Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Misdaad: Wat is fout met SA?

Die uitreiking van die misdaadstatistieke is belangriker as enige ander politieke geleentheid op die kalender, selfs die president se staatsrede.

Dit is so omdat byna almal in die land al direk deur misdaad geraak is of ’n familielid of kollega ken wat deurgeloop het. Die aankondiging is dus vir ons almal van belang. Dit help ons ook om misdaadneigings in perspektief te plaas, want elke groep meen mos hy het meer slagoffers as enige ander groep.

In Suid-Afrika word 57 mense daagliks vermoor en 109 verkrag. Dis skrikwekkend. Dit maak regtig nie saak watter groep geraak word nie, al is dit kommerwekkend dat moord op vroue en kinders toeneem.

Ek weet ons moet oudpres. Jacob Zuma nie vir alles blameer nie, want die misdaadsyfer was al voor sy ampstermyn hoog. Maar sy stelselmatige aftakeling van die strafregstelsel het ongetwyfeld tot ons huidige situasie bygedra.

Een van sy eerste aksies as president was om die Skerpioene – destyds ’n doeltreffende eenheid van ondersoekers en aanklaers – te teiken. Hy het dit bloot gedoen omdat hulle hom ondersoek en vervolging aanbeveel het.

Dít het hy opgevolg met die wegkalwing van die nasionale vervolgingsgesag, waar hy bevoegde, eerlike aanklaers deur sy eie lakeie vervang het. Dieselfde modus operandi is gevolg met die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en algemene intelligensiedienste.

Hy het die Skerpioene vervang deur die tandelose Valke, met sy getroue volgelinge in die leiersrolle. Hulle het geen ervaring in die hantering van ingewikkelde korrupsiesake gehad nie.

Hy het die Skerpioene vervang deur die tandelose Valke, met sy getroue volgelinge in die leiersrolle.

Dit is moeilik om te bespiegel, maar sake sou tog sekerlik nie so sleg gelyk het as Zuma nie in hierdie instellings ingemeng het nie?

Cyril Ramaphosa het dieselfde gifbeker geërf wat die ekonomie betref. Die verswakkende ekonomie is eintlik maar die laaste stuiptrekkings van die skade wat die afgelope dekade aangerig is.

Myns insiens hou die somber misdaadprentjie regstreeks met die swak ekonomie verband. Dis moeilik om te sien hoe misdaadvlakke gaan daal solank die ekonomie nie verbeter nie. Die ekonomie het eenvoudig nie na verwagting herstel nie en daarmee saam het ons nou ’n resessie, wat hoofsaaklik deur die landbou-afswaai veroorsaak is.

Daar is ’n uitdrukking wat lui dat die armes eendag so honger gaan wees dat net die rykes gaan oorbly om te eet.

Ons het selfs voor die resessie-aankondiging geweet die werkloosheidsvlak is die hoogste in jare. Dit maak net sin gegewe die omvang van afleggings in die myn- en landboubedryf. Dit alles het nog groter ongelykheid meegebring terwyl Suid-Afrika reeds as die ongelykste gemeenskap ter wêreld bevestig is.

Daar gaan geen vrede wees vir dié wat het terwyl daar ’n toename in arm en werklose mense is nie. Ek probeer misdaad nie regverdig nie, maar in ’n ongelyke gemeenskap sal die gemarginaliseerdes aanhou baklei vir toegang tot hulpbronne. Hulle sal dit deur middel van aanvaarde metodes doen, soos onderwys of entrepreneurskap, of deur onkonvensionele maniere, soos om te steel of wetgewing te probeer deurvoer wat ryk mense straf.

Daar is ’n uitdrukking wat lui dat die armes eendag so honger gaan wees dat net die rykes gaan oorbly om te eet. Dis waarop ons afstuur.

Ons kan net hoop en bid dat wie ook al ná die verkiesing die mag oorneem, met ’n behoorlike ekonomiese plan vorendag kom. Maar voordat ons daar kom, moet ons selfondersoek instel. Wat’s fout met ons? Wat dryf ons tot moord en verkragting? Hoekom wend ons ons so maklik tot geweld?

Natuurlik moet die polisie doeltreffender wees, maar wat van ons? As ons geneigdheid tot misdaad die resultaat van ons apartheidsgeskiedenis is, het ons genesing nodig, asook ’n nuwe begin.

Tabane is City Press se politieke redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.