Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Min kom naby die vasbyt van ’n Nissan 1400

Iewers in verlede jaar het ek daarmee begin. Sien ek ’n Nissan 1400-bakkie iewers staan, gaan vra ek vir die eienaar of ek ’n foto van hom of haar by die bakkie kan neem.

Dana Snyman

Meestal probeer ek ’n geselsie aanknoop: Wat is sy of haar naam? Hoe lank het hy of sy al die bakkie? Hoeveel kilo’s het dit op die klok?

Baie van die bakkies se afstandmeters werk nie meer nie of die eienaar sê vir jou: “Man, hy het al soveel keer oorgeslaat, ek weet nie meer hoeveel het hy op nie.”

Nissan het in 2008 opgehou om die 1400-bakkie te vervaardig.

Op Karatara naby George het ’n vrou in ’n moeë stem vertel hul gedaan groenetjie het al “meer as ’n miljoen gedoen, maar ons soek nou na ’n ander bôddie vir hom.” Dit het byna geklink of sy oor haarself praat. Sy sit in ’n rolstoel, haar een been geamputeer.

Die eerste een wat ek afgeneem het, was Kallie Andrew s’n op Stofkraal in Namakwaland. So ’n blouetjie wat wielloos in sy jaart staan en moontlik eers weer met die oordeelsdag die pad sal kan vat.

Man, hy het al soveel keer oorgeslaat, ek weet nie meer hoeveel het hy op nie.

En dan is daar oom Sakkie Esterhuyse­ van Vredenburg wat trots by sy blinkgevryfde klein koets poseer, in sy sandale, met ’n pen in sy strepieshemp se bosak. In die paneelkissie die diensboekie volledig op datum.

En hier staan Jerome Juries van Franschhoek by sy rooietjie. Die bakwerk is effe laat sak en die enjin opgezoep. Op ’n Saterdagaand skeur hy laag en skril in Pniël se koers.

Jy steek allerhande grense oor wanneer jy Nissan 1400-bakkies begin afneem. Op Sutherland neem ek vir Madie du Plessis by haar wit 1400 af. “Jy moet met Gieries praat,” sê sy en vertel ’n storie van hierdie Gieries se rooi 1400 wat jy nie kan glo nie.

Ná heelwat soek spoor ek hom in Sutherland se township op: Gert Jafta, alias Gieries. Hy bevestig Madie se storie: ’n Paar jaar gelede het ’n fratsvloed sy pa en ma en broer in ’n rivierloop meegesleur in die rooi 1400. Byna ’n week later is die drie se lyke uit die bakkie onder ’n vrag modder gehaal. Ná die begrafnis het Gieries en ’n werktuigkundige die 1400 uitgesleep en begin ontmodder. “En kyk net.” Gieries beduie na die wedergebore, rooi 1400 voor sy huis. “Ek was gister met haar Ceres toe.”

Hoekom ek die 1400’s begin afneem het, weet ek nie. Miskien is ek onbewustelik in opstand teen hulle wat sê niks bind ons meer saam in hierdie stukkende land nie. Ek het al meer as 50 foto’s van sulke bakkies geneem. Mobien Saied by sy groene op Moo­kgophong, Canada Mafokeng by sy sat bloue op Clarence wat net deur desperate gebed aan die loop gehou word, twee ouens wat ’n wittetjie met ’n vrag hout op naby Fochville stoot . . .

Soms sê ek vir Erna, my vriendin, ek gaan die foto’s vir Nissan se hoofkantoor stuur, dan nooi hulle ons Japan toe, dan staan ons daar in Japan en drink saki terwyl ek vir Nissan se grootkoppe die foto’s wys en vra of hulle nie maar asseblief weer die 1400-bakkie in Suid-Afrika wil begin vervaardig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.