblik het ek geweet dat ek ’n siddering in haar gestalte veroorsaak het wat, hoewel sonder enige kwade bedoelings, kwetsend was. Ek het, terugskouend, besef dat sy ’n gevoel, en nie ’n idee nie, uitgespreek het, maar dat ek, vasberade om die idee te toets, my daarmee vergenoeg het om die gevoel te verontagsaam.

Ek glo, soos ek dit toe ook gestel het, dat die kwessie van boosheid – die aaklige dinge wat ons aan ander mense doen – ’n menslike probleem is en nie een van onmenslikheid nie. Maar ek kon ’n beter oomblik gekies het.

Terwyl ek in die skadu van die Tweede Wêreldoorlog grootgeword het, het ek ’n groot deel van my lewe hieroor gepieker.

Ek het net verlede week Richard Overy se Interrogations: Inside the Minds of the Nazi Elite (2002) klaar gelees. Dit is ’n samestelling van voor-Neurenberg-onderhoude met Reich-leiers en -funksionarisse van wie baie vir onuitspreeklike dinge verantwoordelik was. Hulle vertoon as volronde menslike figure, feilbaar, skynheilig, maar in staat tot redelikheid, nie sonder prestasie, of sonder toegeneentheid en humor nie. Party kom voor as onverbloemde booswigte, ander as wesens met ’n mate van onbaatsugtigheid. Maar almal was, op die een of ander wyse, spelers in ’n episode van afgryse.

Die boek bevat ’n kort vermelding van apartheid. Overy raak aan die nasionale gewetensondersoek ná die ineenstorting van “korrupte” staatsbestelle sedert 1945 en skryf dan: “Vir die slagoffers van onderdrukking is daar die verdere probleem om daarna saam te leef met diegene wat bygestaan en niks gedoen het nie, wie se gebrek aan burgerlike moed of onbeholpe eiebelang of politieke goedgelowigheid hulle toegelaat het om sonder protes ’n regeringstelsel te verdra wie se dade onmiskenbaar misdadig was.”

Met die lees hiervan het ek nie net gedink aan my voortvarende reaksie op die vrou met die tatoeëermerk nie, maar ook aan my eie gebrekkige Suid-Afrikanerskap, en aan die toetsingsidee dat om ons beste redelike self te wees beteken om te erken dat geskiedenis die som is van nie net gebeure nie, maar ook van gewaarwordinge.

  • Morris is verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV).

Meer oor:  Die Ander Kant  |  Holocaust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.