Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Miskien moet ons eerder oor die weer praat
Prof. Gerhard van Huyssteen

Skryf Linda Bothma vir my in ’n e-pos: “Kan jy glo dat ek op my beleë ouderdom sukkel met die woord ‘weerga’! Ek vermoed dat ‘weerga’ verband hou met ‘weergawe’, maar wat is die verskil?”

Die liewe 71-jarige tante kry terstond ’n tegnologieles van my: “Haas Tannie na Tannie se selfoon, tablet of Windows 10-rekenaar, laai die VivA-app af, en teken in op die nuutste weergawe van die HAT.”

Skryf sy terug: “Ja, ja, dié het ek al laaaaankal gedoen, en ek kan sien dat ‘weergawe’ se sinoniem ‘reproduksie’ is en dat ‘weerga’ se sinoniem ‘eweknie’ is. Maar ek kry niks raakgegoogle oor die verbánd tussen die twee nie?”

Ek het al by my ma geleer ’n mens moenie ’n tannie op haar voorskoot takseer nie.

My ma bak en brou en brei mos deesdae vanaf Pinterest en allerhande ander geheimsinnige platforms op die ­Donker Web.

Tannie Linda is heeltemal reg: Inligting oor die verbande tussen die herkoms van “weerga” en “weergawe” is maar skrappies op die ganske web, selfs in die diep en donker ­gate.

Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (ook beskikbaar in die VivA-toepassing) verduidelik dat “weerga” oorspronklik in Middelnederlands ’n samestelling was: weder (wat “teen” beteken) + gade (wat tans “eggenoot” beteken, maar oorspronklik “gelyke” beteken het).

Jy sal dus nie sommer sê “Gertjan is my weerga” nie, maar eerder “Gertjan het geen weerga nie”...

Jou wedergade (of vandag “weerga”) is dus “jou gelyke wat teenoor/naas jou staan”.

Deesdae gebruik ons “weerga” eintlik altyd met ’n oortreffende betekenis in sinne waarin daar ontkenning- of ­negativeringswoorde voorkom, byvoorbeeld “sonder weerga” of “weergaloos”.

Jy sal dus nie sommer sê “Gertjan is my weerga” nie, maar eerder “Gertjan het geen weerga nie” of “Gertjan is sonder weerga” of “Gertjan is weergaloos”. Daar is dus niemand wat by die liewe Gertjan kan kers vashou nie.

Die woord “weergawe” het in sy oorsprong weinig met “weerga” te make, want sy grondwoord is die samekoppeling “weergee” wat beteken “herhaal wat gesê is” (soos in “iemand se woorde getrou weergee”).

In Nederlands was dit oorspronklik weder (wat “nogmaals” beteken) + geven (wat vertaal word met “gee”). Om van die werkwoord wedergeven ’n naamwoord te maak verander die klinker \e\ in ’n \a\, soos ook byvoorbeeld gebeur in “oorneem” > “oorname” (die sogenaamde ablautproses).

En in Afrikaans het die Nederlandse klinker \v\ dikwels ’n \w\ geword, soos ook in duiven > “duiwe”.

Terloops, “gawe” wat “talent” of “aanleg” beteken (soos in “die gawe om stories te vertel”) kom ook oorspronklik van geven (“gee”): dit is ’n ­talent wat vir jou gegee is. En iemand wat gaaf is? Oók van dieselfde stam geven!

’n Gawe kêrel is ’n outjie wat geskik is om gegee te word, om in die publiek aan­gebied te word.

Die gawe Gertjan is sonder weerga, want hy het die gawe om stories te vertel.

“Weergawe” se paadjie loop dus van wedergeven > wedergave > “weergawe”. Dit beteken “reproduksie”, soos in “die nuwe weergawe van ’n ou liedjie”, of “Zuma se weergawe van die werklikheid”.

Die woorde “weerga” en “weergawe” het dus in wese niks met mekaar te make nie en kan mekaar allermins in sinne vervang.

Ons kan dus nie sê “Zuma se weerga van die werklikheid is sonder weergawe” nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.