SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Moeilike geboorte lê voor vir wet oor grond

As ’n vrou nie normaal kan kraam nie, moet ’n keisersnit uitgevoer word, want die kind moet gebore word.

Dié aanhaling wat die ontslape struggle-veteraan Harry Gwala op ’n vredesaamtrek in 1991 gebruik het, is twee weke gelede deur Sibusiso Mncwango, NFP-LP, aangehaal in die debat voordat die Nasionale Vergadering die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee goedgekeur het wat grondonteiening sonder vergoeding aanbeveel.

Philda Essop

Die saadjie vir dié “baba” genaamd grondonteiening sonder vergoeding is in Maart vanjaar in die NV geplant toe die ANC en die EFF, gesteun deur onder meer die UDM, NFP en die PAC, ’n mosie aanvaar het dat die Grondwet gewysig moet word.

Die “swangerskap” het aanvanklik goed begin met openbare sittings wat landwyd plaasgevind en skriftelike voorleggings wat van verskeie organisasies en akademici ontvang is. Die openbare sittings was goed verteenwoordig en mense het uit alle oorde hul mening kom lug oor of hulle dink die Grondwet gewysig behoort te word of nie. Die komitee het ook organisasies die geleentheid gebied om mondelinge insette te lewer oor hul voorleggings.

Die swangerskap beloof egter om voortaan móéilik te wees – die eerste komplikasie is reeds ondervind en talle ander lê nog voor.

Die eerste komplikasies in die vorm van ’n hofgeding het ingetree kort nadat die komitee sy finale verslag goedgekeur het waarin dit grondonteiening sonder vergoeding aanbeveel.

Opposisiepartye soos die DA, IVP, VF Plus, ACDP en Cope het luidkeels teen die proses van die komitee beswaar gemaak en dit as ’n “algehele klug” afgemaak omdat nie al die skriftelike voorleggings oorweeg is nie.

AfriForum het hom tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend om te keer dat die NV die verslag aanvaar, maar sy aansoek was onsuksesvol.

Met die aanvaarding van die verslag deur die NV gaan die “swangerskap” vroeg aanstaande jaar ’n nuwe fase betree wanneer ’n parlementêre ad hoc-komitee onder leiding van die bekwame ANC-LP en voormalige minister van landbou, Thoko Didiza, die wetsontwerp moet saamstel om die Grondwet te wysig. Dié veelpartykomitee sal verantwoordelik wees vir die bewoording van die wysiging, maar daar is reeds sprake dat sy sperdatum van 31 Maart te ambisieus is.

Die volgende komplikasie – die bewoording van die wysiging – gaan beslis vir sooibrand sorg.

Dit was duidelik toe die ANC herhaal het dat hy ’n gemengde stelsel van grondeienaarskap – private besit, kommunale besit en staatsbesit – voorstaan.

Die EFF wil egter álle grond nasionaliseer – hulle glo die staat moet volle eienaarskap van die land se grond hê. Die ANC by monde van Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het dit egter duidelik gestel dat die ANC nie aan dié vereiste van die EFF gaan toegee nie.

Die volgende komplikasie – die bewoording van die wysiging – gaan beslis vir sooibrand sorg.

Grondhervorming in Suid-Afrika is ’n noodsaaklik proses – dit móét plaasvind. Die huidige patrone van grondeienaarskap ten gunste van een rassegroep is onvolhoubaar. Die grond moet gelyk verdeel word.

Vir dié “kind” om suksesvol in die lewe gebring te word, moet daar fyn gelet word op die proses vorentoe. Die ad hoc-komitee moet onberispelik wees sover dit alle prosesse aangaan. Enige verdere komplikasies moet vermy probeer word.

Wanneer die kraampyne begin, sal “dr.” Cyril Ramaphosa slaggereed moet staan om te verseker dat die geboorte suksesvol is. Dit is in nasionale belang dat die “kind” almal se kind is – soos die Afrikagesegde lui: Jou kind is my kind.

Meer oor:  Philda Essop  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.