Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Militantes in die bek geruk
BLF-leier Andile Mgxitama staan joernaliste te woord by die OVK se uitslagsentrum tydens vandeesmaand se nasionale verkiesing. Foto: Felix Dlangamandla

So tussen die pas afgelope verkiesing se rommelhoop van niksseggende politieke partye wat geen setel in die parlement kon verower nie, is daar veral twee wat die land se nuwe president breed sal laat glimlag.

Die een is Black First Land First (BLF), wie se leier hom gereeld skuldig maak aan onsinnigheid oor die algemeen en haatspraak in die besonder, en ook sy volgelinge (wat maar dun gesaai is) aanhits tot onwettige optrede, veral oor die besetting van grond.

Dié party het sowat 0,11% van die stemme in die verkiesing op hom verenig, wat beteken dat sy steun vir ’n radikale benadering tot nasionalisering van eiendom beperk is tot slegs een persoon uit 1 000 wat gestem het.

Noudat die verkiesing verby is en daar onteenseglike bewyse is van die onaanvaarbaarheid van die BLF se Stalinistiese uitgangspunte, sal dié party se leiers moet lig loop en hul woorde moet begin tel, anders gaan hulle beslis met heelwat dagvaardings en aanklagte by die Menseregtekommissie begin stoei.

Tweedens het Irvin Jim se sosialistiese party (die Socialist Revolutionary Workers Party – SRWP) ook lelik in die stof gebyt met slegs 0,14% van die stemme, ondanks die ondersteuning van Zwelinzima Vavi se nuwe vakbond, Saftu.

Die loesing wat die SRWP in die verkiesing toegedien is, het ’n duidelike boodskap aan ander sosialisties gesinde vakbonde gestuur.

Voor die verkiesing het die SRWP nogal gespog met ’n berekening dat as 100 000 lede van Numsa vir hom stem, saam met elkeen se eggenote en een vriend, kan dit sewe parlementêre setels oplewer.

Die uiteinde van hierdie droom, wat natuurlik ook ’n proeflopie was om linksgesinde vakbonde se steun onder die land se algemene publiek vas te stel, was toe nul setels!

In die proses het die SRWP (lees: Cosatu en Saftu) die land se ekonomiese beleidmakers ’n reuse guns bewys deur te wys dat populistiese vakbonde se menings oor beleid nie juis ernstig opgeneem hoef te word nie.

Die loesing wat die SRWP in die verkiesing toegedien is, het ’n duidelike boodskap aan ander sosialisties gesinde vakbonde gestuur, naamlik dat die ANC se handelsmerk nog sterk genoeg is om sonder die hulp van enige vakbond oor die weg te kom.

Hopelik sal pres. Cyril Ramaphosa en sy nuwe span, wat waarskynlik swaar op Tito Mboweni se aanbevelings sal steun, die verwerping van die SRWP se sienings in ag neem wanneer die nuwe groeigerigte beleid opgestel word.

Die SRWP het geen geheim daarvan gemaak nie dat sy beleid op ’n kombinasie van Marxisme en Leninisme gegrond is – ’n beleidsbenadering wat tot die vernietiging van die ekonomieë van Zimbabwe en Venezuela gelei het.

Die belangrikheid van die SRWP se klaaglike mislukking by die stembus is geleë in Ramaphosa se beloftes oor die verwydering van struikelblokke in die pad van hoër groei en werkskepping.

Suid-Afrika se huidige arbeidswetgewing is een van die vernaamste redes waarom beleggers huiwerig is om in nuwe produksievermoë te belê.

Klinkklare bewyse hiervan kan in die land se rangorde vir arbeidskwessies in die Wêreld- Ekonomiese Forum se jongste verslag oor internasionale mededingendheid gevind word.

Die oplossing is verspot maklik en is amper twee dekades gelede deur oudpres. Thabo Mbeki voorgestel, naamlik ’n tweeledige stelsel van arbeidswetgewing, wat ondernemings met ’n omset van minder as ’n vasgestelde perk (sê nou maar R10 miljard per jaar) vrystel van die meeste van die wetgewing se regulasies (insluitend rasgegronde teikens).

  • Cosatu, Saftu en hul maatjies moet pasop – hulle staan in die pad van Suid-Afrikaners wat werk soek en die nuwe ekonomiese beleid kan hulle dalk binnekort inhaal. Dr. Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Populisme  |  Verkiesing  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.