Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Middelgrond: ANC moet dink oor versoening

Vir Suid-Afrikaners is Versoeningsdag ’n baken. Vir sommige is dit Geloftedag, ’n herinnering van die Slag van Bloedrivier toe God die Voortrekkers teen ’n Zoeloe-oormag beskerm en bewaar het. Vir ander is dit iMpi yaseNcome, die dag waarop 3 000 krygers hul lewens opgeoffer het ter beskerming van hul grondgebied.

Vir talle is dit bloot die inleiding tot die vakansietydperk. Kantoorwerkers sluit hul deure vir die volgende paar weke. Fabriek- en konstruksiewerkers pak hul oorpakke en gereedskap weg.

Vir diegene wat dit kan bekostig lê ’n uittog na ’n vakansiebestemming voor.

Vir ander is dit die geleentheid om weer ’n slag tuis te kom.

Sulke vooruitsigte is nie almal beskore nie. Derduisende van ons landsburgers sit sonder werk en probeer ’n waardige lewe lei in oorbevolkte krotbuurte en stedelike agterplase. Dié haglike omstandighede tas hul menswaardigheid aan.

Hein Willemse

Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners het verwag dat hul lewensomstandighede, meer as 25 jaar ná die oorgang tot demokrasie, drasties sou verbeter. As verkose regering het die ANC ’n uitgesproke pakt met alle Suid-Afrikaners aangegaan dat mense se lewe sal verbeter; dat hulle groter samehorigheid sal bewerkstellig en die land met oordeel sal bestuur.

Van dié voornemens is slegs ten dele vervul. Van ander het daar dadels gekom. Daar gaan seker nie ’n dag in die land verby sonder ’n betoging oor dienslewering nie. Meesal betoog mense oor daardie basiese geriewe: behuising, water, elektrisiteit, paaie en indiensneming. In townships hang die stank van rioolvuil in die lug, in dorpe gaan mense hul gang langs vuil en morsige strate, terwyl munisipale amptenare in blink motors behendig verby slaggate swenk. In menige distrik, provinsie en staatsonderneming is die nagevolge van agteruitgang, korrupsie en wanadministrasie waarneembaar.

Hiervoor moet die ANC pa staan. Niemand sal mense kwalik neem as hulle van mening is dat die ANC skuilte bied vir (vermeende) bedrieërs, diewe, skelms en rampokkers nie. Die party behoort ook veel meer te doen om samehorigheid te bewerkstellig sodat die belewing van uitgeslotenheid wat onder sektore van die land se mense voorkom, teengewerk kan word.

In ’n volwasse demokrasie sou die ANC waarskynlik reeds die voorreg om te regeer verloor het.

Die party regeer nie ter wille van homself nie, maar ter wille van die mense. Dit is die ménse van die land wat met hierdie wanadministrasie, korrupsie en gebrek aan dienslewering versaak word. Elke keer as die ANC-leiers hul kop in die grond steek oor beweerde misdade of ’n (beweerde) rampokker probeer beskerm, verraai hulle die vertroue wat landsburgers in hulle gestel het. Die party skend ’n vertrouensverhouding wat duur gekoop is.

Terug by versoening, wat in wese relasioneel is. Dit behels ’n erkenning van skuld, boetedoening, ’n behoefte tot die herstel van geskende verhoudings, reparasie en vergifnis. Veel belangriker is die algemene staat van moraliteit wat gevestig word. Die grense van reg en verkeerd word neergelê, want versoening is nie net ’n afrekening met die verlede nie, maar die skepping van ’n nuwe toekoms. Die slagoffer en oortreder probeer ’n pad van heling, voortbestaan en die limiete van die nuwe verhouding bewerkstellig.

In ’n volwasse demokrasie sou die ANC waarskynlik reeds die voorreg om te regeer verloor het. Tans is ons opposisiepartye as nasionale mededingers egter oneffektief. Juis daarom moet die mate van skulderkenning wat by leiers soos pres. Cyril Ramaphosa bestaan, omgeskakel word in aktiewe pogings om ’n geskende verhouding te herstel.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie in die departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Menings  |  Middelgrond  |  Hein Willemse  |  Versoeningsdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.