Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ministers van ‘vreugde en verdraag-saamheid' nodig
Barnard Beukman

Nee, dis nie uitgedink vir die rubriek nie. Dit bestaan regtig in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Min of meer in dieselfde tyd as wat pres. Jacob Zuma onlangs sy soveelste rampspoedige kabinetskommeling gedoen het, was daar ook ’n omvattende skommeling in die VAE-kabinet.

Suid-Afrikaners kan net leepoog toekyk na van die portefeuljes wat daar deur minsters beklee word. Dit sluit in: toekomstige voedselsekerheid, kunsmatige intelligensie, klimaatverandering en omgewing, kultuur en kennisontwikkeling, kabinetsake vir die toekoms, gevorderde wetenskappe asook hoer onderwys en gevorderde vaardighede. Duidelik ’n land wat toekomsgerig is.

Boonop is daar ‘n minster van verdraagsaamheid, wat dit in die VAE en in die streek moet bevorder. En nou ook ’n 22-jarige jeugminister.

Die minister van vreugde moet dit bevorder, want “mens het ’n reg daarop om gelukkig en vreugdevol te wees en die staat het ‘n rol daarin”.

In bykans al die terrreine kan redes en gewyse aangevoer word waarom Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting beur of ’n kreeftegang beleef.

Pres. Jacob Zuma se binnekring van staatskapers, selfverrykers en nou ook mafialeiers het geen begeerte vir toekomsbeplanning nie. Die klomp stroop bloot voor die voet.

Pres. Jacob Zuma se binnekring van staatskapers, selfverrykers en nou ook mafialeiers het geen begeerte vir toekomsbeplanning nie.

Die VAE-lys laat mens net besef hoe agter ons geraak het. En ernstig gevaar loop om pleks van ’n leidende moontheid, gedoem te wees tot die status van ’n bakhandland. Dus maar net weer ’n kolonie van wat oorbly van die Weste (lees IMF) of meer waarskynlik van die Arabiere of Chinese - of van die hoogste bieer- die Russe?

En die plaaslike portefeulje vir die bevordering van ondverdraagsaamheid was sommer uitgekontrakteer aan die moeder van alle koloniale moonthede - die Britte. Dit was totdat Zuma en kie uitgevang is dat hulle weens onoorspronklikheid aflees van die papiertjies wat Bell Pottinger se wit gedagtekolonialiste vir hulle geskryf het.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng is reg. Ons kort ‘n leier soos die Bybelse Dawid om die land weer op dreef te kry.

“Dis net deur ’n etiese leier aan die bopunt wat ’n goeie regering kan gedy. Dawid was een van Israel se bestes danksy sy aanhoudende soeke na goddelike etiek. Soos Nelson Mandela, wat gesê het hy sal doodgaan eerder as om rassisties te wees teenoor wit mense of om in ’n stelsel te woon waarin wit mense rassisme teenoor swart mense uitoefen,” se^ Mogoeng.

Of so ’n leier op die ANC-kandidatelys is, is ’n ope vraag. Intussen kan elke Suid-Afrikaner maar gerus sy of haar eie Dawid of minister van vreugde en verdraagsaamheid wees om die nodige verskil te maak.

*Beukman is redakteur van Beeld

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Rubrieke  |  Menings  |  Ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.