Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mnr. die president, die oplossing lê in Bonnievale

Wat doen mens as jy op ’n dorp woon waar daar heeltemal te min klaskamers vir al die hoërskoolleerlinge is? Jy maak met baie moed, geloof en inisiatief planne, en met harde werk bou jy eenvoudig ’n nuwe skool. Jeanette de Klerk-Luttig vertel meer.

Die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool op Bonnievale.Foto: PHILIP JONKER

In 2017 was daar in die Bonnievale-vallei meer as ’n duisend hoërskoolleerlinge – maar met net plek vir 350 – wat beteken het dat die leerlinge na buurdorpe moes gaan vir hul hoërskoolloopbaan. Nie alleen kon ouers dit moeilik bekostig nie, maar die heen en weer pendel het ook baie van die leerlinge se tyd opgeneem.

’n Visie van ’n geen-uitval­skool wat eiewaarde herstel, karakter bou en entrepreneurs ontwikkel, het in die harte van ’n groep vriende in Bonnievale gegroei. Die wynboer Philip Jonker, Wilhelm de Wet, ’n aktuaris, en Curren Kühn, ’n ingenieur, het saam met nog 12 Bonnievalers van uiteenlopende agtergronde leiding geneem om dié visie waar te maak.

Saam met die hele gemeenskap van Bonnievale is ’n skool gebou waar leerlinge se potensiaal en karakter ontwikkel kan word en wat die deure na ’n beter toekoms kon oopmaak.

Die pragtige skoolterrein van die Jakes Gerwel Tegniese Hoër­skool – wat vernoem is na wyle prof. Jakes Gerwel, ’n akademikus en anti-apartheidsaktivis – is gebou op 12 ha aan die oewer van die Breërivier – tussen wingerde en die woonbuurte Mountain View en Happy Valley.

Karakteropvoeding is ’n belangrike prioriteit vir die skool.

Selfs die ligging is simbolies van die versoenende rol wat die skool speel om verskillende wêrelde bymekaar te bring – vir die toekoms van die dorp se jeug. Die skool is gebore uit die gedeelde waardes van onvoorwaardelike liefde, eenheid, tweede kanse, herstel, genesing, respek, nederigheid en geloof.

Die gemeenskap was van die begin af betrokke by die skool. Ouers het oor naweke die terrein skoongemaak, wingerdstokke uitgekap en bourommel verwyder. Ook die rugbyspan van die dorp het hul spierkrag gebruik om die skoolgrond te help skoonmaak. Daar is saam gewerk en gebid.

’n Argitek van Bonnievale het die planne gratis opgetrek en ingenieurs, grondverskuiwers en bourekenaars het almal gratis gewerk.

Die skool funksioneer in ’n samewerkingsooreenkoms met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD): die terrein en 60% van die koste om die skool op te rig (R55 miljoen) moes self gevind word – die ander 40%, asook die onderwysers se salarisse, word deur die WKOD gedra.

Dis ’n Afrikaanse skool en die enigste skool in die Wes-Kaap wat ’n tegniese, landbou- en vaardigheidstroom op verskillende vlakke aanbied. Die ouers betaal nie skoolgeld nie.

Die skool bied stewige bou-stene vir baie uiteenlopende beroepe, onder meer ingenieurswese, onderwys, motorwerktuigkunde, loodgietery, die wynbedryf en die kosbedryf. So word die leerlinge voorsien van die vaardighede wat die arbeidsmark nodig het en word hulle bemagtig om eendag finansieel onafhanklik te wees.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se 2018-syfers is 52,4% van alle jong mense tussen 15 en 34 in Suid-Afrika werkloosDaar is net te veel jong mense wat na matriek doelloos rondsit sonder werk omdat hulle nie die nodige kennis of vaardighede het waarmee hulle ’n werk kan kry en hou nie. Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede verlede maand die tekort aan tegniese skole erken en aangekondig dat sekere openbare skole omgeskakel gaan word na tegniese skole.

Karakteropvoeding is ’n belangrike prioriteit vir die skool. In die woorde van Kühn: “By JGT is ons eerste prioriteit om te belê in die karakter van die leerlingeOns wil nie net hul visie verbreed nie, maar ook hul skouers.”

’n Skool soos dié is ’n plek waar jong mense kennis en vaardighede kry vir die toekoms, hul karakter gebou word sodat hulle met respek, integriteit, nederigheid, selfdissipline en eerlikheid leef.

Die personeel is bewus van die multidimensionaliteit van karakterbou, asook dat effektiewe karakteropvoeding berus op die sosiale en emosionele verhoudings wat in die skoolkultuur ingebed is. Karakterontwikkeling en die bou van gesonde vertrouensverhoudings met mentors is die twee hoek-pilare van die skool. Daar is weekliks ’n karakterbou-periode waar leerlinge in hul men-torgroepe verdeel om op karakterontwikkeling te fokus.

Onderwysers is voltyds beskikbaar om leerlinge te help met onder meer karakterontwikkeling en te help met krisisse en ander uitdagings. Leerlinge kry elke middag ’n bord voedsame kos en hulle kan hul huiswerk in klaskamers gedurende die studiesessie doen. Die sportvelde is onlangs voltooi en spanne kan begin oefen vir die seisoen wat voorlê.

Natuurlik is daar nog talle uitdagings: die skoolsaal en van die klaskamers moet gebou word en daar moet nog buitengewone tradisies gevestig word. Baie van die leerlinge kom emosioneel gehawend by die skool aan en het berading nodig voordat hulle op hul skoolwerk kan fokus. Die agterstande waarmee talle van die leerlinge van die huis af kom, neem soms lank om uit te wis en ’n werkkultuur moet nog by sommige leerlinge gevestig word.

Maar in die oë van die ouers en die leerlinge is daar hoop vir ’n beter toekoms – vir talle ’n wonderwerk wat waar geword het in die gemeenskap.

’n Skool soos dié is ’n plek waar jong mense kennis en vaardighede kry vir die toekoms, hul karakter gebou word sodat hulle met respek, integriteit, nederigheid, selfdissipline en eerlikheid leef. Dis ’n skool wat bydra om die land se probleme van werkloosheid, ongelykheid, misdaad en korrupsie hok te slaan. Kan ons nie honderde sulke skole in ons land bou nie? Mnr. die president, die oplossing kan u in Bonnievale vind.

  • Vir meer inligting oor die skool, besoek www.jgt.co.za.
  • De Klerk-Luttig is van die Kantoor vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.