Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Michael Morris: Onverwagse gebeure kán voorspel word

Die geskiedenis het ’n manier om op die mees onverwagse wyses te verander.

In 2017 het my kollega Frans Cronje ’n gehoor teruggeneem na 1985. PW Botha het besluit om die hervormingsgesinde “oorsteek van die Rubicon”-teks wat sy adviseurs vir hom voorberei het, oorboord te gooi en die Nasionale Party (NP) uitdagend te verseker dat hy “nie bereid is om wit Suid-Afrikaners … op ’n pad na abdikasie en selfmoord te lei nie”.

Wie, het Cronje gevra, sou toe kon droom dat in net meer as ’n dekade “die laaste leier van die magtige NP die minister van toerisme sou wees in ’n African National Congress (ANC)-kabinet, wat rentekoerse sou halveer, die Gear-beleid sou daarstel en die ekonomiese groeikoers na 5% sou terugvoer”?

Só ’n roekelose voorspelling sou in 1985 uit die staanspoor verwerp word. En tog: gebeure is dalk lastig om te voorspel omdat die gevolge moeilik bedink kan word, maar dit is nie heeltemal onberekenbaar nie. Die geskiedenis word nie deur uitheemse of geheimsinnige faktore aan ons opgedwing nie, maar dit tref ons deur die stukrag van mense, hul veelvuldige keuses en begeertes.

Die gevolge is dalk moeilik om te voorsien, maar die onderliggende fundamentele kwessies is byna altyd aantoonbaar.

Indien die fundamentele sake oor die hoof gesien word, sal die gevolge nie vermy kan word nie.

Daarom is dit hier in Januarie 2020 relevant om weer te kyk na Cronje se 2017-betoog oor Botha en 1985.

Suid-Afrika was weke weg van die ANC se Nasrec-kongres van Desember 2017. Niemand was seker wie sou wen nie. Maar sou die uitslag beslissend wees? Cronje het gesê die vorm wat dinge sou aanneem sou nie gerig word deur korttermyntendense wat die land skynbaar in een of die ander rigting sou stuur nie, maar eerder deur langertermyn-patrone en dinamika wat ’n rol sou speel in die besluite en beweegruimte van wie ook al ANC-leier sou word.

Cronje het vier kenmerke van die landskap uitgesonder:

* Geloofwaardige peilings wat toon dat Suid-Afrikaners redelike, gematigde opinies verkies bo ekonomiese en politieke populisme en rassenasionalisme;

* Algemene vertroue daarin dat die land ’n funksie is van die welsyn van gesinne en huishoudings (werkgeleenthede, inkomste, ensovoorts) eerder as opvattings van politieke mislukkings, korrupsie of hoofopskrifte oor staatskaping;

* Hoë verwagtinge gegrond op die werklike verbeterings in die lewens van mense ná 1994, wat gelei het tot ’n stygende sin van gegriefdheid (en protes) omdat daar, ná ekonomiese en ander mislukkings van die regering na 2008, nie aan die verwagtinge voldoen is nie;

* En die onontkombare waarheid dat nie aan verwagtinge voldoen kan word nie sonder strukturele hervormings wat kan lei tot beleggergeleide groei en onder meer die herstel van die onderwysstelsel, wat miljoene swak geskoolde jong mense tot werkloosheid verdoem in ’n toenemend hoëvaardigheidsekonomie.

Dit is ’n ontnugtering – en behoort vir pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet ontnugterend te wees – dat dit is waar ons ons twee jaar later steeds bevind. Indien die fundamentele sake oor die hoof gesien word, sal die gevolge nie vermy kan word nie. Vir ons almal – die regering en die samelewing – is die uitdaging, soos Cronje dit in 2017 gestel het, om ons voor te berei om die ondenkbare te probeer voorstel eerder as om uitkomste buite rekening te laat wat ons nie kan glo kan dalk gebeur nie.

Meer oor:  Frans Cronje  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.