Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mkhize-kwessie kan die land ruk
Jan-Jan Joubert

Die huidige geneuk met die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het een baie goeie en vyf moontlik baie slegte gevolge.

Pres. Cyril Ramaphosa het Mkhize op verpligte spesiale verlof geplaas weens die nuus dat hegte familievriende van Mkhize nie net deur middel van hul maatskappy, Digital Vibes, ’n kontrak van R150 miljoen vir kommunikasie oor Covid-19 by die departement van gesondheid losgeslaan het nie, maar ook dat hulle betaal het vir verbeterings aan sy huis en ’n motor vir sy seun.

Die minister sê hy het nie geweet van die tender of betalings vir die huis of die ligte nie. Nou is dit seker waar dat korruptes wat erken hulle is korrup omtrent so volop is soos wit EFF-ondersteuners. Hulle bestaan, maar hulle is min.

Terselfdertyd is daar vir diegene wat valslik beskuldig word van korrupsie geen ander opsie as om dit te ontken en te wag dat die ondersoek afloop nie. Mkhize is al in die verlede vals beskuldig en dan moes die opposisie telkens om verskoning vra. Hopelik is dit weer so, dalk nie. Kom ons wag dus vir die afloop van die ondersoek.

Die goeie gevolg van Ramaphosa se optrede is die sterk boodskap wat dit stuur dat die president ernstig is oor die bekamping van korrupsie.

Die goeie gevolg van Ramaphosa se optrede is die sterk boodskap wat dit stuur dat die president ernstig is oor die bekamping van korrupsie. Hy het beslis die regte ding gedoen. Dit is die eerste gebod: Doen die regte ding.

En die tweede, wat nie hiermee gelykstaan nie, is vyf potensieel negatiewe gevolge wat kan voortvloei as Mkhize afgedank word.

Eerstens is Suid-Afrika se inentingsprogram uiteindelik op dreef – laat, maar darem. My ouers is verlede week in die Paarl ingeënt en my gemoed is sommer ligter noudat die kanse dat hulle eersdaags gaan omkap darem minder is. Miskien voel u ook so.

Baie van die sukses van Suid-Afrika se Covid-19-program word aan Mkhize se doelgerigtheid, kundigheid, persoonlikheid, gravitas, kontakte en politieke mag toegeskryf, en natuurlik is hy ook verantwoordelik vir die tekortkominge. Maar kenners hoop net dat wie in sy plek waarneem nie fokus verloor nie.

Tweedens is die gesondheidsportefeulje ook belangrik weens die hantering van die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering. Dit is ’n poten­sieel vernietigende ramp vir Suid-Afrika. Mkhize is vergeleke met baie van sy ANC-kollegas pragmaties eerder as blind-ideologies ingestel. Mens hoop enige opvolger (sou Mkhize skuldig wees) het dieselfde eienskap.

Derdens lyk die lys van potensiële opvolgers skraal. Die adjunkminister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, se impak in ’n lang loopbaan met baie poste is gering. Geen dinamiet of dinamiek waarneembaar nie.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid in die parlement, die ambisieuse dr. Sibongiseni Dhlomo, se rekord as LUR in KwaZulu-Natal is verby bedenklik. Al LUR vir gesondheid met enige teken van dryfkrag is dr. Phophi Ramathuba in Limpopo, en sy is nie uitstaande nie. Anders sal iemand van buite die ANC ingebring moet word.

Vierdens is Mkhize ’n besliste aanspraakmaker om Ramaphosa as president op te volg, veral gegewe die lustelose en omstrede aard van adj.pres. David Mabuza. As Mkhize nie ’n opsie bly nie sal ’n ander, klaarblyklik mindere, kandidaat gevind moet word.

Laastens is Mkhize se steun aan Ramaphosa ’n belangrike faktor in KwaZulu-Natal, waar die minister eens ’n baie suksesvolle premier was. Die Zuma-faksie sal juig as Mkhize verdwyn. Die impak hiervan op die interne ANC-magspolitiek sal onteenseglik wees.

Daar is geen politieke vrypas vir korrupsie nie. En as Mkhize as gevolg daarvan moet gaan, sal die invloed vir ons land omvattend wees.

Joubert is ’n vryskut-joernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.