Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Misdadigers kan die stelsel klop
Rapule Tabane

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand kragtige uitsprake gemaak teen geslagsgeweld. Hy het emosioneel voorgekom terwyl hy die name van onlangse slagoffers – en wat met hulle gebeur het – voorgelees het.

Maar op die ou einde het hy geen werklike oplossing gebied nie. Dit was trooswoorde, woorde van veroordeling, woorde en nóg woorde.

Dis amper onwerklik wat die afgelope drie weke in die land gebeur het – daar was ’n skielike ontploffing van bloed en geweld. Dis nie ’n nuwe verskynsel in Suid-Afrika dat vroue en kinders vermoor word nie, maar die aantal lyke van vroue wat in bosse en onder matrasse gevind word, is net ongelooflik.

Maar behalwe skok, wat is die reaksie? Baie min, veral wat praktiese oplossings betref. Mans is veroordeel en daar is ’n beroep gedoen op hulle om selfondersoek te doen oor hul houdings en optrede teenoor vroue.

Verder niks. Ons moet erken dat hierdie misdaad in ’n baie moeilike omgewing gepleeg word. Huishoudelike geweld vind plaas in private huise tussen twee mense wat mekaar ken. Die polisie en regering kan wel baie meer doen om herhaaldelike voorvalle van huishoudelike geweld te voorkom.

Byna stil-stil was daar ook ’n stelselmatige toename in gewone misdaad soos verkragting, moord en diefstal.

Dit herinner my aan daardie tyd in die vroeë 1990’s toe die land van apartheid na ’n nuwe demokratiese bedeling oorgeskakel het. Daar was politieke geweld tussen partye en aanhoudende gevegte tussen gemeenskappe en veiligheidsmagte.

Byna stil-stil was daar ook ’n stelselmatige toename in gewone misdaad soos verkragting, moord en diefstal. Dit was sowat vyf jaar nadat die regering die doodstraf opgeskort het. Aanklaers en talle gewone mense het aangevoer daar bestaan ’n direkte verband tussen die opskorting van die doodstraf en die toename in misdaad.

In die Staat vs. Makwanyane, waarin die beskuldigde van ’n geweldsmisdaad aangekla is, het die aanklaer suksesvol geargumenteer dat die doodstraf ’n gepaste vonnis sou wees. Die saak is destyds op appèl na die nuutgestigte konstitusionele hof geneem.

Dié hof het die doodstraf geskrap omdat dit teenstrydig is met die waardes van die nuwe Grondwet. Die gronde daarvoor het ingesluit die reg op die beskerming van lewe, dat die doodstraf ’n wrede en onmenslike straf is, en dat die straf strydig toegepas is.

Die teenargument was dat ’n straf as afskrikmiddel moet dien – en dat die doodstraf aan dié vereiste voldoen.

In reaksie hierop het die konstitusionele hof beslis: “Die grootste afskrikmiddel vir misdaad is die moontlikheid dat die oortreders aangekeer, vervolg en gestraf sal word. Dit is wat in dié stadium skort met ons strafregstelsel.

“Die wet word in oneer gebring as die strafregstelsel ondoeltreffend is en misdadigers word ongestraf gelaat. Maar as die stelsel doeltreffend is en oortreders word gevang, verhoor en in ernstige gevalle onderwerp aan swaar vonnisse, sal die wet nie in oneer verval nie.”

Hierdie woorde het my lank bygebly, en ons huidige situasie het my weer daaraan herinner.

In ’n ongewone toedrag van sake was daar inhegtenisnemings in amper al die onlangse voorvalle van geslagsgeweld. Wat is die vooruitsig op skuldigbevindings en swaar vonnisse?

Te veel sake word uit die hof gegooi weens swak bewyse, getuies wat nie behoorlik ondervra is nie, staatsaanklaers wat nie ’n kat se kans staan teen peperduur private regspanne nie.

Die regering moet beter werk vereis van die polisie en aanklaers. Misdadigers moet die wete dat hulle swaar gestraf gaan word, vrees. Te veel oortreders is arrogant en vol selfvertroue dat hulle die stelsel kan klop.

  • Tabane is die politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Rapule Tabane  |  Misdadigers  |  Misdaad  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.