Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Midde-Ooste: Moet nie dié sukses oordryf

Dis sekerlik te vroeg om die normalisering van die betrekkinge tussen Israel enersyds en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Bahrein andersyds as “ ’n nuwe daeraad” te beskryf, soos pres. Donald Trump vandeesweek gedoen het.

Dis ook te vroeg om te sê dit “verander die gang van die geskiedenis”, soos die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, gesê het.

Wat beslis nié ontken kan word nie, is dat dit goeie vordering op die pad na vrede in die Midde-Ooste verteenwoordig. En vir sy fasiliterende rol moet Trump en sy regering ’n belangrike deel van die krediet kry. Maar die sukses moet ook nie oordryf word nie.

Twee nuanses is nodig: Ten eerste is die VAE en Bahrein geen swaargewigte in die Arabiese wêreld nie. Hulle is klein sjeikdomme wat min invloed in die Midde-Ooste uitoefen. As dié sukses kan lei tot die normalisering van die betrekkinge tussen Israel en – sê maar – Saoedi-Arabië, sou dit ’n ander saak wees. Dié land is minstens ewe invloedryk as byvoorbeeld Egipte of Iran, maar daar is geen teken dat só iets op kort termyn gaan gebeur nie.

Tweedens is die betrekkinge tussen Israel en dié twee staatjies al lank taamlik ontspanne. Die aanknoop van diplomatieke betrekkinge is eintlik maar die formalisering van ’n situasie wat al jare lank in die praktyk bestaan.

Nietemin, dis ’n belangrike simboliese deurbraak. Dit kan naamlik die damwal in die Midde-Ooste wat die aanvaarding van Israel se bestaan teenhou, laat bars – en dááruit kan verdere ontwikkelings spruit.

Dit is wel ’n belangrike simboliese deurbraak en goeie vordering op die pad na vrede.

Israel moes natuurlik ’n prys vir die vordering betaal. Hy moes die voortskrydende inperking van die Palestyne op die Wesoewer van die Jordaanrivier stopsit. Dit beteken dat die “tweestaat-oplossing” weer ’n lewensvatbare opsie kan word: met ander woorde, ’n soewerein onafhanklike Palestynse staat op die Wesoewer en die Gasastrook náás Israel as tuisland vir die Jode.

In teorie is die oplossing vir die Midde-Ooste maklik: Erken Israel as Joodse tuiste en skep daarnaas ’n tuiste vir die Palestyne. Die probleem is dat die regering van Natanyahu die laaste jare slegs lippediens hieraan bewys het.

In die praktyk is geleidelik steeds meer grond van die Palestyne afgeneem. Dit pas in Netanyahu se droom van ’n Groot-Israel wat sowel die staat Israel as die Wesoewer en die Gasastrook omvat. Die Palestyne moet maar óf ’n onderhorige status aanvaar óf na Jordanië uitwyk. Netanyahu moes dié proses nou stop as deel van die ooreenkoms.

Solank hy aan die bewind is, sal die tweestaat-oplossing sekerlik nie verwerklik word nie, maar die fondament daarvoor bly nou minstens bestaan sodat ’n volgende regering daarop kan voortbou.

Die duisendjarige vredesryk het nie aangebreek nie. Maar hy is dalk effens nader.

Meer oor:  Midde-Ooste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.