Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Modise se diere: Wie staan pa?
Thandi Modise, speaker in die parlement, in die Potchefstroomse streekhof by haar advokaat, Dali Mpofu. Foto: Susan Cilliers

Onlangs is ’n aansoek toegestaan dat die dieremishandelingsaak teen Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, teruggetrek word. Adv. Dali Mpofu SC, haar regsverteenwoordiger, het die hof oortuig dat sy nie verantwoordelik gehou kan word vir die verwaarlosing van die diere nie. Sy was nie aanwesig op die plaas nie en glo ook nie bewus van die haglike omstandighede en lyding van die diere nie. ’n Werker wat gedros het, moet oënskynlik die skuld kry.

Nadat die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NRDBV) bewus geword het van die situasie op die plaas, is ’n klag van diereverwaarlosing en -mishandeling in Julie 2014 teen Modise­ ingedien. Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het besluit om haar nie te vervolg nie, waarna AfriForum besluit het om die saak op te neem en Modise privaat te vervolg.

Dit is ’n saak wat oorwoeker is met politieke bo- en ondertone. Al die partye het politieke byltjies om te slyp. Dit lei geen twyfel dat Modise se ontslag in sekere sektore van die samelewing as ’n oorwinning teen wit regse magte gesien sal word nie. Mpofu se beredenering dat die saak ’n politieke slenter is en Modise se uitspraak dat sy “nooit ’n wit mens sal aanstel om haar plaas te bestuur nie” spreek juis daarvan. Soortgelyke politieke impulse geld seker ook vir AfriForum, wat nie die vervolging belangeloos onderneem het nie.

Hein Willemse

Maar waar lê die morele verantwoordelikheid? Wat ook al Mpofu se tegniese pypkan wat die hof oortuig het, moet AfriForum gelyk gegee word. Wie gaan uiteindelik verantwoordelik gehou word vir die diere se lyding? Is dit die ongeskoolde, onervare, onbesoldigde, verhongerde werker wat gedros het, se skuld of dié van die baas van die plaas?

Die argeloosheid waarmee met dierelyding omgegaan word, spreek van etiese tekortkominge. In beskouings wat antroposentries of mensgesentreerd is, het diere slegs waarde as nut vir menslike gebruik. Maar diere – die 50 varke, skape, hoenders, ganse en “225 ander diere wat van kant gemaak is” – het as lewende wesens intrinsieke waarde gehad.

Die verskille in perspektief kan vanuit ’n onverwagte oord onderstreep word. Pres. Cyril Ramaphosa het vandeesweek die vervaardigers en regisseurs van die veelbekroonde My Octopus Teacher gelukgewens met hul Bafta- en Oscar-prys vir die beste vollengte dokumentêre rolprent. In ’n twiet skryf hy die dokumentêr bied ’n blik op die skoonheid van die natuur en die diversiteit van Suid-Afrika se oseane en ekostelsels. Vroeër verbind hy sy regering tot die bewaring van die natuurlike omgewing en verseker hy Suid-Afrikaners dat ons oseane ’n na­sionale prioriteit is.

Wat ook al verder met die Modise-saak gebeur, moet onthou word dat nagenoeg 300 diere dood is omdat niemand omgegee het om hul intrinsieke waarde as lewende wesens te respekteer nie.

Ramaphosa se sentimente is gemeenplasig en geyk, maar verwoord tog ’n basiese sin van moderne ekologiese moraliteit. Hy lewer wel nie kommentaar op ’n ondertoon van die rolprent nie, naamlik dat dit beskou kan word as ’n illustrasie van die intrinsieke waarde van niemenslike lewe. Die seekat leef haar lewe onafhanklik van menslike voorbepaling en maak slegs op haar eie voorwaardes kontak met die mens. Die seekat het waarde in sigself, nie as rou kos wat wag om in die pot te beland nie.

Wat ook al verder met die Modise-saak gebeur, moet onthou word dat nagenoeg 300 diere dood is omdat niemand omgegee het om hul intrinsieke waarde as lewende wesens te respekteer nie. Dié oneerbiedigheid jeens diere strek verder as net ’n politieke tweestryd. Dit sê iets onrusbarends oor hebsug, die uitbuiting van ons natuurlike omgewing en die weiering om etiese verantwoordelikheid te aanvaar.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie in die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Menings  |  Hofsaak  |  Thandi Modise  |  Diere  |  Stemme  |  Brandpunt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.