Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moderne profete moet vir keiser wys hy is kaal

In die ou dae het profete uit die kerk aan die keiser vertel hy is kaal. Deesdae kom sulke stemme nie meer uit die kerk nie, maar eerder uit die media, skryf Dawid Kuyler.

Dr. Beyers Naudé sal onthou word as een van die profete in die dae van apartheid. Foto: Gallo Images

Die profete van die Ou Testament was besonderse mense. Hulle het uit verskillende beroepe en stande gekom, maar het veral een ding in gemeen gehad. Hul groot taak was om aan die maghebbers van hul tyd en ook aan die godsdienstige leiers, magsvergrype uit te wys.

Konings is aangespreek wanneer hulle die mense verdruk het en hulle godsdienstige praktyke ingevoer het wat Israel laat afdwaal het van die wet van God.

Saam met die uitwys van onreg is ook oordeel aangekondig. Hierdie profete was nie gewild onder die maghebbers nie en moes dikwels ’n duur prys betaal.

Selfs in die Nuwe Testamentiese tyd het Johannes die Doper vir Herodus aangespreek omdat hy sy broer se vrou afgevat het. Die gevolg was dat Johannes gevange geneem en later onthoof is.

Gedurende die dae van apartheid het die kerk ’n profetiese rol vertolk en by monde van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en teoloë soos Desmond Tutu, Frank Chikane, Beyers Naudé en Allan Boesak is vergrype en onreg uitgewys.

Ná die aanbreek van demokrasie in 1994 het die kerk se profetiese stem stil geword omdat die leidende bevrydingsteoloë almal regeringsposte gekry het en hulle ’n teologie van die mag ontwikkel het.

Hierdie teoloë en baie leraars wat hulle ondersteun het, het in die tagtigerjare met die mag van die staat te doen gekry en is sonder verhoor toegesluit en ingeperk. Binne die kerk is profete ook verdag gemaak. Mense in magsposisies hou nie daarvan om ontmasker te word nie.

Ná die aanbreek van demokrasie in 1994 het die kerk se profetiese stem stil geword omdat die leidende bevrydingsteoloë almal regeringsposte gekry het en hulle ’n teologie van die mag ontwikkel het.

Dit het lank geneem vir die kerk om weer ’n profetiese stem te laat hoor. In die regeringstydperk van oudpres. Jacob Zuma het die SARK weer begin om profeties op te tree. Hul verslag oor staatskaping in 2017 is ’n bewys daarvan.

Hedendaagse kerklike profete soos Shepherd Bushiri en kie val in ’n heeltemal ander klas. Hulle profeteer nie, maar profiteer op die liggelowigheid van mense wat hulle ryk maak.

Hulle spreek nooit onreg in die gemeenskap aan nie, maar wy hul energie daaraan om deur sogenaamde wonderwerke mense so ver te kry om hul luukse en uitspattige lewenstyl te ondersteun.

Moderne profete eerder in media as in die kerk

Adjunkhoofregter Raymond Zondo se kommissie van ondersoek na staatskaping se werk sou baie moeiliker gewees het as dit nie vir die harde werk van ondersoekende joernaliste was nie. Foto: Gallo Images

Waar is ons moderne profete? Ek vind die moderne profete nie meer in die kerk nie, maar buite die kerk.

Ek vind hulle onder die joernaliste wat sake vreesloos en deeglik ondersoek en onreg uitwys. Ek vind hulle by die AmaBhungane Centre for Investigative Journalism.

Ek vind hulle onder Adriaan Basson, Marianne Tham, Pauli Van Wyk, Max du Preez, en Pieter-Louis Myburgh maar net ’n paar te noem.

Netwerk24 se span help ons as lesers om perspektief te kry op gebeure in die land.

Ek dink die maghebbers is banger vir ondersoekende joernaliste as vir die gereg.

Hierdie mense in die media doen wonderlike werk. Hulle kry nie die salaris en byvoordele van die generaals en direkteurs in die veiligheidsagentskappe, nasionale vervolgingsgesag en die polisie nie, maar hulle doen wat tien ontplooide kaders met vet salarisse nie kan doen nie.

Sonder hulle sou baie van die onthullings wat voor die Zondo-kommissie dien, nie moontlik gewees het nie.

Ek dink die maghebbers is banger vir ondersoekende joernaliste as vir die gereg. Dikwels dreig hulle die joernaliste met die hof vir naamskending, maar dit is waar dit bly. Net dreigemente.

Dawid Kuyler

Soos in die ou tyd, is daar ook valse profete. Die Ou Testament vertel ons van hulle. Hulle het net gesê waarvan die maghebbers gehou het. Valse profete was baie sigbaar in die kerk gedurende die tyd van apartheid, maar ook baie sigbaar in die Afrikaanse media.

Veel het nie verander nie. Die ANC se infiltrasie van die SABC het ondersoekende joernaliste gemuilband en verdryf. Daardie gebeure is nog vars in ons geheue. Onlangs het ons gehoor dat Iqbal Survé se African News Agency R20 miljoen ontvang het om net goeie stories oor die ANC te versprei.

In ons tyd het sosiale media ’n bron van fopnuus geword wat oral as die waarheid versprei word. So word ons ook ingetrek om deur plasings op die sosiale media en op WhatsApp aandadig te word aan valse profesieë.

Wat sê en doen die kerk vir ons moderne profete? Van hierdie joernaliste is ook lede van kerke. Ek dink dit is tyd dat die kerke die moderne profete onder ons sal erken en ondersteun.

Ek kan myself nie indink hoe die kerk sou funksioneer sonder die moderne profete in die joernalistiek nie. Die kerk het weinig of geen profete wat in ons huidige situasie ’n profetiese woord spreek nie.

Kerklike media bepaal hulself meestal by die verslagdoening van kerklike sake en veral interne geskille. Vanaf die kansels is daar leraars wat die situasie in Suid-Afrika takel, maar gewoonlik gegrond op wat hulle maar lees wat ondersoekende joernaliste skryf.

Die gevaar is dat binne die Afrikaanse kerke ook die profetiese woorde dikwels mank gaan aan selfondersoek en selfkritiek. Ons wys uit wat die ANC verkeerd doen, maar swyg oor ons eie onreg.

Die keiser gaan nie sommer erken hy is kaal nie.

Dalk moet die kerk se leiers gespreksgeleenthede reël met ons ondersoekende joernaliste en hulle bedank vir die werk wat hulle doen. Dalk moet ons hulle vra watter rol kan die kerk speel.

Die kerk kan gerus ’n paar pryse instel vir die moderne profete van ons tyd. Ons kan vir hulle bid, maar ons kan hulle ook vereer as blyk van waardering vir hul werk en moed.

Sonder hulle gaan almal en die kerk is daarby ingesluit, ’n moeilike toekoms tegemoet in Suid-Afrika. Sonder mense en instellings wat leuens ontbloot, gaan die waarheid nie seëvier nie.

Laat ons maar erken: Die keiser gaan nie sommer erken hy is kaal nie. Daarvoor het ons moderne profete nodig.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Allan Boesak  |  Desmond Tutu  |  Shepherd Bushiri  |  Frank Chikane  |  Apartheid  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.