Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Miljoene kilometer bring wonderwerke byeen

Hy het hom op dieselfde dag verwonder aan die Ingenuity-helikoptertjie op Mars en ’n piepklein geitjie, skryf MC Botha.

Die maan is 800 keer nader aan die aarde as Mars. Foto: MC Botha

Toe Neil Armstrong op 20 Julie 1969 die eerste mens geword het om voet op die maan te sit, was ek ’n knaap van 14.

Ons gesin het pas van ’n wintervakansie op Hermanus die lang pad teruggevat na Pretoria maar ons volg die gebeure op die motor se radio se kortgolfband. Die sein breek hier en daar op, wat my pa noodsaak om die motor van die pad af te trek neffens die Botriviervlei, op ’n plek waar die sein redelik helder is.

Daar sit ons toe in spannende afwagting en hoor eindelik Armstrong se stem krakerig oor die eter: “One small step for man, one giant leap for mankind.”

Nou is dit meer as ’n halfeeu later, 19 April 2021.

MC Botha

Ek sit vasgenael voor my rekenaarskerm en volg Nasa se direkte YouTube-stroming vir die opstyg van Ingenuity, die eerste mensgemaakte tuig om op ’n hemelliggaam, in dié geval Mars, te vlieg.

Mars is 300 miljoen kilometer vanaf die aarde, dit wil sê sowat 800 keer verder as die maan van die aarde – ’n klein rooierige spikkeltjie in die hemelruim as jy weet waar om te kyk.

En daar sit ek saam met miljarde ander op aarde en sien eindelik hoe die helikoptertjie opstyg, ’n ruk in die lug hang en weer neerstryk. Honderde wetenskaplikes, ingenieurs en ruimtevaartdeskundiges het jare lank gewerk om op aarde toestande te probeer naboots wat geld op Mars wat skaars ’n atmosfeer het en veel laer gravitasie. Indien Armstrong 80 kg geweeg het en die eerste mens was om ook op Mars te stap, sou hy daar net 30 kg weeg.

Nie dat hy daar sou kon asemhaal nie, want Mars het nie suurstof nie, maar gelukkig het Ingenuity se moedertuig, Perseverance, reeds aan dié probleem vir ’n volgende geslag begin werk: terwyl die helikoptertjie bo die oppervlak gehang het, het Perseverance reeds eenkant gestaan met ’n houertjie suurstof wat uit Mars se “lug” – koolstofdioksied – omgetower is.

Het dit julle ook opgeval? Die eerste foto wat Ingenuity geneem het, was nie van ’n pragtige Marslandskap nie, maar van sy eie skaduwee. ’n Skaduwee deur dieselfde son gegooi as jou skaduwee op aarde.

Maar dinge kom selfs nader.

Versteende helikoptertjie

’n Volwasse geitjie stap op ’n muur. Foto: MC Botha

Dié aand voor ek gaan slaap sien ek ’n piepklein geitjie op die vloer langs my bed. Ek tel hom versigtig met ’n vel papier op en sit hom in my handpalm. Skaars 2 cm groot. Hy moes dae gelede uit sy eiertjie lewenslig toe gebeur het.

Wonderlike diertjies – hulle is snags aktief en ek voel geëerd om ’n kleintjie in my kamer welkom te heet. Hulle vang en vreet allerhande lastige goggas soos muskiete.

Nou hou ek die dingetjie aandagtig dop. Hy gee een treetjie met sy linkervoorbeentjie vorentoe. Ek kan my oë nie glo nie: daardie liggaamsdeeltjie is nie dikker as ’n menshaar nie. Na ’n ruk kom ’n agterbeentjie ook vinnig vorentoe.

Vir die eerste keer, omdat dit so klein is, sien ek elke beentjie eindig in ’n voetjie met ’n klompie minuskule toontjies.

Die dag het my uitgeboul: eers Ingenuity, daarna die babageitjie.

In absolute bewondering hou ek die diertjie dop: hoe klein moet sy brein nie wees nie? Tog heeltemal groot genoeg vir die diertjie om behoorlik sy weg op die spreekwoordelike maanlandskap van my handpalm te kan vind.

Ek hou my hand teen die muur. Stadig klim hy af, die muur op, reguit teen Newton se gravitasiewette. Loodreg hang hy daar: ’n versteende helikoptertjie.

Die dag het my uitgeboul: eers Ingenuity, daarna die babageitjie.

Elkeen ’n wonderwerk in eie reg, maar in my gees het ek hulle ervaar as twee wêrelde saamgesnoer in een oorkoepelende ruimte.

• MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Neil Armstrong  |  Mc Botha  |  Mars  |  Maan  |  Perseverance  |  Ingenuity
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.