Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Minder skree en meer besin straks nodig

My kop wentel tans om ’n boek wat pas verskyn het: Azille Coetzee se In my vel.

Dit is deels ’n reisverhaal, deels ’n memoire, deels ’n besinning oor haar situasie in Suid-Afrika as ’n jong, bevoorregte wit Afrikaner. Sy gaan na Nederland vir haar doktorale studies in filosofie waar sy haar daarin verlustig om haar gevoelens van wit skuld soos ’n swaar vel af te skud en die gemak te geniet van ’n samelewing waar almal wit is, niemand oor hierdie vraagstukke wroeg nie, ’n mens vrylik kan beweeg en alles reëlreg werk. Maar ná ’n ruk begin Nederland aan haar skaaf. Dit is net te gemaklik. In Suid-Afrika wroeg ons, in Suid-Afrika stry ons en in Suid-Afrika is alles wat ons doen met betekenis gelaai. “Wat is dit wat so verslawend is aan Suid-Afrika?” skryf sy.

Lindie Koorts

“Wat is dit wat so ’n houvas op ons het, dit wat so baie van ons nie bereid is om op te offer nie, selfs nie in ruil vir die plesier van orde en onfeilbare doeltreffendheid êrens anders nie?” Sy besluit om haar lot by Suid-Afrika in te werp, sê haar Nederlandse verblyfreg op en keer terug.

Die Suid-Afrika wat sy hier aantref, is glad nie maanskyn en rose nie. Universiteitskampusse brand en daar is woedende debatte oor dekolonisering en witheid. In die Afrikaanse gemeenskap gaan dit nie veel beter nie. “Ek kom baie vinnig agter dat dit deesdae in Suid-Afrika riskant is vir wit Afrikaners om politieke opinies op publieke forums uit te spreek, die kritiek reën van alle kante af neer,” skryf sy.

“Soms voel dit of my taal en velkleur op sigself enige opinies wat ek mag hê, diskrediteer. Maar selfs meer as die kritiek van swart en bruin Suid-Afrikaners, kritiek wat dikwels heeltemal geldig is, vrees ek die irrasionele en vyandige aanvalle van daardie groep luide konserwatiewe Afrikaners wat hul woede en vrees ongenadig rig teen al die ‘volksverraaiers’. So word ek weer eens ’n doodstil wit Afrikaner, wat nie hardop deelneem aan die belangrike gesprekke wat ons almal in hierdie land behoort te hê nie. En sodoende bydra tot die instandhouding van die aanname dat die paar Steve Hofmeyrs van die lewe namens alle wit Afrikaners praat.”

Ek skryf ’n resensie oor die boek, bestel ekstra eksemplare om uit te deel, vertel my boesemvriendinne in die buiteland daarvan en wonder: Waarom is daar nie meer sulke stemme nie?

Hoe bewoon ek hierdie identiteit en hoe leef ek met al my bevoorregting op ’n herstellende, transformerende en etiese manier? Is dit moontlik?

Stemme van mense wat bewustelik en openlik Afrikaans is, wat die taal en die land liefhet, maar nogtans ook die ongemak van ons verlede in die oë kyk, oor hul identiteit nadink en hulself, soos Azille Coetzee, afvra: “Hoe kan ek, as wit bevoorregte Afrikaanse Suid-Afrikaner, ’n etiese bestaan in Suid-Afrika voer? Hoe moet ek leef in ’n land waar my identiteit, taal en kultuur onlosmaaklik verweef is met ’n koloniale geskiedenis van verskriklike onderdrukking? En waar die bevoorregting waarmee ek leef moontlik gemaak is deur die uitbuiting en onderdrukking van ander?

“Hoe bewoon ek hierdie identiteit en hoe leef ek met al my bevoorregting op ’n herstellende, transformerende en etiese manier? Is dit moontlik?”

As historikus sal ek onmiddellik ’n saak uitmaak vir ’n komplekser beeld van ons ver­lede, maar dit neem nie weg van die kern van die vraag nie. Sulke vrae kan ons debatte verdiep, maar diegene wat dit vra, word doodgeskree. Dit maak ons almal armer. Sal dit nie ons plek en ons toekoms in hierdie land houdbaarder maak as ons minder skree, en meer besin nie?

  • Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Azille Coetzee  |  Suid-Afrika  |  Nederland  |  Jong  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.