Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moeilikste reis nóg moeiliker in hierdie jaar
Annemarie van der Walt

Dae lank draal die titel van ’n boek wat ek nooit eens gelees het nie, in my gedagtes: The Year of Living Dangerously.

Geskryf deur Christopher Koch in 1978, speel die verhaal meestal af in die Indonesiese hoofstad Djakarta teen die agtergrond van die staatsgreeppoging van die Kommunistiese Party in 1965. Die belangrikste protagoniste is ’n joernalis, ’n diplomaat en ’n dwerg.

In ’n absurde jaar soos 2020, klink dit na nommerpas leesstof wat onmiddellik op my lysie beland van dinge om te doen in die doodsnikke van die jaar. Maar tot dan, wanneer ek sal uitvind presies wat ’n dwerg in die storie soek, gebruik ek solank my eie verbeelding om gestalte te gee aan die titel.

Dit was gevaarlik bang-lekker om na daardie eerste toespraak van die president te luister. Gits, wat ’n formidabele staatsman vir ons “dear fellow South Africans”, met so ’n stewige greep op die geskenkies van R5 miljard. Ek het van die televisieskerm na die dor en oermooi uitsig oor die Kagga Kamma gekyk en gewonder oor grens- en tydloosheid, min wetend wat wag.

Die Woordfees was pas verby, my kunstekruik vol en soos altyd was die laaste groet iets soos “sien jou by die volgende fees”. Maande later is alle hoop op die droesem, en grens die uitsigloosheid gevaarlik naby aan ’n waansin.

Teen die spertyd van die begin van vlak 5-inperking jaag die oudste dogter en haar vriend deurnag van Kaapstad Laeveld toe, al met die agterpaaie, want hulle is ’n paar uur laat. Gevaarlik, maan ek hulle, skud op, wees verantwoordelike burgers. En toe raak die drie weke nogal heel gesellig. Enersyds word inkopietogte met militêre omsigtigheid beplan; andersyds klap ons van die reëls gevaarlik in die wind en begin verrykende smokkelnetwerke. Die drie weke word vyf, die nerwe al hoe dunner, en iemand is gedurig aan’t wagstaan om seker te maak die pynappelbier ontplof nie.

Vergeet van die kiem wat jou asem wegslaan, en bedink eerder die subtiele verandering in eie en ander se gedagtepatrone en handelinge.

Hoe onbewus was ons toe nog nie van die ware gevare nie. Vergeet van die kiem wat jou asem wegslaan, en bedink eerder die subtiele verandering in eie en ander se gedagtepatrone en handelinge. Pedantiese nydigheid het onder sommige mense uitgeslaan van wie jy dit die minste verwag. Vertroue in soveel wat vertroud was, is as’t ware die niet in gesteriliseer. Afstandelikheid skiet wortel agter maskers.

Miskien was een van die gevaarlikste plekke wat ons vanjaar betree het daar waar weerloosheid nie meer weggesteek kan word nie. Het ons beter leer luister na mekaar, danksy meer beskikbare tyd? Kon ons die doofpot van dwerg-politici ómluister? Was ons genoeg ingestel op die fyn nuanses van hoe hulp gevra en aangebied word, na die stiltes tussen mekaar en alles wat nié gesê is nie in binnekamers?

“Die moeilikste reis is van mens tot mens,” onthou ons die woorde van Elsa Joubert, wat nie die veiligheid van afsondering oorleef het nie. In ’n jaar van gevaarlik leef, is dít steeds die uitdagendste ding op my lysie.

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Menings  |  Annemarie Van Der Walt  |  Inperking  |  Covid-19  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.