Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Min om te vier in Afrika
Foto: ISTOCK

Dinsdag is Afrikadag gevier, maar die huidige toestand van die sosio-politieke en ekonomiese landskap op die vasteland is niks om te vier nie.

Ek klink dalk negatief, maar dis hoe ek voel oor die vasteland wat ek en 1,3 miljard mense ons tuiste noem. Pleks om iets te vier, het ons iets om oor te rou, want Afrika beleef ’n leierskapskrisis en die meeste Afrikalande se instellings is verswak.

Natuurlik was daar vordering ná jare van slawerny en kolonialisme. En daar is goeie stories oor ontwikkeling, sterk instellings en geloofwaardigheid. Botswana is ’n voorbeeld van ’n land wat sy diamante gebruik om homself en sy mense te ontwikkel.

Nog ’n goeie storie is dalk hoe Suid-Afrika en ’n paar ander lande die Covid-19-pandemie hanteer het.

Sommige waarnemers sê Afrika, met byna 17% van die wêreldbevolking, het die pandemie heel goed hanteer. Dis weer toe te skryf aan goeie leierskap, hoewel nie foutloos nie, veral soos in Suid-Afrika gesien word.

Terselfdertyd moet gesê word dat sommige lande op die vasteland oneerlik is in die aanmelding van infeksies en die bestaan van die virus ontken, wat lei tot verdere sterftes.

Kultuur van korrupsie

Wat leierskap betref, gaan Afrika gebuk onder leiers wat onbevoeg en moreel bankrot is.

In Suid-Afrika speel die sage van staatskaping hom voor die Zondo-kommissie af. Die stories wat daar uitkom, dui op ’n groeiende kultuur van korrupsie, wat uitgeroei moet word as Suid-Afrika nie soos ander Afrikalande deur korrupsie vernietig wil word nie.

Nigerië voer ’n stryd teen ’n stelsel van sistemiese korrupsie wat diep in die land se sosio-politieke en ekonomiese vesel ingevreet het.

Dis ’n verlore stryd, want pres. Muhammadu Buhari is duidelik onbevoeg om die probleem uit te roei. Toe hy in 2015 aan die bewind gekom het, het hy belowe om korrupsie en onsekerheid in die land te beveg. Nou, ’n paar jaar in sy tweede termyn, is Nigerië in ’n erger toestand as toe hy aan die bewind gekom het.

Mense meen selfs Buhari se veldtog was die grootste bedrog wat Nige-riërs tot nog toe beleef het sedert onafhanklikwording in 1960.

Die meestal ouer wordende regeerders het Afrikalande in die steek gelaat weens hul drang na mag, onbevoegdheid om te regeer en gebrek aan morele en politieke wil om sterk instellings te vestig. Van hulle moet nog leer wat demokrasie en die wil van die mense regtig beteken.

Daar is ’n lang geskiedenis van presidente op die vasteland wat grondwette laat wysig sodat hulle langer in hul amp kan aanbly. Neem as voorbeeld Yoweri Museveni van Uganda, wat in 2005 hof toe is om die ouderdomsperk van presidente te wysig sodat hy aan vanjaar se verkiesing kan deelneem. Hy is vir ’n sesde keer ingehuldig as president te midde van bewerings van ongerymdhede in die verkiesing. Dit sluit in voorvalle van intimidasie en ’n verbod op die gebruik van die internet.

‘Afrika-demokrasie’

Dis pateties om te hoor dat Museveni “demokraties verkose” as antwoord gereed hou wanneer daar enige suggestie is dat hy ’n diktator is wat ’n diktator (Idi Amin) uit die kussings gelig het.

Dit is interessant om te sien dat leiers wat langer wil regeer, aanvoer dat demokrasie in Afrika nie vergelyk kan word met demokrasie in die VSA of Europa nie. Volgens dié leiers is demokrasie nêrens ter wêreld perfek nie en moet hulle dus uitgelos word om hul begrip van demokrasie te beoefen. Die voorbeeld van oudpres. Donald Trump van die VSA wat weier om te glo dat hy in ’n verkiesing verslaan is, word gebruik om dié argument te ondersteun.

Dit lyk asof sommige Afrika-leiers demokrasie in hul lande eiehandig omgeskakel het in ’n monargie. Dit spruit uit hul wens om aan te hou regeer totdat hulle sterf.

Sterk instellings nodig

Indien politici in Afrika hul onderskeie lande vorentoe wil neem, moet hulle leer om hul termyn uit te dien, te vertrek wanneer dit tyd is en mag te oorhandig.

Verkiesings en die wil van die mense is belangrik en vir dít om te seëvier is sterk instellings nodig.

Ongelukkig het die meeste Afrikalande nié sterk instellings nie omdat onbevoegde politici wat moreel bankrot is, dié instellings ten gronde laat gaan het. As ons iets goeds soek om te vier, moet hierdie hartseer situasie reggestel word.

Politici in Afrika moet respek leer: Respek vir die land en vir sy mense. Dit kan hulle doen deur te aanvaar wanneer hul tydperk van regering verby is en hul ampte in vrede verlaat.

Daarmee saam moet sterk instellings gevestig word om ware demokrasie te help stabiliseer en deeglike ontwikkeling te help bewerkstellig. Gebeur dit, het ons dalk iets te vier oor Afrika.

  • Dr. Onwuegbuchulam is oorspronklik van Nigerië en is ’n navorsingsvennoot van die sentrum vir geslag en Afrika-studies aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Muhammadu Buhari  |  Afrika  |  Korrupsie  |  Kultuur  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.