Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Minder soesji, meer dienste

Is die land onderdeur? Of dobber ons soos ’n beginner-swemmer op die oppervlak rond met ’n reddingsbaadjie aan en loer angstig rond hoe ver ons van die swembad se rand af is?

Want ’n mens weet wragtig nie of jy moet lag of net onbedaarlik aan die grens moet gaan nie. Dis mos ’n absolute skande dat net 18 munisipaliteite in die land ’n skoon oudit kan kry.

As ons die som moet maak, dop meer as 90% van die munisipaliteite in die land dus die toets van finansiële verantwoordbaarheid.

Iewers is ’n groot skroef los as net 18 uit 257 munisipaliteite rekenskap kan gee van hoe geld aangewend is. Los maar daai praatjies vir die vaak van munisipaliteite wat ’n gekwalifiseerde oudit gekry het omdat hulle verslae laat ingestuur is.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Vrydag amper half verontwaardig ge­reageer toe hy gesê het iets fundamenteels is verkeerd as so min munisipaliteite skoon oudits kry.

Mogoeng het die waarheid nog nader gesleep toe hy gesê het dat ons verkiesingsproses swakplekke het.

“Ek dink dus ons moet begin dink aan toetse waaraan mense onderwerp moet word voordat hulle in poste van verantwoordelikheid aangestel word.

“Want dit maak saak wie die president van die land is. Dit maak saak wie ’n minister word. Dit maak saak wie ’n burgemeester en ’n premier word,” aldus die hoofregter.

Dankie en amen, geagte hoofregter, maar hoe kry ons die boodskap by die politieke prinsipale uit?

Die meeste druipelinge, volgens die ouditeur-generaal, is waar die ANC die septer swaai. Wat ’n aanklag, en beslis nie iets waarop die burokrate in Luthuli-huis trots kan voel nie.

Plaaslike regering is seker die belangrikste vlak van regering, want hier werk jy op grondvlak en moet jy die gemeenskap elke dag in die oë kyk.

Dit is op plaaslikeregeringsvlak waar jy die armoede, die moedeloosheid en die uitsigloosheid van inwoners eerstehands ervaar. Maar nee, die ANC-kohorte en ontplooide kaders sien dit as die trog waaruit hulle kan skep en waarin hulle hul snoet diep kan druk.

En so word die mense – die einste mense vir wie jy jou diensbaar gestel het – net agterweë gelaat en vergeet.

Nou verstaan ek ook meer as ooit hoekom daar ’n toename in diensleweringsbetogings is, want die kripvreters is besig om hulle blinkbek te eet aan die soesji pleks van om die mense te dien.

Jy kon dit nog nooit bekostig om soesji te eet nie, maar noudat jy ’n raadslid met ’n vet salaris het, wil dit voorkom asof jy soesji by geboorte ingekry het.

Só word die hulpbronne van die munisipaliteit straffeloos geplunder en hulle voel vere, want hulle is in beheer.

In daardie tuiste is dit in die haak vir die trogvreters, want soos hulle onbeskaamd glo: Dit is ons beurt om te eet.

Dr. Louis Scheepers, ’n deurwinterde staatsdiens-ekspert, het die afgelope week ’n SOS-sein op sosiale media gestuur en gevra dat plaaslike regerings gered word.

Scheepers gee goeie advies, en dit is dat politieke partye die regte mense as raadslede aanwys. Die tweede, wat hieraan gelykstaan, is dat munisipaliteite die regte aanstellings doen wat senior bestuurders betref. Scheepers se derde versoek is dat die nasionale regering die regulatoriese omgewing minder ingewikkeld maak.

Hoor iemand Scheepers se smekinge? Ek vermoed hy is ’n stem roepende in die woestyn. Jammer, doktor, die kaders gaan jou nie antwoord nie.

Ons kan apartheid vir baie dinge blameer, maar vrot regering is vir die kaders se eie rekening.

Nou verstaan ek ook meer as ooit hoekom daar ’n toename in diensleweringsbetogings is, want die kripvreters is besig om hulle blinkbek te eet aan die soesji pleks van om die mense te dien.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Suid-Afrika  |  Munisipaliteite  |  Oudits  |  Dienslewering  |  Land
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.