Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moedskep vir die toekoms

Suid-Afrikaners se moreel was lanklaas so laag.

Met “moreel” bedoel ek ’n positiewe gesindheid, hoë verwagtinge, hoop vir die toekoms en energie om die toekoms aan te pak en ’n sukses daarvan te maak.

(“Moreel” moet onderskei word van “moraal”, wat verwys na mense se algemene sedelike oriëntasie.)

“PW Botha was iets van ’n bullebak wat hom geensins deur goeie raad van stryk laat bring het nie.”Foto: GETTY

Ons kan ons landgenote beslis nie kwalik neem dat hul moreel in duie gestort het nie.

My woordlimiet vir hierdie rubriek beperk ’n voldoende opgawe van alles wat skeefloop.

Moord en geweld – op plase, in dorpe en in townships – vind plaas op ’n skaal wat die indruk skep van vrees dat dit uit die mode sal raak.

Dienslewering, veral op munisipale vlak, het ’n ongeëwenaarde vlak van ondoeltreffendheid bereik. Die gevolge daarvan (soos riool in die riviere en strate) bedreig mens, dier en omgewing.

As ons die 1980’s kon oorleef, kan ons enigiets oorleef – ook vandag se krisis. Dieselfde soort intervensies is steeds moontlik. Ons moreel mag maar lig.

Die dinamo van ’n doeltreffende moderne ekonomie – behoorlike, veilige en standhoudende kragvoorsiening – is op die punt om in duie te stort.

Op kort termyn is dit waarskynlik ons ernstigste krisis, hoewel nie al een nie.

Die koerante vertel ons dat slegs een uit vyf onderwysers ’n graad het, en die meeste minder as 40% van hul tyd in hul klas deurbring. Dit vertaal in ’n semi-ongeletterde skoolbevolking.

Intussen is ons paaie ruimtes van roekelose gedrag, noodlottige ongelukke en transitorooftogte. In die Zuma-jare het korrupsie die norm geword. Kubermisdaad en finansiële bedrog vind op ’n ongekende skaal plaas.

En dan trakteer die Proteas en ons Superrugby-spanne ons boonop met moontlik die swakste vertonings nog.

So kan ek voortgaan, maar ek is nie deur Prozac-vervaardigers aangemoedig om dié rubriek te skryf nie. My moedinpratery is daarop gegrond dat ek en my geslag iets ergers oorleef het as vandag se krisisse: Ons het die 1980’s oorleef.

Enigeen wat dít kan sê, gee nog nie moed op oor vandag nie.

Waarom was die 1980’s erger? Ons was die muishond van die wêreld. Ons was blootgestel aan volgehoue en verergerende ekonomiese sanksies.

In ’n enkele toespraak in 1985, waarvoor valslik propaganda gemaak is dat dit die “Rubicon” na ’n Nirvana anderkant apartheid sal oorsteek, het PW Botha daarin geslaag om die waarde van die rand sy grootste nekslag nog toe te dien.

Botha self was iets van ’n bullebak wat hom geensins deur goeie raad van stryk laat bring het nie.

Dit was toenemend onduidelik watter sin voortgesette deelname aan parlementêre politiek nog het. Frederik Van Zyl Slabbert en vriende het gevolglik die parlement in 1986 verlaat.

Wat meer as enigiets anders vir lae moreel gesorg het, was die veiligheidsituasie. Al was die Weermag sterk en doeltreffend, het hulle self besef dat geen militêre oplossing vir ons probleem gevind kan word nie.

Soos die dekade gevorder het, het ’n volskaalse burgeroorlog al hoe meer onafwendbaar gelyk.

En toe, in 1989, kom ’n ingryping wat niemand verwag het nie en alles binne maande verander het.

Prof. Anton van Niekerk

Botha kry ’n beroerte en word vervang deur FW de Klerk – iemand met (in daardie sta­dium) ’n uiters konserwatiewe beeld.

Talle van ons het gevrees dat ’n ooreenkoms met die KP-leier, dr. Andries Treurnicht, sy eerste handeling sou wees.

Genadiglik het De Klerk besef hoe uitsigloos ons situasie is en hoe afhanklik hy van die samewerking van ’n moreel-politieke reus soos Nelson Mandela sou wees indien ons die oorgang relatief geweldloos wou bereik.

As ons die 1980’s kon oorleef, kan ons enigiets oorleef – ook vandag se krisis. Dieselfde soort intervensies is steeds moontlik. Ons moreel mag maar lig.

  • Van Niekerk is professor in filosofie en direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch.  
Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Toekoms  |  Energie  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.