Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moeilike tye laat ons dalk werklikheid verstaan

Hoe sal ons die tyd van Covid-19 onthou? vra Leslie van Rooi. Vir wat nou gebeur of vir wat daarna gebeur het?

Mense stap oor ’n verlate Adderleystraat in Kaapstad. Foto: Reuters

Die wêreldkrisis oor die Covid-19-pandemie neem steeds toe en dit is duidelik dat die krisis, soos die virus, vele tentakels het.

’n Mens sou hewige kritiek kon lewer teenoor lande en regerings waar die bekamping van die virus te laat en te stadig begin het, want hier is die invloed op mense – en daarmee saam ook die ekonomie – dalk erger. As Suid-Afrikaners hou ons nog asem op om te sien wat in ons land sal gebeur. Dit is immers duidelik dat ons versigtige optimisme binne enkele dae kan verander.

In die konteks van Suid-Afrika is daar egter ’n paar sake wat uitstaan wat ons nie moet miskyk nie. Dit is veral hierdie aspekte wat hoop by ons laat.

Wanneer laas het ons goed gefundeerde besluite gesien? En kan ons onthou wanneer politieke partye in ons land só saam kon werk?

Die werk wat ons navorsers doen, in terme van navorsing en die oordra van kennis, is uitstekend. Prof. Salim Abdool Karim en prof.Jantjie Taljaard help ons om, op grond van die wetenskap, beter om te gaan met die krisis. Bowenal is dit ’n beoefening van die wetenskap wat nie losstaan van ’n verstaan van menswees wat ook beïnvloed word deur die ekonomie nie.

Verder is dit duidelik dat veral die top-orde van ons regering nie skroom om raad te aanvaar van verskeie kenners uit verskeie sektore nie.

Wanneer laas het ons goed gefundeerde besluite gesien? En kan ons onthou wanneer politieke partye in ons land só saam kon werk? Die nood-leer-bid-effek lei dalk selfs daartoe dat ons minder tyd sal mors met moeilike besluite oor semi-staatsinstellings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens.

Daar is geen twyfel nie dat daar vir ons uiters moeilike tye voorlê. Ons sal waarskynlik vlakke van swaarkry beleef wat ons nie ken nie. Daarom is dit uiters belangrik om daarop te fokus om die impak van die krisis op alle fronte te beperk. En nie net vir vandag nie, maar ook vir die dae wat kom.

Samewerking is verblydend

Leslie van Rooi

Daarom is dit ook verblydend om te sien hoe verskeie rolspelers saamwerk.

Dink maar aan die sterk bande wat daar nou tussen die staatsdiens en die private sektor is. Dink maar aan hoe ons universiteite ’n kernrol speel om die breër samelewing te ondersteun.

In die algemeen skroom Suid-Afrikaners nie om mekaar te help nie. Wat ons nou sien, bevestig hierdie werklikheid.

Die benadering van hulp oor grense heen, vir die eerste keer in lang tyd, het onlangs nog meer duidelik geword in ’n vergadering in Stellenbosch. ’n Dokter wat die provinsiale departement van gesondheid verteenwoordig het, het te kenne gegee dat hy vir die eerste keer in ’n baie lang tyd in direkte kontak is met amptenare en kollegas binne die MediClinic-struktuur.

Ons wil nie sulke “goeie-nuus”-moontlikhede net nou sien nie, maar wil hê dit moet verder gaan en beslis langer aanhou.

Dit is so dat die meeste van ons van mening is dat Suid-Afrika betreklik vroeg en uiters sinvol reageer het om die aankomende korona-verwante krisis te probeer bestuur. So is ons byvoorbeeld ingeperk en probeer ons hard om sosiale distansiëring te handhaaf.

Daarmee saam moet ons natuurlik vinnig begin dink oor wat die invloed van sosiale distansiëring op lang termyn op ons psiges kan wees – wat sal die effek wees van grense wat gesluit het, noodvlugte om mense terug na hul land van herkoms te neem, ’n welsynsverstaan van ons en hulle en ’n soeke na ’n oplossing byna slegs in ons eie konteks sowel as die drang na ’n uitwys van wie in ons buurt siek is sodat ons op die een of ander rede dan veiliger kan voel.

Hierdie onsekerheid oor waar ons is en waar ons volgende week sal wees, kom veral ook in fopnuus na vore.

Min dinge is seker. En dinge verander byna van dag tot dag. Maar dit raak al hoe meer duidelik dat ons ’n nuwe bestel binnegaan.

Wat die invloed daarvan sal wees, sal ons nog moet sien. Hierdie onsekerheid oor waar ons is en waar ons volgende week sal wees, kom veral ook in fopnuus na vore. Fopnuus, en veral die verspreiding daarvan, is immers ook ’n manier om “sin te kan maak” van wat om ons aangaan, om die “mag van kennis” te hou en om “antwoorde” te kry op komplekse vrae.

En dit is dalk juis hier waar ons as Suid-Afrikaners met slimfone in ons hande nog ’n groot rol kan speel. Ons het toegang tot inligting wat op navorsing gegrond is. En dit is meer as moontlik om die jongste inligting te versamel. Kom ons help juis mekaar om op hierdie manier nader aan die waarheid en werklikheid te beweeg.

Wat seker is, is dat ons moeilike tye beleef. Dit is iets wat ons geslag nie sommer sal vergeet nie en wat in die toekoms beslis in boeke aangeteken sal word.

Maar dalk sal ons tog eerder hierdie tydperk onthou vir wat daarna gekom het eerder as wat ons tans beleef.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.